Sunday, February 28, 2021

Miss Scarlet and the Duke, Reeks - 7/10

Miss Scarlet and the Duke is 'n ligte periode privaat speurder storietjie met sag genoeg kante vir 'n lui Sondagaand. Neig effens na die tjiekreeks kant, maar is heel kykbaar. Sal beslis die eerste seisoen kyk, dit is lekker kort. Saam met Bella op die Bank.




Friday, February 26, 2021

Promising Young Woman - 7/10

Promising Young Woman is 'n donker komedie, maar met 'n stekie daarby. Die vroulike rolverdeling kon nie beter nie, met die manlike hoofrol dalk nie so sterk nie. Dit is nie ontstellend nie, maar die materiaal kan dalk so vir ligter kykers wees. Beslis nie hoofstroom nie. Saam met Bella op die Bank.


 

Saturday, February 20, 2021

Blithe Spirit (2020) - 4/10

Blithe Spirit beloof die maan en sterre met die milieu, periode en rolverdeling. Tegnies is alles perfek. Dit werk net nie. Die film is oninteressant, saai en vervelig. Mens kry nie houvas op die karakters nie, en gee glad nie vir hulle verdoemenis om nie. Ek kon net sowat 30 minute maak. Saam met Bella op die Bank.




Friday, February 19, 2021

Monster Hunter - 3/10

Monster Hunter val buite ons portefeulje. Die grafika is swakkerig, die vertolkings meganisties, en ons kon net sowat 15 minute uithou. Saam met Bella op die Bank.


 

Sunday, February 14, 2021

Wishin' and Hopin' - 6/10

Wishin' and Hopin' is baie ligte materiaal met 'n aangename verteltrant styl. Die karakters word eerlik vertolk met die nodige skoot dramatisering om die filmpie meer interessant te maak. 'n Eenvoudige lyn met heelwat komies-ongemaklike situasies. SoetMoet nie Hollywood op al sy silinders verwag nie, hierdie is nie oordadig nie, en eindig op die regte noot. Perfekte Sondagaand materiaal. Saam met Bella op die Bank. 





Saturday, February 13, 2021

Love Sarah - 6/10

Love Sarah is 'n baie ligte fliekie met 'n eenvoudige lyn, verruklike gebak en sjarmante milieu. Ideale Vaaltyn materiaal. Saam met Bella op die Bank.




Friday, February 12, 2021

Thys & Trix - 5/10

Thys & Trix is waarlike Afrikaanse slapstok (slapstick?) - dit is kommon met 'n K, maar wel snaaks, baie lig en simpel. Die perfekte komedie vir 'n Vrydagaand voor die skole weer begin. Hier en daar onder die belt, nie te vloekrig nie, en in 'n meer hedendaagse idioom. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, February 7, 2021

A Call to Spy - 6/10

Ek geniet dit as mens iets leer in 'n fiek - as oorlog geskiedenis jou opgewonde laat, kyk gerus A Call to Spy. Ek dink 'n taamlike realistiese kykie na hierdie brawe dames met die nodige dramatisering om dit kykbaar vir 'n wyer gehoor te maak. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, February 6, 2021

L'ultimo Paradiso - 6/10

L'ultimo Paradiso is 'n stadige, sagte Italiaanse fliekie. Dit is basies, eenvoudig maar gevoelvol en met passie vertolk. Beslis nie as jy aksie en tempo verwag nie. Saam met Bella op die Bank.  





Friday, February 5, 2021

Bliss (2021) - 2/10

Bliss (2021) is beslis nie so tintelend as Bliss (1997) nie. Alhoewel die rolverdeling sterk en die vertolkings tegnies uitnemend is, is hierdie so deurmekaar soos katbraaksel in 'n tuimeldroe"r. Die enkele punt is 'n verlore siel wat met 'n verlore ander siel deurmekaar raak en dan raak albei net meer verlore... Ai, dit was tydmors want mens wag die heeltyd vir daardie aha oomblik. Ai. (Die 1997 Bliss het ek en Bella in die Labia, Kaapstad gesien). Saam met Bella op die Bank.



  

Wednesday, February 3, 2021

The Capture, Reeks - 6/10

The Capture lyk nie te sleg nie - dit is dalk so bietjie oorspeeld, maar 'n Britse proseduraal bly beter as Hollywood s'n. Sal die kort seisoen klaar kyk. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, January 30, 2021

Paris (2008) - 4/10

Paris is 'n opsigtelike naboots van Robert Altman se styl. Hierdie is egter soos om te kyk hoe ek hawermout pap voor werk maak in die oggend. Die mense se lewens is regtig nie interessant nie, en mens gee nie juis vir die danser om nie. Daar is nie genoeg verwysing, verhouding of verwagting geskep nie. Die rolle is weliswaar gepas vertolk. Saam met Bella op die Bank.


  

Friday, January 29, 2021

The World's End - 5/10

As jy van alternatiewe Zombie films hou is The World's End beslis jou materiaal. Redelik oordadig vertolk, wel snaaks, en tipiese Pegg materiaal. Saam met Bella op die Bank.






Lupin, Reeks - 6/10

Ek sou nie se^ Lupin is die bestee weergawe van die Franse karakter ooit nie, maar mens geniet wel hierdie interpretasie. Sal beslis die reeksie klaar kyk, of ten minste die loods-seisoen. O, en al is die onderskrifte nie akkuraat nie, kyk eerder die Franse weergawe as die vertaalde een. Dit maak 'n groot verskil. Saam met Bella op die Bank. 



The Great Escapists, Reeks - 6/10

The Great Escapists is gemik op 'n jonger ouderdom kyker, maar is steeds kykbaar as daar nie The Grand Tour episodes is om te kyk nie. Saam met Bella en Anrich op Bank.




Tuesday, January 26, 2021

The Pembrokeshire Murders, Minireeks - 7/10

The Pembrokeshire Murders is 'n 3 episode minireeks wat teen 'n taamlike pas beweeg. Dit is afgerond, proseduraal korrek en beslis milieu en periode korrek, al is lg. 'n onlgangse periode. Geloofwaardige rolverdelings met sterk vertolkings. Ons sal dit beslis kyk, 3 aande na mekaar. Saam met Bella op die Bank. 



Friday, January 22, 2021

A Boere-Krismis - 6/10

A Boere-Krismis breek nuwe grond vir Afrikaanse films. Dit werk. Ek is egter nie seker of dit 'n wye gehoor gaan bevredig nie. Van die vertolkings is pynlik oordadig, maar gepas. Veral die fikse paartjie... Ek sou reken op eie risiko en kies jou mede-gehoor met deurdagte oordeel. Saam met Bella op die Bank.



Thursday, January 21, 2021

WandaVision, Reeks - 6/10

WandaVision het 'n besliste vars, nuwe benadring tot superheld reekse. Dit is baie tong in die kies en steek die draak met reekse van die era. Elke episode beweed na 'n volgende dekade. Gepaste tempo en sterk vertolkings. Saam met Bella op die Bank. 




Saturday, January 16, 2021

Maigret Sets a Trap - 6/10

Maigret Sets a Trap se milieu en periode oortuig om dit te kyk. Gepaste stapel as mens die genre geniet. Dit is jammer die produksie het gestop met die "reeks". Saam met Bella op die Bank.



Friday, January 15, 2021

News of the World - 7/10

As daar so iets as 'n gevoelvolle cowboy film is, dan is News of the World die voorbeeld. 'n Sagte kykie na 'n harde we^reld. Die fliek laat mens glo die goeie oorwin altyd aan die einde en word beloon vir geduld, liefde en deernis. Beslis een van Mnr Hanks se beste vertolkings tot hede, maar dan moet mens ook Greyhound en ander kyk. Saam met Bella op die Bank.


Thursday, January 14, 2021

Bridgerton, Reeks - 3/10

Bridgerton breek die templaat net te veel. The Great is dieselfde tipe materiaal, maar die verskil is hier is een karakter mal, simpel en totaal oordadig. Met Bridgerton voel dit of almal so is. Nee wat, nie ons koppie tee nie. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, January 9, 2021

Pixie - 7/10

Pixie is 'n alternatiewe, Ierse kykie na 'n tawwe tienie. Sy gee die manne vuur onder hulle holle en skroom nie om te verneuk en te beneuk nie. 'n Tone krul einde. Ek sou dit nie saam met Ouma kyk nie. Kyk dalk met onderskrifte om seker te maak jy mis nie die dialoog nie. Die fliekie is ongekompliseerd en glad nie pretensieus nie. Saam met Bella op die Bank.




Filthy Rich, Minireeks - 4/10

Kon so episode of wat uithou van Filthy Rich maar het besluit om stukke van die ontknopingsepisode te spoedkyk. Nie diie beste produksie nie, dalk te getrou aan die periode en milieu. Ten minste is die karakters openlik eerlik oor hulle sub-agendas. Saam met Bella op die Bank.



 

Hoener met die Rooi Skoene - 5/10

Hoener met die Rooi Skoene is baie ligte en lawwe vermaak. Moet dit glad nie ernstig opneem nie. Heel aanvaarbaar vir 'n ontspanne kykie. Saam met Bella op die Bank.




Wednesday, January 6, 2021

The Right Stuff, Reeks - 3/10

The Right Stuff hou nie kersvas by iets soos the The Astronaut Wives Club nie. Dit voel net te sentimenteel met 'n te sterk dosis Amerikaanse patriotisme. Kon net sowat helfte van die loodsepisode die aanslag weerstaan. Saam met Bella op die Bank.



Tuesday, January 5, 2021

Wonder Woman 1984 - 6/10

Wonder Woman 1984 lyk redelik periode korrek, en is waarskynlik. Alhoewel dit taamlik maklik kyk voel dit effens uitgerek. Dit is lig, met laerskool-tipe komiese dele. 'n Goeie Vrydagaand opsie as jy moeg na die week se swoeg is, en net op die bank wil le^. Saam met Bella op die bank.




Friday, December 25, 2020

April 9th - 7/10

April 9th bevestig sterk hoe sinloos oorlog kan wees. Nog 'n film waar mens geskiedenis leer. Geproduseer met 'n omsigtige maar sagte hand, met deernis vir die verslaenheid van die poppe in hierdie spel wat hulle nie gekies het nie. Saam met Bella by Moonshine on Whiskey Creek, Tree Frog eenheid


Thursday, December 24, 2020

Radium Girls - 6/10

Ek hou daarvan as mens iets in 'n reeks of fliek leer - Radium Girls het beslis so 'n element. Dit is 'n redelike periode drama met 'n gepaste rolverdeling en standaard vertolkings. Saam met Bella by Moonshine on Whiskey Creek, Tree Frog eenheid.




Wednesday, December 23, 2020

Breach - 1/10

Gits, na die eerste 5 minute van Breach moes ons die aftog geblaas het - swak storie, swak vertolkings, lagwekkend eintlik en tydmors. Saam met Bella by Moonshine on Whiskey Creek, Tree Frog eenheid. 



Saturday, December 12, 2020

The Undoing, Minireeks - 4/10

The Undoing is plastiek en pleisterryk, maar miskien kan mens dit nog 'n episode kans gee. Die minireeksie wss nie te sleg nie, maar dit het wel 'n swak laaste episode - sekerste die goorste ooit naas Alphas.... Saam met Bella op die Bank.



Greenland - 2/10

Hollywood bewys weereens met Greenland dit bly die onoorwonne koning van gemorskosfilms. Hierdie is so oormatig sentimenteel dit raak belaglik. Ek en Bella het dit gespoedkyk op die Bank.



  

 

Wild Mountain Thyme - 4/10

Wild Mountain Thyme beweeg net te stadig, met dialoog wat net te dik vir 'n daalder is. Wat dit wel red is die asemrowende Ierse landskap en tonele. Dit is egter nie genoeg om hierdie tjiekfliek toeganklik te maak vir non-tjieks nie....dit is net te vervelig. Gedeeltelik saam met Bella op die Bank, geprei oor twee dae. 




 

Wednesday, December 9, 2020

The Flight Attendant, Minireeks - 3/10

Gits, nee, The Flight Attendant misluk klaaglik. Die genre is aanvanlik onseker, en verander skynbaar halfpad in die minireeksie weer. Die hoofrol is uitputtend irriterend, ongeag dat dit tegnies wel korrek vertolk word. Het nie kans gesien vir meer as die eerste episode nie. Saam met Bella op die Bank.

 

Tuesday, December 8, 2020

Sex Education, Reeks - 5/10

Sex Education is nogals snaaks maar ver onder die belt. Sal dit nog 'n episode of wat kans gee, veral omdat die eerste episode die konfigurasie bevestig het. Saam met Bella op die Bank.



Sunday, December 6, 2020

The Queen's Gambit, minireeks - 8/10

The Queen's Gambit begin stadig maar met 'n konstante spannningslyn. Dit word dan gou een van daardie minireekse wat mens eintlik in een sitting wil klaar maak. Die eenvoud van die storie, die periode drama, die raak vertolkings en die hoofrol se gesigsuitdrukkings en veral oe" is betowered en hou mens vasgenael. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, December 5, 2020

De Gaulle - 6/10

De Gaulle beweeg ietwat stadig, maar dra tog 'n sterk boodskap oor, veral oor die groot Generaal se persoonlike omstandighede. Die hele film handel oor 'n week in Junie 1940, en mens leer tog iets van die geskiedenis. Dalk nie vir wyer gehore toeganklik nie. Saam met Bella op die Bank.



 

Friday, December 4, 2020

La délicatesse (Delicacy) - 6/10

La délicatesse is 'n minder swaar drama, met komiese elemente. Soos mens kan verwag van 'n Franse film is dit nie maanskyn en rose nie, eerder morsige, gewone lewe. Die film het egter 'n aantrekkingskrag met sy eenvoud en eerlikheid. Dalk meer 'n tjiekfliek, maar toeganklik. Saam met Bella op die Bank.

 

Saturday, November 28, 2020

Fatman - 4/10

Fatman is 'n aksiefilm ekwivalent van die normale Kersfliek genre. Dit is kykbaar, maar die ongeloofwaardigheid daarvan maak dit so bietjie saai. Die vertolkings is gepas oorspeeld, maar die rolverdeling minder akkuraat. Saam met Bella op die Bank.




 

Friday, November 20, 2020

The Girl from Monaco - 5/10

The Girl from Monaco is 'n redelike komedie, met die manlike hoofkarakter wat nie te verbaal is. Die tonele in Monaco en omgewing maak die kyk werd, en daar is tog genoeg komiese oomblikke. Saam met Bella op die Bank.



 

Friday, November 13, 2020

Next, Minireeks - 2/10

Gits, nee, dalk het Next meer potensiaal, maar iets werk net nie. Dalk die swak hoofrol vertolking, die powere poging om 'n onderliggende onheil te skep of onoortuigende milieu - ek weet nie, maar gaan nie tyd hierin bele^ nie. Saam met Bella op die Bank.




Sunday, November 8, 2020

The Letters - 7/10

The Letters se hoofrol vertolking staan net to ver bokant die res van die rolle uit - hulle is meesal amateuragtig. Mens leer egter heelwat in die film van Moeder Teresa en al die struikelblokke wat sy beleef het - ekstern sowel as intern. Die fliek is ook glad nie sentimenteel nie. Dit tref 'n aanvaarbare balans tussen die geloofsaspekte en dokumentering van 'n deel van haar lewe. Saam met Bella op die Bank.


Friday, November 6, 2020

Special Correspondents - 4/10

Special Correspondents is nie die geloofwaardigste film ooit nie, met redelike vertolkings. Die konsep is nie verregaande nie, die uitvoering daarvan is dalk ietwat so. Dit bly egter baie ligte ontspanning en waarskynlik die enigste film met Ricky Gervais in wat ek sal kyk. Saam met Bella op die Bank,




Sunday, November 1, 2020

Krotoa - 6/10

Krotoa is 'n redelike uitbeelding van die periode, maar met vertolkings wat hier en daar dalk net nie werk nie - miskien sou dit in Hollands beter gevaar het. Die verhaal is tot 'n mate hartseer, en hoeveel daarvan onder en bokant die waarheid is, is 'n ope vraag. Ek dink dit was heelwat erger as wat uitgebeeld word, veral die tronk dele. Mens moet hierdie maar kyk, maar ek is nie so seker oor die versoeningswaarde daarvan nie. Vir die sondes van jou voorvaders betaal mens maar duur. Dit voel ook meer luuks as 'n plaaaslike produksie. Saam met Bella op die Bank.


   

Saturday, October 31, 2020

Cry-Baby - 5/10

Cry-Baby is 'n totale oordrewe laat Negentigs fliek, waarvan dit dan seker ook die doelwit is. Net vir geharde Johnny Depp aanhangers bedoel. Saam met Bella op die Bank.


 


Friday, October 30, 2020

An American Pickle - 6/10

An American Pickle is 'n raak uitbeelding van Amerika se absolute liggelowigheid. Dit is kykbaar, komies en eintlik tragies op die ou einde. Ek is nie gek na dubbel vertolkings nie, maar hierdie geval met sy vals Poolse aksent werk tog. Die mees kykbaarste film van Seth Rogen tot hede. Dalk nie vir almal bedoel nie, dalk amper Amerikaanse kunsfliek - as so iets ooit bestaan - dit het 'n ten minste vars benadering wat die hele belaglike en komplekse moderne tyd uitbeeld. Saam met Bella op die Bank. En soos sy se^, ons soek meer as wat ons nodig het. 

  

Sunday, October 25, 2020

The Witches - 3/10

The Witches is 'n puik voorbeeld van hoe Hollywood 'n perfekte boek kan opneuk. Ai. Doodvervelig. Kon net halfpad uithou met die' gegillery. Saam met Bella op die Bank. 




Rebecca - 4/10

Rebecca het al die elemente en voordele tot sy beskikking, maar misluk klaaglik. Die film neem homself heeltemal te ernstig op, daar is geen speelse element nie. Die genre is ook uitgedien en hierdie poging beslis nie 'n uitstaande voorbeeld nie. Miskien kon hulle dit 'n komedie gemaak het, met alles dieselfde, dit sou baie beter gedoen het as om so geld te mors. Ai. Het sowat halfpad uitgehou, die mense en die milieu is darem mooi. Saam met Bella op die bank.




Sunday, October 18, 2020

Bobby - 5/10

Bobby handel eintlik meer oor kleinlike intriges in 'n hotel, as oor die moord op Robert Kennedy. Dit is meer 'n bysaak. Die gevolg is vervelige oninteressante akademiese vertolkings. Het die eerste deel gekyk, gespring tot die skietvoorval en die res maar gelos. Saam met Bella op die Bank.



 

Saturday, October 17, 2020

Marionette - 4/10

Marionette begin heel stylvol en met belofte, maar dan besef mens die genre. Dalk het ek hierdie genre verleer, maar dit staan my nie meer aan nie, dit voel net te sinloos. So 15 minute later ophou kyk - Saam met Bella op die Bank.




Friday, October 16, 2020

The Wall of Mexico - 6/10

The Wall of Mexico is 'n ware Amerikaanse kunsfliek, 'n moderne fabel. Dit is vreemd vermaaklik, maar skep ook 'n ongemak met 'n paar van die sewe doodsondes wat skreeuend uitgebeeld word. Dit is dan ook duidelik na wie die film verwys. Kyk op eie risiko. Saam met Bella op die Bank.