Aag nee wat, wat 'n pap ou FBI/CSI/KGB/... fliekie. Cliches op sy ergste met vrot vertolkings daarby. Vermy dalk maar eerder. Saam met Bella op die bank.
Sunday, February 19, 2012
Inkheart - 6/10
Inkheart is 'n lekker kykfliekie, en nog een vir die familie, alhoewel nie vir die kleinstes se smaak nie. Jammer dit was nie 'n sukses by die loket nie. Moet nie egter nie te veel verwag as jy dit kyk nie. Saam met die familie op die bank.
In Time - 8/10
In Time is 'n redelik styvolle futuristiese drama (ek sou dit nie as wetenskapfiskie klassifiseer nie) wat met 'n baie interessante, relevante tema spog. Ek sou reken die toekomsprentjie is baie realisties wat hulle daarin skep. Nie te veel aksie gedrewe nie, maar tog genoeg daarvan. As mens net na die plakaat kyk is dit al duidelik, hierdie is minimalisme, gebalanseerd. Kyk gerus op enige aand van die week. Ons het die baie geniet. Saam met Bella op die bank.
Johnny English Reborn - 6/10
Johnny English Reborn is 'n lekker Vrydagaand fliekie vir die familie. Dit kan dalk doen met nog so bietjie ekstra humor, maar is oor die algemeen snaaks genoeg vir 'n lekker ontspanne aandjie tuis. Daar is 'n paar puik Standard IV seun grappe... Saam met die familie op die bank.
Monday, February 13, 2012
The Iron Lady - 7/10
The Iron Lady is definitief Oscar materiaal, maar beslis nie vermaaklik nie. Die hoofrol word uitnemend vertolk, maar anders as The King's Speech, is dit bloot net 'n dokumenter. Ek sou dit steeds gekyk het, al het ek toe geweet wat ek nou weet. Tipiese Sondagaand materiaal. Saam met Bella op die bank.
Saturday, February 11, 2012
The Big Year - 3/10
Met drie sulke name (al hou ek glad nie van Jack Black nie) moes The Big Year ordes snaakser gewees het... Dit is maar baie flou en ek het nie eens eenkeer hard gelag nie. Dit is 'n oulike storie, maar dan is dit ook waar dit bly. Wat 'n vermorsing van rou komedie talent. Ai. Op SA265 van Munich na Johannesburg.
Thursday, February 9, 2012
Love and Other Impossible Pursuits (The Other Woman) - 4/10
Love and Other Impossible Pursuits (The Other Woman) is 'n swaar drama, met heelwat om die lyf. Dit kyk egter moeilik, en is maar 'n gewroeg regdeur. Dalk was ek net nie lus vir so gesukkel op 'n Vrydagaand nie. Kyk as jy sterk van gees voel die dag. Saam met Bella op die bank.
The Pirates of Silicon Valley - 6/10
Ek wonder hoe sou hierdie fliek post Jobs gelyk het, waarskynlik hom in 'n baie beter lig voorgestel het... Kyk gerus as jy meer wil verstaan van die rekenaar reuse van vandag. Ek het nooit besef DOS is gebaseer of die Seattle Computer Products se produk nie.... Saam met Bella op die bank.
Tamara Drewe - 8/10
Wat 'n lekker fliek is Tamara Drewe nie! Dit is nouwel 'n goeie tjiekfliek, maar dit is baie kykbaar, veral wanneer sy in die kort denimpie oor die heining klim... Kyk gerus saam met jou beterhelf, jy gaan beslis punte score. Saam met Bella op die bank.
Sherlock Holmes: A Game of Shadows - 7/10
Ah, Sherlock by gedaante van Mr Downey bly maar lekker om te kyk, alhoewel nie so goed as die eerste nie. Die slag het dit vir my 'n meer ernstige ondertoon, en ook 'n magtelose gevoel in die gesig van die immer-skurk, Dr Moriarty. Kyk gerus as jy van die eerste gehou het. Saam met Francois en Willie in die Kolonade teater.
Wednesday, February 8, 2012
Killshot - 6/10

Killshot is nog 'n tipiese Rourke fliek, met sy kenmerkende gesels, stap en houding. Dit is 'n redelike fliek, maar ek sou nie moeite doen om dit uit te neem of te kyk nie. Taamlike karakterontwikkeling, met so bietjie meer hart na die einde se kant toe. Die jong, protoge gekaard is egter net irriterend in die film. Saam met Bella op die bank, nog op vakansie as ek reg onthou...
The Adventures of Tintin: The Secret of the Unicorn - 8/10
Tintin is escapism of sy beste, en dan nog boonop rekenaar grafika daarby. Die laasgenoemde is so goed gedoen, mens vergeet soms daarvan. Die karakters lewe voor die "'kamera". Die lyn het genoeg spanning, aksie en humor om 'n hele gesin te vermaak. Kyk gerus saam met jou ouma of kleinboet. Ek het dit baie geniet. Op vakansie saam met die familie in die teater die slag, by Gateway, Umhlanga.
Tuesday, February 7, 2012
Friends with Benefits - 5/10
Ek het dalk meer van Friends with Benefits verwag, maar dit bevat maar baie cliches. Heel kykbaar, seker as tjiekfliek, maar kon beter, veral vir die tema. Dit het darem so bietjie meer hart as die standaard tjiekfliekie. Moet ook se^ dat alhoewel ek glad nie 'n Timberlake fe^n is nie, is hy nie te vrot in die fliek nie. Saam met Bella op die bank.
Butterfly on a Wheel - 6/10
Butterfly on a Wheel (ook bekend as Shattered) laat mens dankbaar wees vir jou gewone lewe. Lekker spanning wat stadig ontvou, met 'n paar verassings hier en daar..... Redelike kyk materiaal vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met Bella op die bank.
The Smurfs - 6/10
The Smurfs is terug, kan jy glo!? Die immergewilde karaktertjies van die vroee" tagtigs is weer in. Mens sing saam, lalalalalala as jy werk. Baie goeie kortvolk materiaal, met 'n goeie Gargamel vertolking. Saam met die kinders op die bank.
Shaun of the Dead - 4/10
Shaun of the Dead is sommer lekker breinlose zombie-grapjas materiaal. Dit is lig, oordrewe, en snaaks. Kyk gerus as jy zombieflieks as 'n ernstige genre opneem. Pegg bly een van my gunsteling komedie akteurs, en dan is hy nog Brits ook. Saam met Bella op die vakansie? bank.
Personal Effects - 7/10
Nogals twee sterk sake wat aangeraak word deur Personal Effects. Wel, beide geld seker as tema onderwerpe. Verlies deur dood, en dan verhoudings oor die ouderdomgrens. Sielvolle, stadige, emosionele vertolkings deur al die rolspelers. Met so 'n gesin, sou ek lankal seker pad gevat het.... Saam met Bella op die vakansie? bank.
Sweeney Todd, The Demon Barber of Fleet Street - 5/10
Wel, ou Sweeney was 'n nare haarkapper. Die verhaal is grim, selfs die milieu, met goeie vertolkings (vir 'n musical). Dalk net te grim vir my gemoed gewees. Slegs as jy 'n redelike sterk maag het. Op vakansie saam met Bella op die bank (as ek reg onthou), maar al weer terug by die huis darem.
Red Riding Hood - 7/10
Het ek nou darem nie vir jou Red Riding Hood geniet nie! Die moderne, maar nog steeds in-die-bos in 'n tyd-lank-lank-gelede, kykie, met 'n kinkel op die oorspronklike, is heel spannend. Selfs al voel mens jy ken mos nou al die storie teen hierdie tyd, vang jy jouself gespanne raak, of dit nou vir die wolf, rooikappie of die hupse ouma is, weet ek nie. Kyk gerus, maar dalk eerder vir net ouer-as-laerskool kinders bedoel. En wie kan 'n beter keuse as Amanda wees as Rooikappie? Saam met Bella op die vakansie bank, ek kan nie meer reg onthou nie.
The Fountain - 5/10
Ek is seker ek het The Fountain al voorheen gesien, maar kon dit nie in my rekords opspoor nie. Dit is drie verhale, in mekaar verweef, maar oor tyd versprei. Dit verwar aanvanklik, maar maak seker na die einde toe sin, tot 'n mate. Dit handel oor 'n baie aktuele saak, maar nie tot so 'n vlak dat mens voel die fliek kry enige insig daartoe nie. Die fliek probeer half transendentaal voorkom, maar is dit glad nie. Te veel pretensie na my sin. Kyk gerus as jy pseudo-erig voel. Saam met Bella op die bank. Ek dink hierdie was al op vakansie in 2011 gewees.
Across the Hall - 7/10
Sjoe, praat van ekonomie, klein milieu, min akteurs, en baie spanning met 'n kinkel in die kabel aan die einde wat jou kop sal laat draai. Amper 'n regte Hitchcock einde. Kyk gerus as jy lus raak om aan jou fliekstoel te knaag. Die detail aan die begin van die portier wat gereedmaak is asemrowend. Saam met Bella op die bank, ook nog in 2011 (Oujaarsaand op vakansie).
The Whole Ten Yards - 3/10
Ek wonder of The Whole Nine Yards, wat ek net gedeeltelik gesien het, ook so flou was. Daar is so een of twee vrek snaakse grappe, maar dan is dit ook al. Selfs nie my gunsteling, Peet, red hierdie nie. Ai. Die fliek voel amper Kanadees. Saam met Bella op die bank, iewers einde 2011, in Bloemfontein oppad na vakansie.
The Twilight Saga: Eclipse - 5/10
The Twilight Saga: Eclipse is hoe"rskool materiaal, dit is vol tiener intrige, humor en onderspeelde entoesiasme oor die lewe en goeters. Kyk gerus as jy 'n tiener het, of as jy soos een voel... Saam met Bella op die bank, ook iewers aan die einde van 2011. Ja ek is so agter met al my resensensies...
Hoodwinked Too! Hood versus Evil - 5/10
Al wat ek van Hoodwinked II kan onthou, is Hansel en Gretel se "aaaah schnitzel!" uitroep. Die kinders het die fliek baie geniet, met seker 'n ietsie van 'n dubbelvlak storie. Kyk gerus saam met die kortvolk. Saam met die familie op die bank, iewers aan die einde van 2011.
Monday, February 6, 2012
Valetine's Day - 4/10
Valentine's Day is regte Hollywood sentiment op sy beste met 'n redelik sterbelaaide rolverdeling. Die lyn is heel voorspelbaar en die skakel tussen mense wat aan die einde gewys word 'n lekker ou Cliche al. Kyk gerus as jy alleen voel op 'n Vaaltyn dag, beslis 'n tjiekfliek. Op die vliegtuig van Johannesburg na Munich.
Platteland - 6/10
Platteland is is heel kykbaar, as mens in ag neem dit is nog 'n Afrikaanse musical. Dit is dalk so bietjie oppervlakkig en geforseerd. Kyk gerus, maar moet nie hoe" verwagtings he^ nie... Saam met Bella op die bank
Saturday, February 4, 2012
Another Earth - 8/10
Another Earth is heel onverwags nie regtige wetenskapfiksie nie, maar eerder 'n drama met ondertone daarvan. Dit beweeg stadig, en moet nie opwinding of aksie verwag nie, eerder 'n hartseer, tragiese verhaal. Die film kyk na keuses wat mens maak, selfs wanneer hulle amper onbewus is, maar wat verreikende gevolge het. Die spel is puik, dalk so klein bietjie geforseerd op 'n plek of wat, maar eerlik genoeg dat dit nie pla nie. Ekonomie, beide ten opsigte van die karakters en milieu versterk die boodskap wat die film probeer oordra. Die fliek het amper 'n daaglikse gevoel. Kyk gerus as dieper materiaal, waarskynlik gepas vir 'n Sondagaand. Ek sou reken dit is glad nie hoofstroom nie, beslis conniosseur materiaal. Saam met Bella op die bank.
Sunday, January 29, 2012
Another Happy Day - 4/10
Another Happy Day is 'n baie swaar drama, en nie donker komedie soos die kassie se^ nie... Enige ander familie lyk soos engeltjies teen hier mense....maar wat mens wel kan se^ is dat hulle darem met mekaar praat al is dit verby mekaar. Nogals growwe taalgebruik, en slegs as jy baie, baie sterk voel. Helemal die verkeerde keuse vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Wat wel baie sterk uitstaan, en mens kyk amper daarby verby oor die donker drama, is die puik toneelspel deur al die akteurs. Werklik uitstaande. Kyk op sterk waarskuwing en eie risiko. Saam met Bella op die bank.
Saturday, January 28, 2012
Passion Play - 8/10
Passion Play het baie swak met toetsgehore by Toronto gedoen, en lyk dit my so $3k gemaak uit 'n begroting van $15m....eina. Dit is 'n volwasse fantasie, wel ten minste seker dan kategories. Ek besef hulle het sterk kontras tussen Rourke en Fox probeer gebruik, amper as 'n esktra karakter in die film, maar Rourke is dan op die ou einde net te onwaarskynlik as 'n papperd wat sonder moeite deur 'n amper eenderse Murray se lyfwagte rondgeklap word. Ek het die fliek baie geniet, dit beweeg teen 'n redelike pas, dalk te stadig vir 'n Vrydagaand, maar dit is al die ondertone en die baie verassende einde wat mens laat dink die Toronters het te gou moed opgegee om nie die fliekie klaar te kyk nie. Die einde bevestig dan 'n paar eksistensialistiese, selfsug en ander vrae oor die lewe en liefde. Anders as verwag, is die film ook glad nie vol geweld of ander grim nie. Kyk gerus, maar besef dit is nie gewone hoofstroom materiaal nie. Saam met Bella op die bank.
Saturday, January 21, 2012
The Tempest - 8/10
The Tempest is ou Willem Wikkelspies op sy stukke. Ongelukkig het ons hierdie op 'n Vrydagaand, eers heelwat na tien begin kyk, dus was ek bietjie moeg om al die ou Engels mooi te kan volg. As dit nie vir die onderskrifte was nie, sou ek niks verstaan het nie.... Die fliek het amper 'n eksperimentele gevoel, mar is visueel meesterlik gedoen. Die vertlokings dink ek was baie naby aan wat Shakespeare in gedagte gehad het. Kyk dalk eerder op 'n Sondagaand as jy meer kognitief voel. As die fliek in hedendaagse Engels vertaal was, reken ek dit sou heelwat beter gedoen het as die $250k wat dit verdien het (Dit het $20m gekos om te maak, eina) maar dan sou heelwat van die effek verlore gegaan het. Kyk gerus as jy op skool 'n A vir Engels gekry het. O, en kyk die ekstra materiaal, die Hawaii eiland waar dit geskiet was, is envoudig asemrowend. Ongelukkig is dit in privaat besit. so geen kans om soontoe te gaan nie... Saam met Bella op die bank.
Friday, January 20, 2012
Chalet Girl - 6/10
Chalet Girl doen vir Switserland wat Bridget Jones vir Engeland gedoen het. Lekker ligte fliekie vir 'n Vrydag of Satrerdag aand, selfs in die week. Saam met Bella op die bank.
The Pacifier - 5/10
The Pacifier is 'n lekker laerskoollaaitie fliek. Baie geniet saam met die hele familie op die bank.
The Mechanic - 6/10
Daar is iets aan Jason Statham se manier van skop, skiet en donder flieke wat ek net laaik. The Mechanic is geen uitsondering nie, en het 'n paar lekker tonekrul krulle in die lyn. Kyk gerus as jy die aand soos Mnr Bond of so voel. En vrek, wens ek kon daai huis en kar ry....ai, en daar blaas hulle alles vir jou op. Die vlak van detail wat die ou aan dink is uitsonderlik.... Saam met Bella op die bank (wat dit ook baie geniet het).
Captain America, The First Avenger - 8/10
Ek het Captain America baie geniet. Die gevoel, milieu en tema werk net alles vir my lekker saam. Dit is goeie fantasie, maar dalk nie so onmoontlik nie... Soortgelyk aan die eerste Incredible Hulk met Eric Bana, meer die denkende superheld fliek. Saam met Bella op die bank.
Cowboys and Aliens - 5/10
Ek het Cowboys and Aliens redelik geniet, maar dit staan nie juis uit nie, dalk het ek te veel van die kombinasie verwag. Lekker breinlose Vrydagaand vermaak. Saam met Bella op die bank, nog laas in 2011! (ja ek is so ver agter...)
Wednesday, January 11, 2012
Mission: Impossible - Ghost Protocol - 7/10
Hierdie uitgawe van die Mission Impossible reeks het een van die koelste fliektruuks ooit, 'n valsmuur wat in die Kremlin gang geskep word. Dalk so ietwat voorspelbaar, maar met lekker aksie wat mens nogals heelwat op die punt van jou sitplek hou. Kyk gerus vir lekker ontpanning. Saam met Bella en Franko by Zambezi Mall vir die laat fliek op 'n Dinsdagaand. Haai, foeitog, die Mall het niks meer winkels nie, net die Checkers en Pep.... ai. O, en mens fliek hier vir net R19-50! As hulle dit kan regkry, en die mall bly skaars oop, hoe kan Nu-Metro dan vir 3 mense R125 vra?
Wednesday, December 28, 2011
Conan the Barbarian - 3/10
Conan the terrible, aag ek bedoel Conan the Barbarian is maar 'n floumakou. Die storie is helemal te langdradig en vervelig. Kyk maar op eie risiko. Saam met Bella op die bank, ook nog in 2011. Jaja, ek weet.
Tuesday, November 29, 2011
Horrible Bosses - 6/10
Wel, as jy oopkop voel, kyk gerus Horrible Bosses. Dit het 'n hele paar skerp kante, so wees gewaarsku. Daar is egter 'n toneel met 'n tandeborsel en kokaine wat mens op die grond laat kruip van die lag. Wees gewaarsku, die taal sal 'n geharde matroos laat les op se^. Maar soms wil mens seker die baas vermoor.... En natuurlik is Me Aniston baie oulik. Sal lekker vir 'n Vrydagaand werk. Saam met Bella op die bank.
Monday, November 28, 2011
Water for Elephants - 6/10
Water for Elephants is 'n aks bo die gewone tipe tjiekflkieks. Dit speel meesal in die depressiejare af, natuurlik met die gepaardgaande kostuumwerk ens so, net voor die romantiese laat Dertigs. Die lyn is maar so ietwat voorspelbaar, maar darem redelik vertolk. Kyk gerus saam met die liefling in jou lewe, jy sal beslis punte wen. Alleen op SA264 van JNB na MUC (Greding).
Saturday, November 26, 2011
Something Borrowed - 5/10
In essensie is Something Borrowed dieselfde tipe fliek as Love, Wedding, Marriage, maar darem baie meer gemiddeld. Dit is 'n tjiekfliek, maar heel kykbaar met redelike karakterontwikkeling. Saam met Bella op die bank.
Barney's Version - 5/10
Barney's Version is beslis nie 'n komedie nie. Dit het dalk 'n ligte element of twee, maar is eerder 'n medium drama. Dit delf nie baie diep nie, maar raak tog 'n paar goeie eksistensiele probleme aan, veral gemik op die manlike geslag. Die einde kom so half onverwags, nie die einde van die fliek nie, maar eerder die einde van die verhaal. Dalk nie 'n Vrydagaand fliekie nie, probeer Sondagaand. Sou dit ook nie as 'n tjiekfliek kategoriseer nie, maar beslis 'n love story. Saam met Bella op die bank.
Zookeeper - 4/10
Zookeeper is redelike middel-laerskool vermaak. Kyk gerus saam met die jongklomp. Dit is daai aks onder die gemiddeld, bloot oorlat dit so voorspelbaar is. Saam met die familie op die bank.
Sunday, November 13, 2011
Love Wedding Marriage - 0/10
Wel, ek moes seker geweet het, maar Love, Wedding, Marriage is 'n totale gemors. Die spel is uiters geforseerd, die storie floumakou en die hele kaboel maar papperig. Vermy gerus, streng op eie risiko. Saam met Bella op die bank.
Monday, November 7, 2011
True Grit - 8/10
Nou ja, lanklaas het ek 'n Western so geniet soos True Grit (Rango was die mees onlangste een, alhoewel die onverwagte soort Western). Hierdie een het ook dan 'n onverwagte held(in)!? Maar wat 'n glad-nie-op-jou-bek-geval tipe heldin nie.... Die storie en spanningslyn is interessant, die einde perfek en die milieu puik. Kyk beslis as jy van Westerns hou, en hou daai gepopte mielies reg. Saam met Bella op die bank.
Friday, November 4, 2011
Paper Man - 6/10
Paper Man is dalk so bietjie swaar vir 'n Vrydag of Saterdagaand, maar heel kykbaar. Humor, dalk so ietwat tragies, is darem daar, maar maak dit beslis nie ligter nie. Die rolle word getrou vertolk. Daar is 'n lekker onverwagste kinkel in die kabel, en vang mens nogals baie onkant. Aanvanklik voel dit of daar 'n ondertoon opbou, en dra seker dan by tot die uitvang. Kyk gerus, maar eerder op 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank.
Thursday, November 3, 2011
Source Code - 7/10
Source Code is ietwat meer intelligente skop-skiet-en-spring vermaak. Die fliekie kyk baie lekker en is 'n baie goeie opsie vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Dit herinner sterk aan Groundhog Day, net nie komedies nie. Kyk gerus as jy lus is vir meer stimulerende springmielievermaak. Saam met Bella op die bank.
Monday, October 17, 2011
Get Low - 8/10
Wel, dis nou jammer, maar die punt is Bella s'n nie myne nie, ek het meer as die helfte van die fliek geslaap, nie omdat Get Low so swak is nie, net omdat ek so moeg was en dit 'n redelike lae aksie fliek is. Kyk gerus as jy van iets soos Fried Green Tomatoes gehou het. Saam met Bella op die bank.
Paul - 6/10
Paul is 'n Amerikaanse komedie met Britse inslag, of is dit andersom? Wel, vir 'n ietwat skurwe alternatief tot X-files en 'n reeks ander flieks, bv Close Encounters of the Third kind en ET, kyk gerus na Paul. Maar wees gewaarsku, geloof word nie hier gespaar nie, en beslis nie vloek nie. Alhoewel die konsep goed sou werk vir die jonger geslag moet hulle liefs nie hierdie weergawe kyk nie. Daar is heelwat snaakse tonele, maar met twee wat hoog bo die ander uitstaan, veral die lyn "YO!
Subscribe to:
Posts (Atom)
















































