Friday, June 25, 2021

Committed - 6/10

Committed het drie karakters, die 190 SL, die hubare jong man en die bruid. Die milieu is nie juis 'n karaketer op sy eie nie, maar dra wel by tot die gevoel van opperste karakter ekonomie, sielsverlatenheid as iemand jou voor die kansel laat wag (op niks) en sommer 'n emosionele onbevoegheid aan die jong man se kant. Die fliekie kry dit wel reg om met 'n baie eenvoudige lyn, nie te komplekse dialoog nie (van dit is in Grieks), en eintlik geen aksie nie om die aandag te behou tot op die einde. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, June 19, 2021

The Misfits - 3/10

The Misfits is een van daardie flieks wat mens binne 10 minute moes ophou kyk het. Dit is power, pap en sonder fut. Een of ander vervaardiger wou hier 'n punt bewys, veral dat die gekose milieu dalk aantreklik sou wees. Die humor werk ook nie lekker nie. Saam met Bella op die Bank.


 

Friday, June 18, 2021

Les Beaux Jours - 6/10

Les Beaux Jours (Bright Days Ahead) handel nie teen 'n vinnige pas nie. Dit is ook dan net die Franse wat 'n tand-ondersoek sensueel kan laat lyk. 'n Film oor verhoudings, oudword en jonkbly. Steeds beter as wat Hollywood met hierdie tema sou doen. Meer vir die kunskring liefhebber bedoel. Saam met Bella op die Bank.



Saturday, June 12, 2021

Clarkson's Farm, Realiteit Televisie - 7/10

Vermy Clarkson's Farm beslis as jy nie van die man hou nie. Dit is wel vermaaklik op sy simpel manier. Maar mens leer eintlik saam met hom. Maar dit is die ander karakters wat beindruk met hulle eerlikheid en kennis. Saam met Bella en Anrich op die Bank.

 

Antoinette dans les Cévennes - 3/10

Antoinette dans les Cévennes begin redelik, en voel so ietwat oordrewe. Dit raak dan wel baie vervelig want mens voel nie juis wat met die dametjie (en donkie) gebeur nie. Aftog geblaas so derde in. Saam met Bella op die Bank.






Friday, June 11, 2021

Mademoiselle de Joncquières (Lady J) - 6/10

Mademoiselle de Joncquières laat mens se kop draai van al die praat al is dit alles in Frans. Selfs die titel het lang woorde. Die arme, sinnelose drommel, 'n slaaf van sy inherente natuur. En dan die berekende skurk, 'n welsprekende, laggende, pratende beeld van onskuld. Wat dan wel aan die pen ry, al is dit net die wrang smaak van vergelding en wraak. En nog erger, die gulsige, liggelowige slagoffers, Meer vir geharde kunskring fliekgangers bedoel en tog wel vermaaklik. Wens ek kon Frans verstaan. Saam met Bella op die Bank.


  

Loki, Reeks - 8/10

Loki is pure plesier, 'n ode aan superheld films en reekse. Sappige ontspanning met 'n visuele ryk milieu en allerhande sewentiger-styl toestelletjies. En heelwat skerp humor. Saam met Bella op die Bank. 



Sunday, June 6, 2021

Minamata - 9/10

Minamata kry dit reg om mens deel van die omstandighede te maak, mens stik sommer aan jou water. Sterk vertolkings deur onbekende karakters, maar ook Mnr Depp. Beslis nie vermaak nie, wel stof tot besef en nadenke. Dat 'n maatskappy sy eie so kan benadeel. Saam met Bella op die Bank.





Saturday, June 5, 2021

Max Bishop - 4/10

Max Bishop is net te amateuragtig. Dit het wel potensiaal en van die openingstonele was nogals snaaks. Ons het dit wel nie klaar gekyk nie, alles raak net te gewoon. Saam met Bella op die Bank.





À la vie (To Life) - 7/10

À la vie is 'n eenvoudige storietjie opgedra aan sterk vrouens. Ten spyte van grim omstandighede maar met 'n volhoudende sterk gees oorwin hulle, hulle omstandighede. Beslis die moeite werd. Humor, hartseer en eerlikheid. Saam met Bella op die Bank.


 


Friday, June 4, 2021

Edge of the World - 6/10

Edge of the World leer mens darem iets, ten spyte van die sterk metodiese teater gevoel. Die tonele kom realisties voor maar dan besef mens die barbare is eintlik die Engelse wat dink hulle is nie barbare nie. Nie ontspannings materiaal nie, maar tog heel kykbaar. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, May 29, 2021

To Olivia - 7/10

Mens verwag dat iemand soos Roald Dahl deur die lewe sweef op humor, grappies en koekies. Dit is wel nie so nie. To Olivia begin aanvanklik lig, raak dan heel swaar met 'n drama as finale. Hoe na alles aan die waarheid is, is seker 'n oop vraag. Beslis nie vermaak nie, eerder 'n stukkie van die lewe in 'n sprokie milieu. Saam met Bella op die Bank.



  

Friday, May 28, 2021

Flowers, Reeks - 6/10

Flowers is 'n taamlike makabere reeksie met donker humor. Dit het 'n vreemde vermaaklikheids faktor met heelwat disfunksionele karakters. Gelukkig is dit kort episodes. Waarskynlik meer vir fynproewers bedoel. Die tweede seisoen, en ook die eerste seisoen finale is nog vreemder en tot 'n mate onstellend. Dit ondersoek die donker hoekies en krakies van eksistensialisme sonder skroom. Beslis vir geharde connoisseurs bedoel. Saam met Bella op die Bank.


  

Cruella - 8/10

Cruella is vars, met 'n skopgat klankbaan en uitstekende vertolkings. Die kostuumwerk, milieu, dialoog en karakters pas allles saam vir perfekte Vrydagaand vermaak. Ek sou wel minder rekenaargrafika verkies het. Dit is 'n langer fliek maar voel glad nie uitgerek nie. Saam met Bella op die Bank.

 

Sunday, May 23, 2021

The War Below - 7/10

The War Below versteek net genoeg van die grim van oorlog om dit gemaklik kykbaar te maak. Dit is nogals 'n inspirerende stukkie geskiedenis van die "Laaste Groot Oorlog" (The Last Great War), oftewel die Eerste We^reld Oorlog. Dit is 'n sagte, gevoelvolle vertelling, met min fanfare. Beslis vir geskiedenis fynproewers bedoel. Saam met Bella op die Bank.





Saturday, May 22, 2021

Kampterrein - 4/10

Kampterrein is nie te bar nie, heel kykbaar maar ook heel voorspelbaar. Die oordrewe uitbleeding van tipiese Suid Afrikaanse gedrag en stereotipes laat mens ongemaklik giggel. Saam met Bella op die Bank.



  

Friday, May 21, 2021

The Last Vermeer - 6/10

The Last Vermeer is 'n rustige, net na die Tweede We^reld Oorlog, fliekie. Dit bevat heelwat minder van die grim van oorlog en handel meer oor die kuns en hofsaak rakende Van Meegeren. Die rolverdeling is verdienstelik met 'n getroue milieu en periode. Maklike kykmateriaal vir die tema wat behandel word. Saam met Bella op die Bank. 

 

Saturday, May 15, 2021

Hond se Dinges - 3/10

Hond se Dinges is kommon Afrikaanse, ver-onder-die-belt, bar vermaak. Dit bly wel snaaks vir 'n pap Vrydagaand op die bank. Saam met Bella op die Bank.




Friday, May 14, 2021

The Dig - 8/10

The Dig is 'n kragtoer - die film is soos 'n pragtige foto van vervloee" dae wat mens aanhou bekoor. Dit is stil, sterk en oortuigend. 'n Eenvoudige verhaal, gebaseer op ware gebeure. Perfekte rolverdeling, getroue periode en milieu. Voorbeeld van 'n kunsfliek. Saam met Bella op die Bank.




Thursday, May 13, 2021

Jupiter's Legacy, Reeks - 6/10

Wel, tussen Jupiter's Legacy, Superman and Lois en The Boys kan mens met oortuiging se^ dat dit nie maklik is om in vandag se lewe 'n superheld te wees nie. Die manne in mantels en stywe broekies moet politiek, ekonomie, risiko's en verwagtings aanhoudend bestuur. Om nie van moeilike nageslagte te praat nie. Superkragte beteken absoluut niks tydens kind grootmaak nie. Hierdie reeks het sy oomblikke, maar minder so as die ander twee hierbo. Die reeksie herinner ook ietwat aan Dawson's Creek met al die tiener hormone. Saam met Bella op die Bank.


  

Wednesday, May 12, 2021

Shadow and Bone, Reeks - 5/10

Shadow and Bone het waarskynlik indrukwekkende grafika, maar nie oortuig ons gaan die moeite doen om dit te volg nie. Dalk sal van die rekenaarspeletjie gardes dit geniet. Saam met Bella op die Bank.




The Luminaries, Minireeks - 5/10

The Luminaries is 'n kort minireeks, dalk so ietwat gemiddeld. Sal dit maar klaar kyk, ten minste is die milieu en periode interessant. Saam met Bella op die Bank.


 

Mare of Easttown, Reeks - 5/10

Mare of Easttown lyk bogemmideld goed, maar is net te realisties-donker. Ek is seker daar is uitstekende vertolkings en dialoog, maar dalk nie nou nie. Saam met Bella op die Bank.




 

The Victim, Minireeks - 5/10

The Victim lyk goed, maar nie so seker ons gaan deur hierdie een wil sit nie. Saam met Bella op die Bank.



 

Saturday, May 8, 2021

Dark Waters - 6/10

Dark Waters is 'n wel vervaardigde periode drama, gebaseer op ware gebeure. Hoe onstellend dit ookal mag wees, is hierdie beslis nie beperk tot Teflon nie. Ek is oortuig daar is verskeie soortgelyke sake en gevalle, baie onder die mat versteek en baie nog net nie ontbloot nie. Uitnemende vertolkings in 'n grim milieu. Nie vermaak nie, eerder stof tot denke. Saam met Bella op die Bank. 



 

Avenue 5, Reeks - 7/10

Avenue 5 herinner sterk aan Better Off Ted. Hierdie laat mens nie aanhoudend giggel nie, maar van die makabere grappe laat mens nogals skater. Die humor is vlymskerp, die vertolkings sterk en gepas oordrewe, en die verbasing oortuigend. Daar is 'n paar grepe wat mens moeilik gaan vergeet, veral die verwysing na Konig Tut en sy kosblikke. Saam met Bella op die Bank.  



Saturday, May 1, 2021

Ammonite - 5/10

Wel, Ammonite het sekerlik 'n stadiger pas as die waarteen fossiele vorm. Ek is ook oortuig die oormatige fokus op Mary Anning se seksuele orientasie doen juis afbreek aan wat die film probeer tuisbring - die miskenning van haar bydrae tot paleontologie. Dit verval op dieselfde manier - net van die ander kant af. Die vertolkings is sterk, uitstaande, net soos die milieu en periode. Dalk net vir geharde kunsfliekgangers. Saam met Bella op die Bank. 





Friday, April 30, 2021

Viaggio Sola (A Five Star Life) - 5/10

Viaggio Sola verlei deur die verskillende we^reldklas hotelle wat ten toon gestel word. Die lyn is gewone lewe net soos Europese film dit kan vertel. Dalk vir die meer onderskeidende fliekganger bedoel, nie hoofstroom nie. Saam met Bella op die Bank.


  


Monday, April 26, 2021

Scotland, Pa. - 5/10

Scotland, Pa. is redelike donker komedie met 'n taamlik sinlose rigting of dan bydrae. Dit is seker vermaaklik en vol lawwighede. Ten minste het ons genoeg gelag. Saam met Bella op die Bank.




Friday, April 23, 2021

Peppermint - 3/10

Urgh! Peppermint moes dit nie verby die eerste 15 minute gemaak het nie. Dit is tipiese Hollywood materiaal - vol gate, onwaarskynlik, oordadig en met die swakste einde moontlik. Hou dalk verby. Saam met Bella op die Bank.



Tuesday, April 20, 2021

Leonardo, Minireeks - 6/10

Leonardo het 'n strydige rolverdeling - van die vertolkings voel te geforseerd. Die muse is seker oulik en seksie, maar ek is nie seker of sy wel Leonardo tot groot hoogtes sou inspireer nie. Sal die egter klaar kyk, die man se lewe bly interessant. Saam met Bella op die Bank.


 




Saturday, April 17, 2021

La Chèvre (Knock on Wood) - 6/10

La Chèvre is sommer verspotte Franse komedie. Die fliekie is al redelik oud met 'n jonge Gérard Depardieu. Dit is ligte Vrydag of Saterdagaand materiaal en heel kykbaar. Verwag gekke dialoog, rukkerige waaghals arties en stroperige dames. Saam met Bella op die Bank.



Friday, April 16, 2021

The Courier - 7/10

The Courier het 'n sterk rolverdeling, geloofwaardige milieu en periode. Dit is oortuigend, en veral met die tweede helfte is die spanningslyn anvoelbaar. Nie oordadig of oordrewe nie, meer met 'n Europese gevoel verfilm. Saam met Bella op die Bank. 




Wednesday, April 14, 2021

The Nevers, Reeks - 6/10

The Nevers begin redelik goed met 'n steam punk formaat. Sal beslis nog 'n paar episodes kyk, die fantasie element is heel verteerbaar. Saam met Bella op die Bank.




 

Monday, April 12, 2021

Harley and the Davidsons, Minireeks - 5/10

Harley and the Davidsons voel baie soos 'n gedramatiseerde reeksie, maar is tog interessant. Net 3 episodes, so sal dit maar klaar kyk. Saam met Bella op die Bank.




Friday, April 9, 2021

The Vault - 6/10

The Vault is 'n minder Hollywoodse poging op 'n bekende kluis in Spanje. Hierdie is 'n skonerige film sonder vloek, seks en geweld. Dit is onderspeeld, met heelwat gapings in die lyn, maar steeds geniet mens dit. Lekker Vrydag of Saterdagaand materiaal. Saam met Bella op die Bank.



   

Sunday, April 4, 2021

Cyrano, My Love - 7/10

Cyrano, My Love vang die aandag aanvanklik, verloor dit dan, en keer terug so net voor die helfte met 'n oortuigende finaal. Veral die grepe uit verskeie films en toneelstukke van Cyrano de Bergerac aan die einde is spesiaal. Mens moet dit in Frans met onderskrifte kyk, die taal is nog mooier in hierdie konteks, Parys net voor die draai van die eeu, 1900. 'n Komedie, taamlik mals en oordadig met dialoog, slegte vrouens, kostuums, kleure en klank in volspoed. Saam met Bella op die Bank.   



Saturday, April 3, 2021

The Mauritanian - 7/10

The Mauritanian is soos te verwagte by tye so pynlik om te kyk mens hou maar jou oe" weg. Wat mens dalk meer ontstel is al die dele wat nie gewys word nie, en al die ander gevalle, hier en op ander plekke wat nie eens bekend is nie. Uitstaande vertolkings met geloofwaardige milieu (wel plaaaslik!). Saam met Bella op die Bank. 

  

Friday, April 2, 2021

Posbus 1 - 7/10

Posbus 1 bewys ouderdom is nie vir kinders nie. Dit is 'n tragiese stuk, wat maar eintlik net 'n deel van 'n gewone, maar in sekere mate ook 'n ongewone lewe uitbeeld. Ryk aan analogiee" en allerhande onderliggende temas. As jy sterk en jonk voel en kans sien vir 'n tydsame lyn. Puik vertolkings. Saam met Bella op die Bank.

  



Thursday, April 1, 2021

A Royal Affair - 6/10

A Royal Affair leer mens 'n onverwagte deel van die geskiedenis. Dit was 'n tawwe era waar besluite sonder demokrasie geneem is. (Niks het seker regtig verander nie.). Swaarder, stadiger materiaal. Ten minste is die mal koning by tye vermaaklik. Saam met Bella op die Bank. 



Saturday, March 27, 2021

The Day We Didn't Meet - 6/10

The Day We Didn't Meet kry dit reg om met erge karakter, milieu en storielyn ekonomie steeds 'n oortuigende film te skep. Die styl is nogals 'n nuutjie vir plaaslike produksies. Stadig, pynlike tjiekfliek materiaal, as jy braaf voel (die manne bedoel ek). Sterk vertolkings. Saam met Bella op die Bank.  


Friday, March 26, 2021

SAS: Red Notice - 4/10

Gits, SAS: Red Notice is amateuragtige, sagte-pornografie (vir Spesiale Taakmaglede) materiaal. Net te voorspelbaar en goed om waar te wees. Redelike tydmors. Saam met Bella op die Bank.



Sunday, March 21, 2021

The Poison Rose - 3/10

The Poison Rose is nie soos die fliekopsomming se^, noir nie. Die feit dat daar 'n eerstepersoonsverteller met 'n rokerige, krakerige stem is, maak dit nie so nie. Die fliekie is maar oor die algemeen saai en sonder voorval. Hou dalk eerder verby.  Saam met Bella op die Bank.


Friday, March 19, 2021

Son of the Pink Panther - 5/10

Son of the Pink Panther se genre is net nie meer gewild nie, maar dit bly steeds simpel-snaaks plek-plek. Eenvoudige lyn van ongelukkige toevalle, misverstande en belaglike situasies. As jy breinlose vermaak nodig het, soos 'n Vrydagaand van werkhoofpyn. Saam met Bella op die Bank.



Saturday, March 13, 2021

Meisies Wat Fluit - 6/10

Meisies Wat Fluit is redelik direk en skroom nie vir gebruiktaal nie. Dit is 'n nuwe tipe Afrikaanse film wat wegbreuk van die stroop hoofstroom. Beslis nie vir almal se smaak nie. Dan seker 'n tjiekfliek, want die tema is verhoudings en verhoudings en verhoudings. Die rolverdeling en vertolkings staan nogals sterk. Saam met Bella op die Bank.



Friday, March 12, 2021

The Little Things - 5/10

The Little Things is op die ou einde nie so indrukwekkend as wat die titel probeer weergee nie. Dit is maar gemiddeld en dan sonder enige oplossing!? Ek sou verstaan as dit op ware gebeure gebaseer was, maar dit is nie die geval hier nie?! Saam met Bella op die Bank.



Tuesday, March 9, 2021

Dam, Minireeks - 6/10

Dam het 'n sterk, onheilspellende loodsepisode. Dit is visueel en audio ryk, met heelwat stilistiese ontwerp ter wille van maksimum bangmaakeffek. Sal dit tog klaar kyk. Teen episode drie raak mens angstig oor die aanhoudende onheilspellende spanningslyn wat net bou en bou. Weliswaar ietwat oormatig gestilleerd. Saam met Bella op die Bank.



Friday, March 5, 2021

The Man in the Hat - 7/10

The Man in the Hat se beskrywing maak dit verpligte kykmateriaal vir Fiat 500 drywers en Italie" verslaafdes. Dit is 'n film van bitter min woorde, meer gebare en knortaal. Dit vind egter plaas in die Suide van Frankryk, naby Marseille. Dit is 'n sjarmante reeks gebeure met 'n speelsheid. Dalk meer vir gesoute kunsfliek liefhebbers. Saam met Bella op die Bank.








Palm Trees in the Snow - 5/10

Palm Trees in the Snow is net te stadig. Dit het redelike lang uitgerekte tonele, maar is waarskynlik die moeite werd as 'n diep, innemende verhaal, iets wat met geduld en waardering geproe word. Ek kon net nie die laaste uur deursit nie. Saam met Bella op die Bank.


 

Thursday, March 4, 2021

Superman and Lois, Reekse - 6/10

Superman and Lois lyk glad nie te sleg nie, hulle trek maar swaar by tye as 'n voorstedelike gesinnetjie, geen superkragte hier nie. Sal dit beslis nog 'n episode of twee kans gee. Nie die beste rolverdeling nie, dit wel gangbaar. Teen episode twee hoop mens hierdie reeksie sneuwel nie soos ander nie, want dit is waarskynlik die CW kanaal se beste nog. Saam met Bella op die Bank.