Wednesday, February 18, 2015

The Bletchley Circle, Seisoen 1 - 7/10

The Bletchley Circle handel die slag nie oor die fasiliteit (park) nie, maar oor 'n paar ondernemende meisies wat wel daar gewerk het. Ek hou nogals van die idee, asook die milieu en periode. Vorige era sjarme verpak in boeiende kykmateriaal. Kyk gerus as jy van whodunits hou. Hierdie is nog 'n reeksie wat ons begin kyk het terwyl ons ADSL vir twee weke en een dag af was, komplimente Telkom. Britse televisie op sy beste. Saam met Bella op die bank. 

Black Beauty (1994) - 5/10

Redelike weergawe van die perd se verhaal, maar nou nie War Horse materiaal nie. Kyk gerus saam met die familie. Die film se ouderdom wys so bietjie, maar die verhaal bly seker klassiek. So dan ook, almal van ons tesaam op die bank, met Franko wat net dele monitor. 


Tuesday, February 17, 2015

Black Mirror, Seisoen 1 - 7/10

Sjoe, as jy lus is vir kommentaar op sosiale, gewete, gemeenskap, politieke, tegnologie, sowel as verskeie ander vlakke, kyk gerus Black Mirror. Elke episode is sorgvuldig geskep, vervaardig en puik vertolk. Die een episode wat mens bybly, is die politiese vark... nou ja, oink. Hierdie Britse reeks is nie ligte vermaak nie, maar op die manier wat dit voorgesit word, is dit amper komentaar-komedie. Kyk gerus as jy sterker voel, dalk nie op 'n Vrydagaand nie. Die denkende reekskyker se reeks. Gelukkig is die seisoen net 3 intense episodes lank. Moes hierdie ook noodgedwonge kyk agv ons ADSL wat vir twee weke en een dag af was, komplimente Telkom. Saam met Bella op die bank.

Bad Johnson - 4/10

Kyk, die fliek het beslis 'n baie interessante premis...maar die amateuragtige vertolkings, stel, inkleding en milieu kelder ongelukkig die poging. Daar is 'n paar skreeusnaakse, maar uit die aard van die saak, erg onder die belt, woorspeling opsetlik, tonele. Kyk gerus, maar sonder jong tienerseuns en ouma, as jy lus is vir iets anders... Saam met Bella op die bank.

Friday, February 13, 2015

Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day - 6/10

Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day is 'n lekker ligte familie fliekie met humor wat almal sal laat lag. Tipiese Hollywood cliches hier en daar, maar steeds die moeite werd as jy wil ontspan saam met die familie op die bank. Soos wat ons gedoen het.

St. Vincent - 8/10

St. Vincent is 'n kragtoer in terme van rolverdeling. Dit maak gebruik van komiese elemente, hartseer en die lewe om 'n paar lesse te leer. Mens kan so maklik waardevolle oomblikke mis omdat jy nie verby die uiterlike maskers kan kyk nie. Nie 'n familie fliekie nie, maar beslis een wat jy saam met jou maat moet kyk. Geskik vir enige aand van die week. Een van Bill se bestes. Die fliekie drup van Oscar materiaal... Saam met Bella op die bank.



Saturday, January 17, 2015

Third Person - 5/10

Soos Bella se^, Third Person het baie potensiaal, maar die lyn is net te kompleks, en van die vignettes net te vreemd. Dit voel baie lank, en daar is paar strekke waar mens verveeld rondkrap. 'n Groot teleurstelling na die aanvanklike opwinding van Parys, Rome en New York as milieu, is dat die stede glad nie as karakters gebruik word in die fliek nie. Dit dien, as streng doel, net om te onderskei tussen die gevlegte parallelle lyne. Die vertolkings is hier en daar te aangedik, maar die een toneel in die hotelgang voor 'n toe hoteldeur het baie goed gewerk. Mens kon die chemie hier sien werk... 'n Baie sterk rolverdeling, wat mens op die ou einde voel nie tot volle reg ontgin is nie. Beslis nie 'n Vrydagaand film nie, dalk was dit ons fout. Saam met Bella op die bank.
  


Night at the Museum: Secret of the Tomb - 6/10

Night at the Museum: Secret of the Tomb is die laaste een met Robin Williams in, wat 'n jammerte. Tipiese Hollywood cliches en sentiment, maar steeds heel vermaaklik om te kyk. Het die London milieu nogals geniet. Saam met Anrich en Franko in Kollonade as 'n aflsuiting van die laaste vakansiedaggie.

Chariots of Fire - 7/10

Ek dink ek het Chariots of Fire laas as 'n laerskool laaitie gesien. Dit is seker een van die mees herkenbare filmtitels as gevolg van die temalied deur Vangelis. Wat egter nogals pla van die vloeiende, strelende elektroniese klanke is dat dit vir my glad nie tydens die film werk nie. Dit werk uitstekend vir die spesifieke tonele, maar nie so wel vir die res nie. Die era en gevoel van die fliek ondersteun net nie elektroniese klanke nie. In elk geval 'n klassieke film, en beslis die moeite werd om te kyk. Het dit oor twee paaimente saam met Bella gekyk, die manne het nie baie belanggestel nie, ten spyte van die drafsport tema.
 

Tuesday, January 13, 2015

Jack Reacher - 5/10

Sjoe, wat 'n vreemde aksiefilm, ietwat van 'n identiteitskrisis, komedie? skop-skiet? Jack Reacher is wyd oorgestilleerd in terme van dialoog en mikro-bewegings - vinger op die sneller skote en so. Soveel so, dat dit eintlik vermaaklik is, en mens tog die moeite doen om die, dit voel baie lank, film klaar te kyk. Saam met Bella op die bank.




The Giver - 5/10

The Giver val in een van die paar kategoriee" rondom toekomsvisies vir ons planeet en die gevolglike samelewing. Hierdie oukie val in die klinies-beheerde groep, wat darem aanvanklik beter voel as die as die nihilistiese groep, maar op die ou einde maar ewe erg is... Redelik eenvoudige plot, baie basiese eskapism, en tipiese, onverklaarbare Hollywood-einde.


Sunshine on Leith - 7/10

As jy van Edinburgh hou, en meer, as jy van die The Proclaimers hou is hierdie 'n absolute moet. Lekker lig, onpretensieus en dan 'n Skotse (!?) musical. Die einde herinner sterk aan 'n knikkie-knakkie fliek (Bollywood). Saam met Bella op die bank.





Marvel's Agent Carter, Seisoen 1 - 7/10

Whoa! 'n stylvolle periode Marvel reeks, maar wat 'n jammerte die klankbaan, alhoewel toepaslik, is nogals irriterend. Eerste twee episodes baie belowend, sal dit graag verder kyk. Saam met Bella op die bank.


Harry Potter and the Philosopher's Stone - 6/10

Is dit nou Harry Potter and the Sorcerer's Stone of Harry Potter and the Philosopher's Stone. Ek hou meer van laasgenoeme, en in elk geval, nie te sleg nie, heel kykbaar en vermaaklik. Het dit in verskeie paaimente probeer kyk op vlugte na en van Frankfurt/SA. Finaal as geheel op die bank saam met Bella en Anrich.




Magic in the Moonlight - 7/10

Magic in the Moonlight is 'n meer toeganklike Allen fliek, en 'n puik periode/milieu komedie. Al kyk mens dit net vir die styl van die era is dit al die moeite werd. Ietwat voorspelbaar om 'n effektiewe spanningslyn te handhaaf, maar dit pla nie te veel nie. Die vertolkings is gepas en die rolverdeling 99%. Ek sou dalk 'n beter alternatief vir die manlike ondersteunende rol (Howard) wou sien, maar dit werk steeds. Saam met Bella op die vliegtuigsitplek van Frankfurt na SA.  

Sunday, January 11, 2015

Hector and the Search for Happiness - 6/10

Hector and the Search for Happiness het 'n paar baie snaakse tonele, en poog tot 'n mate om so bietjie diepte aan 'n baie belangrike, gewigtige vraag te gee. Tydsgewys, kry die film net kans om 'n paar van die opsies vir geluk te ondersoek. Hier kon die film dan ook uitgestaan het, as dit nie die cliches ondersoek het nie, eerder alternatiewe, kreatiewer opsies. Anders as met Gone Girl, pas die vroulike hoofrolverdeling 100% vir Rosamund Pike. Kyk gerus, daar is genoeg snaakse dele om 'n saai Vrydag of Saterdagaand op te kikker. Saam met Bella op die vliegtuigstiplek, van Frankfurt na SA.

Saturday, January 10, 2015

I, Origins - 6/10

I Origins val so bietjie rond, maar het tog 'n interessante benadering. Mens kry 'n baie sterk pseudo-wetenskap gevoel, so moet dalk nie dit vanuit daardie oogpunt kyk nie. Ek het dit op die vlug na Frankfurt begin kyk, maar mos stop omdat dit so ietwat te rof is vir 'n familie omgewing. Het dit wel in Switserland saam met Bella klaar gekyk. 

Pompeii - 6/10

Pompeii is maar gewone eskapism, en dalk is ek te vrygewig met 'n 6. Dit is redelik familie vriendelik, so ons almal het dit saam op die bank gekyk.


The Expendables 3 - 5/10

Redelik gemiddelde skop-skiet-en-boomklim, maar meer interessant met die versameling van vervloee" helde, insluitend Frasier (!?). Soos verwag is dit meerendeels plastiek geweld, met 'n onverwagte lae aantal vloek woorde, dink ek kan hulle op een hand tel. Dit is anders as die vorige twee. Saam met Bella en Franko en Anrich in Switserland.




The Book of Life - 7/10

The Book of Life is 'n lekker familie fliekie, wat oor die ouderdom grense baie goed werk, selfs vir tiener laaities. Dit het uitstekende grafika, wat eerder op animasie gefokus is, as foto realisme. Die grafika is ook visueel en kleur ryk, iets wat mens sal verwag van Mexiko. Die hele pakkie voel baie kreatief, en mens geniet die verhaaltjie. Kyk beslis. Saam met die familie op die bank.



Wednesday, January 7, 2015

Gone Girl - 6/10

Die film het 'n redelike spanningslyn, en mens verwag nogals kinkels as jy so paar minute gekyk het, Nie 'n gewone Hollywood einde nie, maar tog so ietwat ongeloofwaardig. Die fliek is heeltemal te lank, maar tog kykbaar. Die vroulike hoofrol verdeling is nie helemal gepas nie, kon beter gewees het. Saam met Bella in Switserland.

300: Rise of an Empire - 6/10

Ek het meer van die vorige 300 gehou, maar hierdie een is ook redelik. Verwag 'n oordosis gevegstonele, maar dan moet ek noem dat hierdie uitgawe meer vertel waar die vorige dalk nie het nie. Die grafika is heel gepas. Het dit saam met Franko in Switserland gekyk. 

Thunder and the House of Magic - 6/10

Thunder and the House of Magic is 'n ligte kinder fliekie, gepas vir vroeer en middel laerskool. Die grafika is mooi, en die verhaaltjie het sy lessies en grappies. Saam met Anrich in Switserland gekyk. 

True Detective, Seisoen 1 - 5/10

Aag nee wat, te veel wroeg en praat. Dit is asof hulle die twee hoof karakters probeer uitstal, eerder as om 'n storie te vertel. Sal nie die tweede seisoen kyk nie. Het die reeks op ons Italie 2014 trippie gekyk, saam met Bella. 


The Musketeers, Seisoen 1 - 7/10


Nogals 'n lekker ligte TV reeksie om te kyk. Is al besig met die tweede seisoen, sal dit beslis verder kyk. Rolverdeling werk goed, en die vertolkings is gepas. Het heelwat van die episodes op ons Italie 2014 trippie gekyk. Saam met Bella op die bank, soms met die manne by. 


Seeking a Friend for the End of the World - 7/10

Die opsomming van die fliek vang mens se oog, maar op die ou einde het ek so bietjie meer verwag as wat uitegebeeld is. Dit het 'n ietwat teleurstellende einde, miskien het mens verwag Hollywood gaan wel die aarde red (maar dit is eintlik duidelik van die opsomming dat dit nie die geval is nie...), of dat daar ten minste goeie grafika gaan wees as die einde wel aanbreek. Nietemin, het ek steeds die verskillende reaksies op so 'n gruwe, onstuitbare eindpunt redelik geniet. Daar is seker 'n klomp ander ook, maar dan sou die fliek baie lank gewees het. Kyk gerus as jy voel jou probleme is oorweldigend, hierdie probleempie oorskadu als. Gekyk op die vlug van Johannesburg na Frankfurt vir ons Italie 2014 vakansie

Tuesday, January 6, 2015

Love Is All You Need - 7/10

'n Noorweegse fliekie met Engelse onderskrifte en dan een Engelse karakter, ou Pierce Brosnan! Die mengsel werk baie goed, want dit speel dan ook nog in Italie af... Dit is net asof nie-Hollywoodse tjiekflieks - en hierdie een het 'n paar lekker komiese elemente - meer eerlike emosies uitbeeld en nie verregaande verstrengelings uitbeeld nie. Kyk nogals lekker en is net soet genoeg. Saam met Bella op die bank.


Sunday, December 7, 2014

Scorpion, Seisoen 1 - 4/10


Ek weet nie, maar siende dat die slimste ou in die wereld, of ten minste die een met die hoogste IK, hierdie self vervaardig het, het hy gedink dat hy beter as almal weet as dit by TV reekse kom? Maar 'n verflouing van Leverage en verskeie ander reekse. Nee wat, vermy dalk eerder. En wat my verder laat wonder is dat O'Brien eerder in die regte lewe soos die uber-nerd in die rolverdeling lyk, as die hoofkarakter... Saam met Bella op die bank. 


Saturday, December 6, 2014

The Other Woman - 4/10

Het The Other Woman op SA 7241 (Eintlik Swiss Air) oppad na Zurich gekyk. Baie clicherig, onder-die-belt by tye, maar tog met stukke wat my laat stik het van die lag op die beknopte vliegtuig. 



Boyhood - 6/10

Wel, as een van die elemente van 'n kunsfliek die vermoee" is om alledaagse lewe op 'n aangrypende, interessante of alternatiewe wyse uit te beeld, kry Boyhood redelik baie daarvan reg, deur 12 werklike jare van verloop in 3 ure te verpak. Die progressie van ouderdom, en alles wat daarmee saamgaan, maak hierdie fliek redelik uniek. Die natuurlike gevoel van  karakterontwikkeling skep heeltemal 'n ander dimensie, iets wat dalk nie voorheen moontlik was nie. Baie geduld, dissipline en vasberadenheid het hier betaal. Kyk gerus, maar wees gewaarsku, gewone lewens en probleme, op gewone tydskale en intensie uitgedruk. Die fliek was so lank, moes dit in twee paaiemente kyk! Saam met Bella op die bank, maal twee. 


Predestination - 6/10

In Predestination moet mens beter kophou as 'n dronk weeluis. Die film het baie stylvolle periode voorstellings as gevolg van die tydreise, met 'n taamlike verstrengelde tydlyn. Op die ou einde kom alles neer tot jy is jou Oupa, ook beter bekend as die hoender en eier geval. Vir laasgenoemde is die maklike antwoord, die hoender was 'n hen, en nie 'n haan nie... Nie seker of dit help nie. Kyk gerus, lekker Saterdagaand materiaal. Wees vars om alles te volg, dus te kompleks vir 'n pap Vrydagaand. Saam met Bella op die bank.

Manhattan, Seisoen 1 - 7/10

Manhattan het met 'n slag begin. Kyk net na die titelprent, Baie stylvolle periode drama, met een vreemde floute. Die klankbaan van die eerste episode was so raserig en onsamehangend ek het amper besluit om nie die res te kyk nie uit protes... Geen warmbloedige ingenieur of wetenskaplike kan bekostig om hierdie te mis nie. Saam met Bella op die bank. 

Lucy - 4/10

Aag nee wat! Lucy is nogals 'n groot teleurstelling. Dit staan duidelik uit, hierdie is pretensieuse, gekunstelde, kuns wetenskap fiksie, Die slottoneel is so 'n abrupte einde ek wou sommer. Die gebruik van beelde wat skynbaar alleswetenheid moet uitbeeld, wat nie regtig tot fliek bydrae nie, tesame met 'n baie vreemde tempo, amper staccato rukke-en-stote - amper meer 'n visuele gestotter sou mens kon se^, maak hierdie maar min lekker om te kyk. 'n Mors van geld, energie en tyd. Vermorste potensiaal. Ai. Saam met Bella op die bank.


Dawn of the Planet of the Apes - 7/10

Dit gebeur nie baie dat 'n opvolg beter as die eerste uitgawe is nie, maar Dawn of the Planet of the Apes het my nogals laat kyk, Goeie grafika, redelike geloofwaardige lyn, en gepaste vertolkings. Franko wou nie kyk nie, so met Bella en Anrich op die bank. 

The Hundred-Foot Journey - 7/10

The Hundred-Foot Journey is verfilm in 'n utopiese klein Franse dorpie. Dit is dalk so ietwat pretensieus, maar ek sal Lasse Hallström dit vergewe. Die kos proe hemels in mens se verbeelding, jou vimgers jeuk om te gaan kook as jy hierdie kyk. Hongerpyne slaan toe. Geure speel deur jou gedagtes, teksture proe werklik. Goeie vertolking - in eg Frans - van Madame Mirren. Kyk gerus, maar moet nie kyk as jy honger is nie. Saam met Bella op die bank.


And So It Goes - 5/10

Wat 'n reseppie volg And So It Goes nie! 'n Gerehabiliteerde seun wat 9 maande in die tronk moet gaan sit (vir iets waarvoor hy nie regtig skuldig is nie), wat 'n dogtertjie het, waarvan die ma nog erg aan Heroiene verslaaf is, 'n klein kompleksie van gesinne, waarvan een 'n polisieman is, en dan die buurvrou wat op 65 nog baie hups is, en 'n sangloopbaan begin het. Waar kan ek stop. O, en die groot herehuis op 'n Landgoed wat Zuma sal laat jaloers voel, en dan verkoop moet word, aan 'n jong gesin met 4 kinders en 'n pa wat vir $150m gekoop is deur een of ander sokkerklub. Ten spyte van dit alles kyk die fliek redelik maklik, is nie te swaar nie, boonop nog met clicherige vertolkings. Mooi musiek en 'n vintage cabriolet Mercedes verlei my dan om hierdie tjiekfliekie klaar te kyk. Saam met Bella op die bank.

Herculus - 4/10

Herculus se nuwe uitgawe kon soveel beter gewees het met die toegang tot tegnologie. Dit is maar verwater tot gewone Hollywood pulp. Dit is seker nie te sleg vir 'n Vrydagaand nie, en gepas vir 'n twee-ton gorilla sonder breins... Saam met die familie op die bank.


Planes 2: Fire & Rescue - 5/10

Planes 2: Fire & Rescue is maar net nog van dieselfde. Die storielyn kort so bietjie, dit het nie regtig 'n dubbelvlak humor lyn of so nie. Die jonger volk sal dit egter baie geniet. Saam met die familie op die bank..

Sunday, October 26, 2014

The Homesman - 6/10

Dit is baie moeilik om The Homesman te klassifiseer:
* Western
* Drama
* Komedie
* Spanningsriller
* Komedie!?
* Tragedie
* Blacklist?!
* Offbeat
* Kunsfliek

My beste opsomming sou 'n kunsfliek-Western-Tragedie wees. Jy sal hierdie moet kyk, enigeste manier om te weet of jy dit sal kan deursit en tog voel dit was die moeite werd om te kyk. Wees gewaarsku, so een of twee ontstellende sekwensies. Puik, Oscar-materiaal vertolkings van die twee hoofrolle. Stadige, dieper karakterontwikkeling. Beslis nie ligte vermaak nie. Saam met Bella op die bank.

The Longest Week - 6/10

The Longest Week is 'n moderne Woody Allen fliek. Maar wees gewaarsku, as jy van die styl hou wat hulle voorstel, ek praat nou van die milieu en die verleidelike New York en die woonstelle en die meubels en die karre en die horlosies en die wekkers en die kroegies en die mense en hulle motorfietsie, moet nie kyk nie, jy gaan net suur van jaloesie word. Alles drup van ougeld en styl. Ek sou ook dink New York kan gerus die Oscar vir beste ondersteunende rol hier losslaan. Kyk gerus, maar vermy as jy nie van ou Woody se styl gehou het nie. Die rolverdeling en vertolkings is perfek. Saam met Bella op die bank.



Friends with Money - 6/10

Friends with Money is maart net 'n kort studie van vermoeens om iets te doen. Die fliek het 'n baie rustige trant, en daar is nogals min (drama) aksie. Dit beeld redelik gewone lewens en konflikte uit, so beslis kunsfliek materiaal. Aniston se vertolking is net te een-dimensioneel om hierdie fliek die impak te kan gee wat dit kort en behoort te he^. Saam met Bella in Bloemfontein, tydens 'n kort kuier daar by Ouma Lenie en Franko se deelname aan die Clover Atletiekbyeenkoms.



Sex Tape - 3/10

Hmmm, die konsep het potensiaal, maar dit kort 'n spesiale behandeling om hierdie tema suksesvol te uit te beeld. Dalk sou dit beter gewerk het as 'n drama? Vermy dalk eerder, maar dan aan die ander kant, teen haar ouderdom, en seker baie plastiese sjirurgie, lyk Cameron nie te sleg nie. Daar is net te veel saai tonele en flouerige, clicherige humor. Saam met Bella op die bank. 

Chef - 7/10

Sjoe, mens will sommer opstaan en gaan kos maak en eet en lekker eet as jy Chef kyk. Sommer vroeg al in die fliek. Dit is 'n puik familie fliek, maar wat 'n teleurstelling, hulle vloek so daarin, dat ek regtig nie kans sien om dit saam as 'n familie te kyk nie. Dis baie jammer, want beide ons manne maak kos, en vir die res van die fliek is daar geen ander familie onvriendelike gedrag nie, inteendeel! Dalk dink die Amerikaners almal praat so!? Maar vir die kos, en die kosmaak, kyk beslis. Dit verhaal eindig dan ook bittersoet, en in die mees begeerlikste restaurantjie ooit! Saam met Bella op die bank. 

Saturday, October 11, 2014

Die Windpomp - 7/10

Die Windpomp is 'n baie onverwagse wetenskapfiksie fliekie, en boonop 'n bittersoet liefdesverhaal met komiese elemente. Laasgenoemde voel egter so ietwat geforseerd. Dit is dan ook 'n tragedie met ouderdom as tema, spesifiek rondom ewig-verlore jeug. Ai. Redelik ligte materiaal, maar sal beslis 'n vroulike traan of twee spontaan veroorsaak. Wat die film indrukwekkend maak is dat dit 'n finale jaar filmstudent projek is (kort film) wat in 'n vollengte weergawe ontwikkel is. Saam met Bella op die bank.  


Friday, October 10, 2014

The Middle, Seisoen 1 - 5/10

The Middle is nie juis breinmateriaal nie, maar lekker ligte breinlose vermaak, veral vir 'n moee" Vrydagaand na die week se kap in die soutmyn. Familiegedrag word redelik akkuraat oordryf, met geloofwaardige, komiese situasies tot gevolg. Saam met die familie op die bank.

Grace of Monaco - 6/10

Al kyk mens net Grace of Monaco vir die milieu, bly haar verhaal 'n sprokie wat kortgeknip is. Baie goeie hoofrol vertolking. Die natuur en prag en praal is verleidend mooi in 'n baie stylvolle manier en rolverdeling aangebied. Saam met Bella op die bank. 

Gotham, Seisoen 1 - 6/10

Gotham lyk belowend, maar donker. Sal nog besluit... Saam met Bella en Franko op die bank. 


Edge of Tomorrow - 6/10

Kan jy glo, nog 'n weergawe van die ikoniese Groundhog Day! Die slag met wetenskapfiksie en darem tot 'n mate, 'n redelike verfrissende benadering. Daar is net een flater in Edge of Tomorrow. Die monsters is onmoontlik almagtig, net om deur 'n powere stringetjie handgranate uitgewis te word! Steeds redelike vermaak. Saam met die familie op die bank.


Office Space - 5/10

Office Space was seker in 1999 redelik op datum in terme van die kantoor gevoel. Dit het nogals 'n sterk industrie"le teater gevoel, maar desnieteenstaande, beslis verpligte materiaal vir alle kantoor-gebonde werkers. Daar is 'n paar regtig snaakse tonele, maar op die ou einde raak die film meganisties, die doodskoot vir enige humor en komedie. Kyk egter steeds, ek dink amper almal kan identifiseer met TPS reports... Saam met Bella op die bank. 


Transformers: Age of Extinction - 5/10

Transformers: Age of Extinction is eintlik maar net te uitgerek. Die grafika is sekerlik goed, maar die plot maar flou. Saam met die familie op die bank.