Sunday, May 31, 2015

Time Lapse - 7/10

Sjoe, gepraat van film ekonomie, Time Lapse stel die voorbeeld. Die plot, karakters, milieu, lyn, dialoog, alles spreek van ekonomiese gebruik. Maar ten spyte van 'n film holruggeryde tema, boei hierdie fliekie mens regdeur. Ek vermoed die onderspeelde vroulike hoofrol en die redelik gewone mansrolle het baie daarmee te maak. Die interpretasie is baie geloofwaardig met 'n kinkel aan die einde wat mens nogals verras. Daar is redelik min aksie, so mens moet nie moeg wees as jy hierdie een kyk nie. Saam met Bella op die bank. 


Kingsman: The Secret Service - 5/10

Kingsman: The Secret Service lyk baie goed, veral die advertensie, maar dan verval dit ongelukkig in 'n patroon, alles is perfek, behalwe die moewie!? Die rolverdeling kon sekerlik nie beter nie, die milieu is London, die storie perfek, die vertolkings gepas, selfs humor, maar dit werk net nie. Veral die tweede helfte voel uitgerek, stadig en oormatig. Dis baie jammer, soveel potensiaal. Ai. O, en dit is beslis nie gepas vir die kortvolk nie, die taal is deurlopend net te gekrui. Saam met Bella op die bank.

Mozart in the Jungle, Seisoen 1 - 8/10

Mozart in the Jungle is ongelukkig halfuur episodes, maar dan is dit ook seker hoekom die tempo redelik knap voel. Die musiek is pragtig, New York verleidelik, en die vertolkings gepas, Die rolverdeling is perfek. Vir 'n slag iets helemal anders as die gewone reekse, maar dan is dit net rondom musiek, en nie kastele nie... Gelukkig is dit reeds verleng, want 10 episodes is net te min. Saam met Bella op die bank.

Wayward Pines, Seisoen 1 - 5/10

Wayward Pines lyk redelik, en kan seker sepierig raak... Sal dit nog so episode of wat kans gee. Saam met Bella op die bank.

Thursday, May 28, 2015

Peaky Blinders, Seisoen 1 - 9/10

Man, die Britte kan darem vir jou reeks maak! Peaky Blinders is sekerlik een van die beste periode dramas wat ek gesien het, en ons is nou eers by episode 4 van seisoen 1. Dit is stylvol, kreatief, veral rondom die klankbaan. Die lyn is baie geloofwaardig, en selfs die redelike geweldadige vignettes is so verfilm dat dit hanteerbaar is. Wat hulle wel baie goed regrky is om die mees donker, onromantiese beeld van Birmingham te skep. Die vertolkings is uitstaande en die rolverdeling nog beter. Mens is spyt aan die einde van elke episode dit is nou oor. Dan is daar die stadig bouende spanningslyn tesame met alles wat gebeur... Saam met Bella op die bank.

Vrou Soek Boer - 3/10

Vrou Soek Boer is maar baie flou. Die dialoog, vertolkings, alles is flou. Al wat bietjie opmaak is die mooi kamerawerk aan die begin (lugskote) en die uiteindelike kleindorpie milieu. Vermy dalk eerder, hierdie is pynlik op stadiums. Saam met Bella op die bank.


Saturday, May 23, 2015

The SpongeBob Movie: Sponge Out of Water - 6/10

The SpongeBob Movie: Sponge Out of Water is Anrich se stapel. Die eerste helfte is animasie, en die tweede helfte realiteit/fantasie. Ek het nogals die tweede helfte geniet. Goeie komedie, skerp se^goed, lekker lig, en 'n geloofwaardige storielyn. Ons het almal lekker gelag, saam met Anrich, Bella en Franko op die bank, alhoewel lg. nie alles gekyk het nie, van die tonele was net te erg vir 'n middeltiener... 


The Two Faces of January - 5/10

The Two Faces of January is 'n gemiddelde fliekie met 'n stadige spanningslyn. Dit het egter 'n stylvolle gevoel met 'n milieu wat daartoe bydrae. Kyk gerus, dit is nie bloederig, vloekerig of onvanpas nie. Ek hou nogals van die rolverdeling. Saam met Bella op die bank.


Saturday, May 16, 2015

Mooirivier - 5/10

Mooirivier is heel kykbaar, maar is beslis 'n tjiekfliekie. Dit is baie lig, en het so paar elemente wat mens nie seker hoekom dit daar is nie, soos byvoorbeeld die vete tussen die twee studente. Heel snaaks maar mens is nie seker hoe dit in die storielyn inpas nie. Wat mens nogals opval is die pragtige Potchefstroom, word baie mooi uitegbeeld deur die flunke kamerawerk. Saam met Bella op die bank.

Vikings, Seisoen 1 - 6/10

Vikings lyk baie belowend, en ek verstaan dat Seisoen 2 en 3 baie goed is. Saam met Bella op die bank.

Sunday, May 10, 2015

Spud 3: Learning to Fly - 5/10

Spud 3: Learning to Fly is beter as Nommer 2, heel snaaks, tipies, en flou, alles op die selle tyd. Mens moet maar kyk, al is dit net vir die Michaelhouse omgewing. Saam met Bella en Anrich op die bank.


The Voices - 1/10

Wel, het The Voices begin kyk, seker so 25% ver gekom, besluit om die aftog te blaas. Net te ongemaklik om te kyk. Selfs die volgende dag net om te kyk wat nou wel op die einde gebeur het (afstandbeheer-skiep-kyk) het nie gewerk nie. Nog 'n Sundance filmpie wat dit nie maak nie. Saam met Bella op die bank.

The Cobbler - 7/10

The Cobbler is nog 'n kom-ons-leer-'n-lessie-fliek-van-Adam-Sandler. Maar ek hou nogals van hierdie flieks van hom, waarvan een van my gunstelinge sekerlik Click is. Die fliek het 'n taamlik onverwagte kinkel aan die einde, iets wat gewoonlik in hierdie Sandler genre gebeur. Die flieks kyk lekker, veral op 'n naweekaand. Saam met Bella op die bank.

Hello I Must Be Going - 4/10

Hello I Must Be Going is sekerlik nie 'n te slegte fliek nie, ek het net nogals 'n lang stuk daarin geslaap. Instede van sterre in die rolverdeling maak dit van gewone mense gebruik. Dit werk, maar ook nie. Die lyn is redelik, die verhaal geloofwaardig maar in geheel nael dit mens net nie vas voor die skerm nie. Ek het darem die tweede helfte volledig gesien. Hierdie is nog 'n Sundance film, dalk kan die Amerikaners net nie kunsfliek maak nie? Saam met Bella op die bank.

Saturday, May 2, 2015

The Hunger Games: Catching Fire - 5/10

The Hunger Games: Catching Fire is 'n tussen-in fliek...die einde is baie stomp en die verloop net te voorspelbaar... Saam met Bella op die bank.

Friday, May 1, 2015

Leading Lady - 5/10

Leading Lady het so hier en daar 'n gat in die storielyn, maar is darem kykbaar. Verwag redelike sentiment maar mooi landskap en 'n paar Suid Afrika cliches, soos bv die taxi se bobbejaanspanner stuurwiel... Die oorseese, Ierse aktrise is glad nie te versmaai nie, maar die Amerikaanse een is maar, wel, Amerikaans. Saam met Bella op die bank.

Mortdecai - 8/10

Ek het Mortdecai baie geniet, dit het 'n baie ligte aanslag, baie skerp kwinkslae, goeie humor en perfekte milieu. Die rolverdeling kon regtig nie beter nie, van die skelms, kroeks, dames en butler tot die hoofrolle. Jy moet egter nie anti-Depp wees om hierdie te kyk nie, want dan gaan jy maar verveeld wees. Ek wag nog vir 'n Allen-Depp kombinasie... Saam met Bella op die bank, giggel & grinnik. 

Wild - 7/10

Wild is nogals glad nie te sleg nie. Dit is nie helemal familie vermaak nie, wat tot 'n mate jammer is. Mens leef nogals in Me Witherspoon se vertolking in, sy kry dit reg om 'n 1000 myl stappie kykbaar te maak. Saam met Bella op die bank, pootuit.

Comet - 4/10

Wraggies, Comet het so min indruk gelaat dat ek nou nie eers meer kan onthou wat ek daarvan gedink het nie. Bella onthou ook min en dat dit maar 'n baie flou tjiekfliekie was. Saam met Bella op die bank, as ek nou reg onthou....

Thursday, April 16, 2015

Dragonheart 3: The Sorcerer's Curse - 4/10

Dragonheart 3: The Sorcerer's Curse is so flouerige poging van 'n Game of Thrones namaaksel. Vermy dalk eerder, baie voorspelbaar. Saam met Bella en Anrich op die bank.


My Man is a Loser - 3/10

My Man Is a Loser is sekerlik die beste swakste fliek ooit. Daar is een spesifieke grap oor 'n klein babavoe"ltjie wat heeltemal onverwags insluip in 'n toneel, en waar dit so onwaarskynlik en onvanpas is dat ek nou nog daaroor lag. Die aantal se^goed wat hierdie buiteweste grappie ontsluit is 'n bonus. Die fliek is darem kykbaar, maar wees gewaarsku, moet nie saam met prim en propper tannie Bets kyk nie! Saam met Bella op die bank.  


Fast and Furious Furious Seven - 5/10

Ek het die meeste van Fast Five gehou, maar moes hierdie uitgawe in die reeks sien, bloot net oor Paul Walker se ongeluk en overwagte dood. Verwag onophoudelike aksie, onwaarskynlike toertjies en harde klanke. Die Etihad Toring toertjie is redelik skouspelagtig. Saam met Franko in die Kolonnade

Tuesday, April 14, 2015

Laggies - 4/10

Aag nee wat! Ou Keira kan nie meer tjiekflieks maak nie! Sy werk beter in periode dramas en ander flieks, maar nie hedendaagse tjiekflieks nie. Vreemd, want sy het goed begin daarmee... Laggies is 'n onder gemiddelde tjiekfliek, met aanvegbare hoofrol toedelings. Dalk voel mens self nog so raps onvolwasse...daarom die ongemaklike kakkerlakgril in die rug af!? Saam met Bella op die bank.


Big Eyes - 6/10

Big Eyes, gebaseer op ware gebeure is 'n interessante kyk werd. Dit voel egter dokumente^r, 'n siekte van baie sulke films. Dit is baie gepas vervaardig in terme van milieu en periode. In Bloemfontein saam met Bella. 

Lien se Lankstaan Skoene - 6/10

Lien se Lankstaan Skoene is 'n redelike Afrikaanse filmpie. Dit is dalk so bietjie lig in die broek vir die tema wat aangeraak word, maar is tog heel kykbaar. Mens leef jou hier en daar in die omstandighede in. Dit raak-raak aan sentiment. Saam met Bella en Ouma Lenie in Bloemfontein op die bank, met Ouma se peewee-aar.  

Don Jon - 4/10

Wees gewaarsku, Don Jon het maar growwe kante... Die film is in 'n ligte, alternatiewe styl vervaardig, Dit ruik van pronk-stap (Engels: Swagger). Beide hoofrolle is regtig onaantreklik, selfs met Scarlett in die vroulike hoofrol... Mens moet maar baie oopkop na hierdie oukie kyk. Moet se^, dit raak ietwat beter na die einde, maar is erg voorspelbaar. Ek sou reken dit is dalk 'n anti-tjiekfliek. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, March 29, 2015

Maps to the Stars - 6/10

Maps to the Stars is beslis nie vermaak nie, eerder Hollywood se outobiografie. Die leegheid van so blink lewe, waar geld nie te kort skiet nie, skok aanvanklik, maar dan besef mens dat dit waarskynlik erger gaan in werklikheid. Die film is goed vervaardig met realistiese, oppervlakkige, gepaste vertolkings. Die einde is dan ook nie die tipiese Hollywood einde nie. Kyk net as jy 'n wyer flieksmaak het. Saam met Bella op die bank.

Saturday, March 28, 2015

The Judge - 5/10

The Judge is baie kykbaar, net jammer van die baie vloek. Die humor element. deur middel van kwinkslae help die kykbaarheid aan. Die fliek voel nogals lank. Maar verwag maar die cliche sentimentaliteit, tipies van hierdie soort Hollywood genre. Saam met Bella op die bank.

The Red Tent - 7/10

The Red Tent is nogals 'n vars kykie na Jakob en sy doen en late. Die milieu en vertolkings is gepas en die outeursvryheid doen nie afbreek aan die Bybelverhaal nie. Miniatuur reeks met net 2 langer episodes. Enigste dik vir 'n daalder deel is dat die vier vroue van Jakob so in harmonie saam leef! Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 22, 2015

Paddington (2014) - 6/10

Oulike fliekweergawe van die gewilde beertjie, regte laerskool materiaal, maar tog kykbaar vir die ouers, veral as mens van London hou. Baie kreatief en lig. Saam met Bella op die bank. 

Ballade vir 'n Enkeling - 8/10

Ballade vir 'n Enkeling is beslis nie 'n familie fliekie nie. Nog al heelwat mense het verwag dat dit gaan wees, sekerlik gebaseer op die destydse TV reeks. Hierdie film is beslis op wereld standaard vervaardig, en kan meeding met menige ander Franse en Hollywood pogings. Die draaiboek is 'n baie sinvolle verwerking van die TV reeks en hou mens nogals vasgenael. Dit het dan ook 'n voordeel bo ander buitelandse flieks met al die verwysings na bekende Suid Afrikaanse handelsmerke, plekke en gebeure. Die Engelse onderskrifte is gepas en net so kreatief as wat die Afrikaans gebruik word. Die vertolkings is eerlik en die dialoog draai nie doekies om nie. Ek hou ook baie van die Maboneng distrik wat gebruik is vir die "moderne" milieu. Saam met Bella in die gewone Brooklyn teater met die lekker nie bree" sitplekke en 'n vinnige etetjie by Phat Panda, Glenfair. Franko was by Simeon vir 'n verjaardag party, en Anrich op die Junior Ranger kamp, Sondela.


Saturday, March 21, 2015

Interstellar - 8/10

Interstellar is nogals 'n laaang fliek met 'n redelike aanloop. Genre gesproke is dit sekerlik een van die beter opsies beskikbaar. Dit raak hier en daar ietwat melodramaties, maar nie so oordoend soos in Gravity nie. Dit het nogals 'n paar gespanne oomblikke, maar is beslis kykbaar vir die hele familie. Dit verras met die amper totale afwesigheid van gekruide taal, geweld en minder familie vriendelike tonele. Tegnies en grafies hiper-realisties, Stel die vlak vir visualisering van swart gate en ander multi-dimensionele probleme. Rolverdelings baie goed, maar ek is nie 100% oortuig Matthew is die beste keuse gewees nie. Saam met Franko en Bella op die bank, Anrich was weg op Junior Rangers kamp, Sondela

Monday, March 16, 2015

Into the Woods - 6/10

Into the Woods is (onverwags!) 'n musical. Alles werk behalwe die oormatige hoe", lang uitgerekte, skril note. Redelik interessante vermenging van 'n klomp sprokies. Die kinders het probeer, maar soos Anrich tereg opmerk, "They put the Music back into the Musical..." Saam met Anrich en Bella op die bank. Franko kon net nie. 

Exodus: Gods and Kings - 7/10

Exodus: Gods and Kings is nogals nader aan die Bybelse verhaal as my gevoel oor Noah. Die epiese verhaal van Moses voel dan ook epies lank, maar is tog baie kykbaar. Ek dink die lang gevoel is 'n direkte gevolg van die feit dat mens die verhale en gebeure reeds goed ken. Die grafika, stel, milieu en kostuumwerk is alles puik, so ook die vertolkings. Ek het tog so 'n huiwering oor Mnr Bale se vertolking, ek dink hy het dit dalk 'n aks te Hollywoods (a la Batman) aangepak. Kyk gerus saam met die familie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 8, 2015

The Hobbit: The Battle of the Five Armies - 5/10

The Hobbit: The Battle of the Five Armies bestaan eintlik net uit een kort oploop tot 'n lang, uitgerekte gevegstoneel. Die grafika, rolverdeling, kostuums en milieu is van die beste wat mens sekerlik kan kry, maar die film skiet te kort. Dit is egter 'n lang kyk... Nie te sleg as Vrydagaand of Saterdagaand springmielie vermaak nie. Ek moes seker die titel beter gelees het, as ek gedink het dit gaan meer storie as geveg en oorlog wees. Saam met die familie op die bank.

Saturday, March 7, 2015

Horrible Bosses 2 - 2/10

Horrible Bosses 2 is soos sy voorganger heelwat onder belt, en sal weereens 'n geharde matroos laat bloos. Daar is die slag net so twee of drie baie snaakse tonele, waarvan die stort en die wegjaag een deur die hek by verre die beste is. Die plot is maar flou, en dit voel nie asof dit die slag oor base handel nie... Kyk as daar niks anders is om te kyk nie, vermy dalk eerder. Eintlik spyt ek het my tyd met hierdie gemors. Saam met Bella op die bank.

Monday, March 2, 2015

Penguins of Madagascar - 6/10

Lekker ligte kortvolk materiaal, geskik vir die hele familie. Nogals 'n paar snaakse dele, met dan die verwagte tweede helfte wat superhelderig voel. Heelwat visuele en auditiewe kwinkslae en verwysings wat die moeite werd is om na die tyd na te gaan. Saam met die familie op die bank. 

Wednesday, February 25, 2015

Quantum Love - 7/10

Quantum Love is 'n tonekrul-lekker Franse fliekie oor hulle spesialiteit, skelmpies. Ja, die ou jakkalse... Boonop is die fliek met onderskrifte. Die einde is tot 'n mate clicherig, amper cheesy (wat is 'n lekker Afrikaanse woord daarvoor?), maar die premis bly steeds 'n goeie idee. Dat Sophie Marceau so kan lyk op 48+ is 'n absolute wonder. Miskien het sy hulp gehad? In elk geval hoogs aan te beveel as jy van ligter Franse flieks hou. Op die vliegtuig van Singapoer na Johannesburg (vanaf Bangkok).


Fury - 9/10

As jy graag wil gaan dien in 'n aktiewe weermag, gaan kyk Fury ter voorbereiding. Die tegnologie en metodes mag argaies wees, maar die grim en pyn van oorlog sal jou bybly. Die film is puik, so hiper-realisties, mens voel die oorlog om jou. Jy is saam met daai manne in die tenk. Jy proe en ruik wat hulle doen. Beslis nie vir ligte gestelle of swakkeres van konstitusie nie. Op die vliegtuig van Johannesburg na Thailand via Singapoer. 

Dumb and Dumber To - 5/10

Wees streng gewaarsku, bo, onder en agter die belt humor van die ergste graad, maar desnieteenstaande is daar 'n paar grappe wat my laat rol het in Dumb and Dumber To. Kyk gerus as jy wil lag... Saam met die familie op die bank. Van die makkers het verdwyn, maar weer herverskyn by tye. 

The Maze Runner - 6/10

The Maze Runner laat mens aan die begin 'n taamlike fatalistiese gevoel kry, en, dan, o wee, dan speel dit erger uit as wat mens sou hoop. Ongelukkig eindig die fliek met 'n sterk opvolgreukie, dus eindig het elende niet. Ai. Ek was nogals verras deur die karakterontwikkeling, alhoewel my huisspan reken daar is te min aksie vir hierdie fliek, en te veel praat. Op die vliegtuig terug van Singapoer na Johannesburg (Vanaf Bangkok, Thailand)

Monday, February 23, 2015

Dracula Untold - 5/10

Ek het Dracula Untold vermy gebaseer op die beskrywing, en nadat ek, sekerlik in 'n staat van oormoegheid, van Johannesburg na Singapoer, die kans gewaag het, redelik seker gewees ek het 'n fout gemaak, Maar.... na die eerste 5 minute verby is, het die fliek nie te onaardig uitgedraai nie, dit is amper kykbaar. Moet beslis nie klassieke Dracula verwag nie. Op die vlug van Johannesburg, oppad na Bangkok vir werk. 

A Merry Friggin' Christmas - 5/10

Hierdie is 'n ietwat oordoende Hollywood style fliekie, maar tog met 'n paar snaakse grappe wat mens steeds lekker laat lag. Saam met die familie op die bank. 

John Wick - 6/10


Redelik stylvolle skop en skiet fliek, met 'n baie hoe" aantal verpligte slagoffers soos die storie volg. Die fliek bevat dan ook een van die beste "Oh!" stellings ooit, die van die hooframpokker. Lekker Vrydagaand materiaal as jy pap voel van die week se soutmyn sloeg. Gepaste rolverdeling, maar ou Keanu begin sy ouderdom wys... Saam met Bella op die bank.


Sunday, February 22, 2015

The Imitation Game - 8/10

The Imitation Game is 'n puik periode drama, wat drup van die Oscars. Mens voel sommer hoe jy wens die masjien werk, die tydsdruk waar teen die span sloeg, en die tempo waarteen soldate val in die oorlog. Die fliek voel hier en daar bietjie lank, maar dit pla nie te veel nie. Miskien was dit omdat ek so versadig was na 'n ete by Tasha's... Saam met Bella in die Brooklyn Cinema Nouveau, steeds die enigste film tetarer in Pretoria wat enigsins die moeite werd is. 

Big Hero 6 - 5/10 & 9/10

Jip, jy sien reg, Big Hero 6 kry 9/10 vir die eerste helfte en dan 5/10 vir die laaste deel. Anrich reken dit moet 10 uit 10 kry. Die eerste deel is baie snaaks, veral waar die plomp robot dronk raak omdat sy battery pap is... Die tweede deel is tipiese animasie superheld fliek, nie naastenby so kreatief en snaaks as die eerste helfte nie. Kyk gerus, selfs Franko het dit geniet. Saam met die hele familie op die bank.

The Theory of Everything - 8/10

The Theory of Everything is beslis Oscar materiaal. Die hoofrol is tegnies uitstekend, sekerlik een van die mees akkuraatste wat ek nog gesien het. Ten spyte van die swaarder tema is die fliek nie oormatig neerdrukkend nie, gepaste humor en kwinkslae verhelp dit. Beslis die kyk werd. Saam met Bella op die bank.

Saturday, February 21, 2015

Creation - 6/10

Creation is uitstekend vervaardig, maar dalk was my verwagting minder van 'n emosionele stryd en meer wetenskap. Die vertolkings is almal uitstaande, en die periode geloofwaardig. Mens wonder ook nogals watter kant van die debat word deur die vervaardigers ondersteun, siende dat arme Darwin taamlik kranksinnig uitegebeeld word. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, February 18, 2015

The Bletchley Circle, Seisoen 1 - 7/10

The Bletchley Circle handel die slag nie oor die fasiliteit (park) nie, maar oor 'n paar ondernemende meisies wat wel daar gewerk het. Ek hou nogals van die idee, asook die milieu en periode. Vorige era sjarme verpak in boeiende kykmateriaal. Kyk gerus as jy van whodunits hou. Hierdie is nog 'n reeksie wat ons begin kyk het terwyl ons ADSL vir twee weke en een dag af was, komplimente Telkom. Britse televisie op sy beste. Saam met Bella op die bank. 

Black Beauty (1994) - 5/10

Redelike weergawe van die perd se verhaal, maar nou nie War Horse materiaal nie. Kyk gerus saam met die familie. Die film se ouderdom wys so bietjie, maar die verhaal bly seker klassiek. So dan ook, almal van ons tesaam op die bank, met Franko wat net dele monitor.