Mr. Popper's Penguins is die ideale familie fliekie. Kinders van redelik jonk af tot selfs 11/12 jariges sal dit baie geniet. Die pikkewyne is baie snaaks en oulik in die fliek. Gewone Hollywood-styl lessies word regdeur gegee. Saam met die familie by Menlyn Driaafin saam met Green Lantern
Monday, July 18, 2011
Green Lantern - 4/10
Green Lantern is dalk so bietjie te donker vir die 10 ouderdomsbeperking. Die storie is redelik, die effekte redelik, maar seker tog kykbaar. Ek sou nie uit my pad gaan om dit te kyk nie. Saam met die familie by Menlyn Driaafin saam met Mr Popper's Pengiuns.
Saturday, July 16, 2011
The Way Back - 6/10
The Way Back is gebaseer op 'n ware verhaal maar daar is skynbaar kommentaar dat nie alles gebeur het soos die outeur van die boek onthou het nie... Ten spyte hiervan word die rolle baie goed vertolk en wys die menslike oorlewingsin en gees dat alles amper moontlik is as mens net fokus en vasbyt. Baie soortgelyk aan 127 Hours. Kyk gerus as die wunderlust jou beetpak. Moet se daar is 'n paar dele wat ek ook baie graag sal wil stap. Rustige kykie vir 'n rustige aandjie tuis. Saam met Bella op die bank.
Thursday, July 14, 2011
Karate Kid (2010) - 5/10
In hierdie nuwe poging, waar die heiningafskuur met 'n baadjie optel/ophang vervang word, is die verhaal seker bietjie meer verteerbaar vir 'n nuwe generasie van jonges. Dit is heel aanvaarbare familie materiaal, en maar heel lig, dalk net met mooier tonele as die oorspronklike en dalk ook bietjie meer humor. Saam met die hele familie op Fanie se plaas naby Aliwal.
Papparazi - 5/10
As Papparazi dalk net so ietwat minder geweldadige lyn gehad het, sou dit waarkynlik baie beter gedoen het. Ek verstaan dat die manne met die kameras lastig kan wees, en dat hulle selfs baie ontstellende dinge aan arme sterre doen, maar om die moordlyn in te bring, maak dit die fliek iets anders as om die slegte kant van skindernuus uit te wys. Saam met Bella op ouma se DSTV in Bloemfontein.
Enigma - 6/10
Ek is oortuig daarvan dat ek Enigma destyds (2001 rond) gesien het in die kuns teaters. In elk geval 'n love story/periode drama in die Tweede Wereld oorlog tyd, met 'n heel boeiende lyn. Kyk gerus op 'n rustige aand as jy nie te veel aksie verwag nie. Saam met Bella op ouma se DSTV in Bloemfontein.
Cars 2 (3D) - 6/10
Cars 2 (3D) is 'n baie suksesvolle opvolg, veral as ek na my kortvolk luister. Dit is goeie ou Bond in animasie, sommer met 'n lekker Britse inslag daarby. Die fliek is so Amerikaans as wat mens hulle kry, maar oud en jonk sal dit geniet. Kyk gerus, maar moenie dubbelvlak dialoog of enige grootmens goeters verwag nie. Die grafika en veral die skaal van die stede is asemrowend. Saam met die familie in die teater by Zambezi Mall.
Fair Game (2010) - 5/10
Redelik kykbare ware verhaal, of ten minste as mens die storie kan glo, oor die korrupte Amerikaanse politieke stelsel. Fair Game is nie ontspannend nie, maar dan ook nie net dokumenter van aard nie. Dit het darem 'n spanningslyn, en dan aan die einde sien mens die werklike mense. Saam met Bella op die bank.
The Adjustment Bureau - 7/10
The Adjustment Bureau het 'n baie interessante storielyn en kan dalk selfs deur sommige as ietwat aan die verkeerde kant van die geloofgemaksone gesien word. Dit boei mens regdeur, raak dalk so ietwat verregaande op 'n plek of wat, maar eindig dan heel aanvaarbaar. Kyk gerus as 'n fiksie-riller. Op die ou einde is dit wel 'n lekker ou love story. Saam met Bella op die bank.
The Matrix - 9/10
Teen die tyd dat The Matrix uitgekom het, was dit sekerlik baanbreker ten opsigte van spesiale effekte en selfs storielyn. Ek het dit vir die eerste keer in 'n laaaang tyd weer gekyk, en voel steeds dat dit een van my gunstelinge is, ten spyte van die vreemde dialoog op 'n hele paar plekke, en seker tonele wat nou 'n dekade later, ietwat lagwekkend is. Die punt wat ek ook dan nou gee is hoe ek gevoel het toe ek dit die eerste keer gesien het. As ek reg onthou was dit op 'n publieke vakansiedag omdat ons moes stem of so iets. Saam met die hele familie op die bank.
Sunday, June 26, 2011
The Warrior's Way - 6/10
Mens verwag dalk baie meer van The Warrior's Way, veral omdat Mnr Rush, 'n onlangse Oscar-wenner daarin verskyn. Dit is 'n surrealistiese kruising tussen 'n lekker ou Western (bv 3:10 to Yuma), Japanese Krygskuns, soos bv Crouching Tiger, Hidden Dragon en The Imaginarium of Doctor Parnassus. Die verhaal is redelik eenvoudig en word met allerhande snaakse detail vertel. Dit kyk glad nie te sleg nie, maar ek sou nie reken dit moet jou lys van flieks wat jy moet sien kom nie. Saam met Bella op die bank.
127 Hours - 6/10
127 Hours is nog 'n ware verhaal wat redelik onlangs plaas gevind het. Dit wys hoe sterk die mens se wil ter oorlewing kan wees. Baie goed gemaak, veral as mens in ag neem dat dit meesal 'n eenpersoonsbedryf is. Ek sou reken dit is die hoogtepunt van Mnr Franco se loopbaan. Nie hoogs aan te bevele nie, maar ek sou reken mens moet dit maar sien. Saam met Bella op die bank.
Tuesday, June 21, 2011
The Extra Man - 6/10
The Extra Man is meer op die connoisseur mark gerig. Dit bestaan uit drie baie eksentrieke, vreemde rolle, met ietwat aweregse humor. Die verhaal is tog verteerbaar, en mens raak verdiep in die gebeure. Vir 'n stil aand bedoel, waar nie veel aksie verwag word nie. 'n Swaarder rooietjie sal baie help.... Saam met Bella op die bank.
Monday, June 20, 2011
Kung Fu Panda 2 (3D) - 5/10
Kung Fu Panda 2 (3D) werk baie goed in 3D. Die dialoog is nou wel nie dubbelvlakkig nie, maar die storie maak darem op. Dit is tog beter as die eerste uitgawe, en heel vermaaklik. Saam met die hele gesin en Joanice in die teater (Kolonnade)
Easy A - 5/10
Easy A is so ietwat beter as die gemiddelde met redelik skerp dialoog, veral van die hoofrol. Dit is dalk wel eerder vir 'n ietwat jonger gehoor (vroulik) bedoel, maar is tog kykbaar. Saam met Bella op die bank.
Dinner for Schmucks - 5/10
Dinner for Schmucks het heelwat vrek snaakse tonele, maar daar is tog heelwat komedie cliches ook in. Dit is 'n heel ontspanne fliekie, wat sal werk vir breindood vermaak. Mens kan verdiep raak in Mej Szostak se spelerige lispel.... Saam met Bella op die bank.
Friday, June 17, 2011
Made in Dagenham - 6/10
Made in Dagenham is 'n ware verhaal, en heel goed daarby. Die storielyn kon seker baie vervelig gewees het, maar die akkurate tydvak milieu skep 'n heel ander gevoel in die fliek. Dit is op geen stadium langdradig nie, wat baie die geval met ware verhale is. Kyk gerus op enige aand van die week, behalwe dalk breindoodvrydaeaande. Saam met Bella op die bank.
Burlesque - 6/10
Wel, ek is nie 'n musical aanhanger nie, maar Burlesque is heel kykbaar. Dit is nie vir my helemal so goed as Chicago nie. Dit is seker ook nie 100% opreg musical nie.... Die stories is maar basies, maar die gevoel van die fliek baie goed. Kyk gerus as jy lus is vir ontspanning en mooi lywe... Saam met Bella op die bank.Saturday, June 11, 2011
The Fighter - 7/10
Glad nie 'n lekker ontspannende fliek nie, maar beslis uitstekend vertolk, veral die twee hoof karakters. Die humor in die fliek le^ beslis dan ook in die familie van dames....Dit is gebaseer op 'n ware verhaal, maar volg nie die gewone inspirasie cliche nie. Kyk gerus, dalk nie op 'n Vrydagaand nie. Hulle vloek egter heelwat in die fliek. Saam met Bella op die bank.
Sunday, June 5, 2011
The Green Hornet - 4/10
The Green Hornet het baie potensiaal, maar Seth Rogen verongeluk die fliek helemal. Ek kan hom glad nie hanteer nie. Hy, Jack Black, Vince Vaughn en Will Ferrell kan gerus maar eerder ander werkies gaan kies as om flieks te probeer maak. Die fliek is andersins heel goed gemaak, en is tog kykbaar, maar Seth.... Saam met Bella op die bank.
Sunday, May 22, 2011
The Next Three Days - 7/10
Ek is nie 'n verskriklike groot Crowe fe^n nie, maar in The Next Three Days is sy vertolking van die hoofrol baie geloofwaardig en heel goed. Die fliek het 'n stadige spanningslyn wat opbou en voor jy jouself kry, is jy net so gespanne as die karakters. Nogals 'n onderskatte fliekie sou ek reken. Kyk gerus op enige aand van die week. Saam met Bella op die bank.
Wednesday, May 18, 2011
The Tourist - 6/10
The Tourist is visueel 'n pragtige fliek, en met 'n redelike storielyn en verassende einde. Die hoofrolle is goed vertolk, maar dit is die styl wat mens op die ou einde bybly, en dan natuurlik die ander hoofrol, Venisie. Ai, darem maar 'n mooi ou plekkie op die planeet. Saam met die hele familie en ouma op die bank.
The King's Speech - 10/10
Wel, dit gebeur baie min, maar hierdie, ten spyte van die Oscar-gezoem, is beslis 'n 10 werd. As mens slegs die tema vergelyk met iets soos Amazing Grace s'n, is dit ongelooflik dat mens so 'n aangrypende vertolking kan doen van iets so eenvoudig, en basies die kyker op die nippertjie van sy stoel hou, regdeur. Die vertolkings is eenvoudig net 'n orde bokant die res. Absoluut briljant. En ek was baie moeg, het eers hierdie 10uur die aand, voor ek die Lionman moes gaan ry, gekyk. Dit sal seker nie aanklank by almal vind nie, maar as jy enigsins van kunsflieks hou is hierdie een wat die term kunsfliek definieer. Uitstekend. Saam met Bella op die bank.
Secretariat - 5/10
Redelike Disney fliekie, met 'n lessie in, en kykbaar vir die hele familie. Die vertolkings is maar onder gemiddeld, maar die perde verleidelik mooi. Saam met die familie en ouma op die bank.
Amazing Grace - 5/10
Die fliek het baie potensiaal, maar word swakkerig vertolk deur die hoofspeler, en is maar baie vervelig met tye. Ek het lekker stukkies geslaap in hierdie een. Seker 'n beter Sondagaand keuse. Saam met Bella op die bank.
Law Abiding Citizen - 3/10
Ek raak nou dik vir hierdie tipe flieks. Een of ander slegte ding gebeur met 'n ou, en dan raak hy soos Superman, Mentalist, McGyver, Spiderman, Leverage se span en Hulk in een, en doen ongelooflike goed. Aag nee wat. Saam met Bella op die bank.
Séraphine - 6/10
Baie swaar, wroegende fliek, beslis nie ligte vermaak nie, met 'n tragiese einde. Beslis net as jy baie sterk voel, maar dan ook selfs nie eers nie. Goed vertolk en verfilm, maar dalk net te swaar vir my palet deesdae. Saam met Bella op die bank.
Little Fockers - 4/10
Nie so snaaks vir my as die vorige weergawes nie, maar het tog 'n snaakse oomblik of wat. Saam met Bella op die bank.
Gulliver's Travels - 6/10
Wel, ek is beslis nie 'n Jack Black aanhanger nie, maar as mens daarby verby kyk is Gulliver's Travels nie te slegte familie vermaak nie. Die spesiale effekte is uitstekend, en die toneel waar Gulliver die omgekeerde van die gewone ervaar is skreeusnaaks. Amanda Peet bly maar 'n groot gunsteling, al is sy nie die beste aktrise nie... Op die koop toe ook 'n skeutjie sosiale kommentaar. Saam met Bella op die bank.
Due Date - 4/10
Hmmm, ek is nie 'n roadie aanhanger nie, behalwe Thelma and Louise.... Hierdie een het sy snaakse oomblikke, maar dit was dalk te onder die belt vir my. Saam met Bella op die bank.Het hierdie weer raakgeloop op DSTV terwyl ons (vir Anrich se tafeltennis by Maritzburg College) by Rawdons in Midlands was (19 Julie 2019), maar na sowat 30 minute die aftog geblaas, dit net nie die moeite en tyd werd nie.
RED - 6/10
Aag wat, RED is sommer lekker ligte Vrydagaand materiaal. Ligte storie, goeie rol verdeling, lekker humor, en draaksteek met ernstige spaai flieks. Kyk gerus as jy wil ontspan. Dit is dalk daai ietwat bo die gewone. Saam met Bella op die bank.
Monday, April 18, 2011
The Book of Eli - 6/10
The book of Eli is nog 'n post-apokliptiese fliek, maar die slag met 'n skynbare geloofsinslag. As mens egter na die spesiale, ekstra mteriaal kyk, blyk dit nie so te wees nie. Wonder hoekom dit so uitgedraai het. Mens kry amper die gevoel dit was amper so bedoel, en toe na een of ander insident, verander die vervaardigers/regiseur/skrywer hul storie... Die fliek is amper monotoon, sonder kleur op die visuele front. Die lyn is ook heel eenvoudig, en mens kan amper se^ dit neig na ekonomie op al die fronte. Dit werk redelik, en hou mens geboei tot op die einde. Werk lekker vir Saterdaagaand vermaak. Heel aan die einde kry mens die gevoel dat Eli dalk blind kon wees, wonder nogals oor daardie een..... Saam met Bella op die bank.
Saturday, April 16, 2011
Stone - 6/10
Stone is 'n BAIE stadige spanningsriller! As mens so iets kan kry.... 'n Redelike swaar kykie na manipulasie, eksistensialisme, geloof en die tronklewe.... Sjoe dit was baie swaar vir 'n Vrydagaand. Goeie vertolkings, maar dalk te veel onderskat. Saam met Bella op die bank.
Monday, April 11, 2011
The Chronicles of Narnia: The Voyage of the Dawn Treader - 5/10
Waarskynlik die beste weergawe van die Narnia reeks tot dusver, maar dan moes mens die eerstes gesien het, om te verstaam waar hierdie inpas. Dalk nie meer so getrou aan CS Lewis se werke nie, dalk te veel ver-Hollywoods. Die grafika en spesiale effekte is egter uitnemend in hierdie weergawe. Vir die kleineres is die laaste draak dalk net te erg... Saam met die familie op die bank.
Good - 7/10
Good is 'n alternatiewe kyk op die Nazi's en is darem glad nie bloedig nie. Dit is dalk bietjie stadig en swaar, maar tog die kyk werd. Viggo Mortensen lewer 'n uitstekende vertolking. Die ietwat meer denkende Nazi inslag fliek. Kyk gerus op 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank.
Wednesday, April 6, 2011
The Big Bang Theory (Reekse 1 to 4) - 6/10
The Big Bang Theory is basies The IT Crowd se Hollywood weergawe. Dit is egter baie snaaks en lekker ligte vermaak. Saam met Bella op die Bank.
The American - 6/10
Ou George bly maar een van my gunsteling akteurs, en nog meer na The Men Who Stare at Goats... Ek moet dus net eenvoudig The American sien, veral met so titel. Die fliek het 'n baie rustige tempo, en is baie ekonomies verfilm. Italie bly darem verleidelik...Dalk nie vir almal se smaak bedoel nie, beslis nie hoofstroom nie. Goeie materiaal vir enige dag van die week. Saam met Bella op die bank.
Pi - 1/10
Pi is pynlik-esoteries ontoeganklik... Die titel het my beslis getrek, maar die fliek is eerder oor 'n neurotiese malkoppie. Die storie het werklikwaar niks te make met Pi nie, en nog minder met wiskunde. Die enigste wat in die fliek se guns tel is die growwe swart en wit beeld. Glad nie toegangbaar vir die gewone fliekganger nie. Saam met Bella op die bank.
Saturday, April 2, 2011
Memento - 7/10
Memento is al vrek lank op my lysie, bloot omdat ek dit net nie by die gewone video winkels kon opspoor nie. Dit het 'n baie interessante lyn, en is lekker Saterdagaand kyk materiaal. Kyk gerus, ek wil nie veel se^ nie, aders gee dit die lyn weg. Die fliek is minimalisties-ekonomies gemaak, moet dus nie baie klokkies-en-fluitjies verwag nie. Saam met Bella op die bank.
Eat Pray Love - 4/10
Ek vind Eat Pray Love heeltemal te pretensieus. Die fotografie, veral vir die eerste dele tot in Italie is egter baie mooi. Iets werk net nie lekker nie, dalk pas die rol nie by Julia nie, al lyk dit of sy oenskynlik heel goed speel, of dalk is dit die ander akteurs... Alleen op die bank, terwyl Bella en die manne in Bloemies kuier.
Monday, March 28, 2011
Spud - 6/10
Wel-wel, Spud is nog 'n Suid Afrikaansie fliekie wat nie te sleg afsteek teen die res van die wereld nie. Ek vermoed die boek gaan heelwat beter lees. Mens verdiep tog so bietjie in die fliek, seker oor al die herinneringe aan 'n onsekere sosiale bestaan in die tienerjare.... Saam met Bella op die bank.
Gnomeo & Juliet (3D) - 4/10
Wel, hierdie is seker uitstekende vroeg-laerskool vermaak. Dit is oulik en alles, maar tog maar vervelig vir die ouer garde. Daar is 'n paar snaakse grappe darem. Grafika raak al beter en beter... Wonder waar dit gaan eindig? Saam met die families Le Roux, Schroeder en King in die teater.
Tuesday, March 8, 2011
Black Swan - 7/10
Genugtig, maar Black Swan is maar 'n donker prentjie van Ballet! Hierdie is die eerste probeerslag vir Ballet-Riller wat ek van weet.... Die tempo van die fliek, veral die kameraskote pas by die tempo van die ballet, en dan veral Swan Lake. Die musiek is pragtig, en die mooi snitte word telkemaal herhaal. Ek is nie seker of hierdie goeie Sondagaand materiaal is nie....Dit is beslis nie ligte materiaal nie. En foeitog, die arme Swaan Koningin is maar in 'n penarie.. Saam met Bella op die bank.
The Kids are All Right - 7/10
Hmmm, hierdie is seker nie vir almal bedoel nie, maar is tog op die ou einde 'n baie goeie verhoudings-studie van moderne gesinne. Die karakterontwikkeling is puik en al die rolle word baie realisties vertolk. Nie heeltemal my idee van kyk genot nie... Ek sou dit glad nie as 'n komedie-drama (soos op die kassie) klassifiseer nie...Saam met Bella op die bank.
Alpha and Omega - 5/10
Die grafika vir Alpha and Omega is glad nie op die standaard van ander onlangse animasie flieks nie, maar is steeds heel kykbaar. Ons kinders het dit geniet. Dit is maar vol cliches. Saam met die familie op die bank.
Sunday, February 27, 2011
What Just Happened - 4/10
What just happened is maar taamlik vervelig, maar tog tot 'n mate interessant. Dis net dat die interessante brokkies te ver uitmekaar en min is... Saam met Bella op die bank.
Wednesday, February 23, 2011
The Other Guys - 5/10
Ek is glad nie 'n Will Ferrell fe^n nie, en hy irriteer my eintlik heelwat, maar daar is 'n paar redelik snaakse dele in The Other Guys....Dit is heel kykbaar maar raak tog so bietjie vervelig op 'n stadium en dan wag mens maar net dat dit oorgaan... Saam met Bella op die bank.
Megamind - 7/10
Ek moet se^ dat Megamind heel beter uitgedraai het as wat ek aanvanklik gedink het aan die begin van die fliek. Met 'n redelike droe" humorsin, en heelwat uitstekende versteekte verwysings na ander flieks soos Frankenstein, Ironman en selfs musiekkonserte soos Mick Jagger se tong-grafika, is dit heel kykbaar. Redelike paar cliches, maar dan is dit wel die doel van Megamind. My gunsteling snede is die deel waar die vissie na die Roemeense winkeltjie verwys...en ook "Girls, Girls, you're both pretty, let's move on"... Saam met die familie op die bank.
Monday, February 14, 2011
Red Cliff - 5/10
Red Cliff is heel kykbaar, maar beslis nie in dieselfde vlak as Crouching Tiger, Hidden Dragon nie. Dit is 'n langerige fliek, maar verveel darem nie. Seker nie 'n wye gehoor poging nie. Gelukkis sien ons die verkorte weergawe in die Weste en nie die twee-delige een nie.... Baie bloederig, maar op die Oosterse manier. Saam met Bell op die bank.
Subscribe to:
Posts (Atom)


















