Saturday, November 25, 2017

Tut, Minireeks - 6/10

Tut is 'n kort minireeks, maar met allemintige lang eposides. Hulle kon dit dalk maar eerder ses as drie episodes gemaak het. Veral ook omdat dit net te dramaties-stadig gepas word. Daar is redelik aksie, maar van die tonele is net te gerek. En ek is redelik oortuig die oor-gechoreografeerde sekstonele maak dit steeds nie meer toeganklik vir 'n wyer gehoor nie. En ja, die Egiptenare het vreemde idees oor skoon bloedlyne gehad... Ten minste is die rolverdeling redelik demografies oortuigend. Saam met Bella op die bank. 
 

Gunpowder, Minireeks - 7/10

Gunpowder vertel meer oor iets wat mens as kind as term leer, Guy Fawkes. Hierdie minireeks met net drie episodes het nogals 'n paar erge martel tonele. Die Britte het maar ook 'n donker geskiedenis. Die reeks is voorbeeld periode drama materiaal. Moet nie 'n romantiese, almal leef gelukkig vir ewig einde verwag nie, jy ken mos die storie.... Saam met Bella op die bank.


Friday, November 24, 2017

Tulip Fever - 7/10

Tulip Fever lyk aanvanklik swaar drama, maar dan neig dit meer na 'n romantiese, ligte drama. Ten minste leer mens van die eerste dot-kom borrel wat gebars het, grotendeels oor mooi tulpe. Neig ook na 'n tragie-komedie.... Gepaste rolverdeling met tipies Amerikaanse vertolking van Hollandse gedrag. Kyk gerus, maar meer gemik op die connoisseur fliekganger. Saam met Bella op die bank. 

Logan Lucky - 7/10

Logan Lucky is ligte, Vrydagaand vermaak. 'n Paar skreeusnaakse tonele, en 'n algemene ontspanne lyn. 'n Verassende rolverdeling wat uitstekend werk. Kyk hierdie as jy moet ontspan na die taai week, hierdie spannetjie se mannewales is net die regte doepa. Saam met Bella en Anrich op die bank.  

Sunday, November 19, 2017

Valerian and the City of a Thousand Planets - 6/10

Valerian and the City of a Thousand Planets is indrukwekkende grafika, met minder storie om die lyf. Dit kyk heel goed, alhoewel ek redelik pootuit was en hier-en-daar 'n stukkie gemis het.... Daar is heelwat interessante konsepte, veral die miljoen winkel kompleks. Die hoofrol vertolkings is nie heeltemal oortuigend nie, dit kort bietjie energie. Geniet gerus op 'n Saterdagaand. Saam met die familie op die bank. 


Sunday, November 12, 2017

Genius (2016) - 6/10

Genius lyk baie goed, veral vir die tipe fliek, maar ek kon net nie my oe" oop hou nie. Het halfpad die stryd opgese^. Bella het dit klaar gekyk. Tom Wolfe word uitgebeeld as 'n suiwer emosionele, impulsiewe, oormatige, melodramatiese karakter, amper dronk-mal. As hy wel so was, was die wereld vir hom een groot emosie. Die rolverdeling en vertolkings is seker gepas, met 'n algemene gevoel dat skrywers van hierdie era almal bietjie 'n varkie dalk mis,,,, 
  

Thor: Ragnarok - 6/10

Thor: Ragnarok is nogals komies en heel lig, maar met konstante geveg tonele. Dit is sekerlik Hulk se grootste praatrol ooit. Soos Bella ook noem, die Maleficent-tipe vroulike antagoniste raak so ietwat geyk. Egter 'n perfekte Saterdagaand fliekie met springmielies. Ons gesin by die dooie Zambezi mall, Capitol Cinemas.  

Saturday, November 4, 2017

The Infiltrator - 6/10

The Infiltrator is minder wreed as wat ek verwag het, maar tog steeds so. Het dit in paaimente gekyk, meesal alleen. Die rolverdeling en milieu is gepas, die vertolkings uitstekend. Moet dit nog klaar kyk. 

Ali and Nino - 8/10

Ali and Nino is 'n stroopsoet liefdesverhaal ten tyde van Azerbeidjan se eerste pogings vir onafhanklikheid van Sowjet-Rusland besetting gedurende die 1920's. Die milieu is kleur-ryk en romanties, ten minste tot voor die eerste struwelinge. Die skerp kontras tussen Bakoe en lewe in die berge maak dit moeilik om te besluit wat uiteindelik 'n beter keuse sou wees, 'n lewe van eenvoud en geluk, of 'n lewe van teensetting en soeke na soewereiniteit? In ieder geval, verwag 'n tragiese einde, of gaan lees dit sommer op. Sulke diamante soos hierdie is goed versteek in die hoofstroom pulp geraas, en dan leer mens nog sommer bietjie geskiedenis op die koop toe. Saam met Bella op die bank.



Doctor Who, 2005 Seisoen - 6/10

Doctor Who lyk heel interessant, en hierdie seisoen reeks beter as 'n ander een wat ek 'n stukkie van 'n episode gesien het op EK768. Het dit nog nie begin volg nie, sal 'n plan maak om saam met Anrich dit dalk te kyk. 

Dracula, Seisoen 1 - 5/10

Dracula lyk of dit potensiaal het, maar dan stel die loodsepisode ietwat teleur, en as mens na die opvolgende episodebeskrywings kyk, lyk dit nie of dit gaan beter raak nie. Sal dalk nie tyd in hierdie opsie bele nie. Saam met Bella op die bank.

Saturday, October 28, 2017

Fifty Shades Darker - 2/10

Fifty Shades Darker is beslis tydmors, dit werk net nie. Te stadig, powere rolverdeling, swak vertolkings, en glad nie eroties nie. Lagwekkende situasies waar dit nie moet wees nie... Vermy beslis, strengste op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Strike: The Cuckoo's Calling, Seisoen 1 - 7/10

Strike: The Cuckoo's Calling is 'n ordentlike wie't-dit-gedoen. Gepaste rolverdeling, oortuigende vertolkings. Raak-raak so aan noir (die kantoor, nie die vertelstyl nie). Kyk gerus, hierdie is Brits, so meer onderspeeld. Dit is 'n herhalende minireeks. Saam met Bella op die bank.

Sunday, October 22, 2017

Vir die Voels - 6/10

Vir die Voels is 'n redelike Afrikaanse drama-romanse. Dit is goed vervaardig, periode korrek, en glad nie te soetsappig nie. Alhoewel dit lig voorkom, is dit so bietjie aan die swaar kant, maar met genoeg humor of ligte oomblikke om dit nie swaarmoedig te laat voel nie. Kyk gerus, jy sal aangenaam verras wees. Het hierdie een op DVD moes kyk, iets wat ons jare laas gedoen het. Moes op die ou einde by Mr Video Wonderboom-Suid gaan huur. Daar is nie meer video winkels nie.... Saam met Bella op die bank. 

Viceroy's House - 5/10

Viceroy's House voel baie soos 'n dokumenter met twee hoofrolle wat sukkel om uit hulle suksesse te ontsnap. Lord Grantham, bly maar Lord Grantham, en Scully sukkel om geloofwaardig te wees. Ek het groot stukke geslaap, so kan nie regtig se^ ek het die fliek behoorlik gekyk nie. Saam met Bella op die bank. Gaap. 

Sunday, October 15, 2017

House of Cards, Seisoen 1 - 5/10

House of Cards is waarskynlik fantiesties goed, maar dit lyk vir my net te uitputtend om te kyk. Hou eers verby. Op EK768 vir werk na Dubai.


Alien: Covenant - 6/10

Alien: Covenant het my ietwat onkant betrap, ek het dit heelwat meer geniet as wat ek gedink het ek gaan. Dit is nie te grim nie, maar met 'n dodelike einde. Nogals 'n spannende lyn, nie oor die monsters nie, eerder oor die toekoms en ander goeters. Op EK768 vir werk na Dubai.


Mad Men, Seisoen 1 - 6/10

Mad Men stel bar chauvinisme hier aan die kaak, soveel so dat dit 'n moderne een nogals kriewelig sal laat voel. So-ook met die blatante breinspoel van die massas, aanvanklik gefokus op die verleiding van dampies slaan. Het die eerste opisode op EK768 gekyk, en dadelik Bella laat weet ons moet die res kyk. Was nogals teleurgestel dat daar al sewe seisoene is! Ek vermoed dit word dan sepierig, sal nog stees dalk net die eerste seisoen kyk.


SS-GB, Seisoen 1 - 7/10

SS-GB herinner sterk aan The Man in the High Castle , maar hierdie interpretasie voel so aks donkerder. Kragtige vertolkings, veral die manlike hoofrol, met 'n gepaste antagonis. Het die eerste episode op EK768 gesien en dadelik Bella laat weet ons moet beslis hierdie kyk. Alternatiewe uitkomste vir historiese gebeure, as dit periode-korrek is, is 'n aangename ontsnapping van die gewone stapel. 

Monday, October 9, 2017

Sully - 6/10

Al weet mens eintlik hoe Sully verloop het in realiteit, bly die film nogals spannend. Dit is gepas vervaardig, met net so 'n rolverdeling. En dit bly 'n wonder dat almal dit oorleef het - iets wat die film in slaag om te bevestig. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, October 8, 2017

The Gifted, Seisoen 1 - 4/10

The Gifted se eerste paar minute laat mens besluit, hierdie is dalk nie so sleg nie, en dan aan die einde van die eerste episode maak mens vinnig die besluit, net nog gewone pulp, nie die tyd of energie werd nie. Dit raak baie vinnig hiper-generies. Saam met Bella op die bank.

Inhumans, Seisoen 1 - 4/10

Neewat, Inhumans is so bietjie lagwekkend simpel. Hou verby. Mens voel glad nie tot enige van die karakters aangetrokke nie, die belegging in tyd is nie die moeite werd nie. Saam met die familie op die bank, alhoewel Franko nie eers wou probeer nie. 

War for the Planet of the Apes - 6/10

War for the Planet of the Apes beweeg nogals baie stadig, en spreek sterk eksistensiele elemente aan. Soveel so, beide Anrich en Franko het tou opgegooi na 'n kort rukkie. Die grafika is waarskynlik die nuwe industrie standaard, so perfek lyk dit. Dit kyk 'n bietjie moeiliker oor die stadige dialoog, maar dan, ten einde, voel mens nie ingedoen nie. Dit gebeur min, maar hierdie uitgawe verbeter op die eerstes. Saam met Bella op die bank.  


Spider-Man: Homecoming - 8/10

Spider-Man: Homecoming is regtig 'n verfrissende poging tot die superheld genre. Dit voel of iemand die gewone, tipiese tienerreaksie tot so 'n toestand gebruik het as leiding. Die humor en heelwat minder uitgerekte, sinlose gevegstonele, laat 'n genotvolle nasmaak in die mond. Dee fliek kyk lekker, selfs vir Anrich en Franko ook. Die enisgte krietiek tot die film is dat Tante May heeltemal te seksie vir haar rol is, dit moet mos 'n ou tannetjie wees!? En dit is glad nie donker nie, selfs kleineres sal dit kan geniet. Die stukke met Mnr Stark werk ook baie goed. Saam met die familie op die bank.
  

Atypical, Seisoen 1 - 7/10

Atypical herinner sterk aan Speechless. Mens vind byval met die karakters, en wil sien waarnatoe die storie beweeg. Daar is nog 'n nuwe reeks rondom 'n briljante Dokter met die selfde tipe tema, maar gaan dit nie probeer nie. Saam met Bella op die bank. 

Bywerking 12 Oktober 2021 Het die punt van ses na sewe hersien. Atypical het afgehandel maar is een van die min reekse wat nou 'n gaping laat in mens se gereelde kykmateriaal. Die vertolkings is uitnemend, veral die hoofrol.  

Young Sheldon, Seisoen 1 - 6/10

Young Sheldon is redelik, maar nie naastenby so goed as die hoofreeks nie. Sal dit nog kans gee, maar dan moet dit ietwat optel. Saam met die familie op die bank, alhoewel ek dink beide Franko en Anrich gaan dit nie verder kyk nie.


Original Sin - 5/10

Original Sin moes eintlik Original Sins gewees het, want die fliekie spreek wellus en hebsug aan.... Hierdie is beslis ook toe Angelina en Antonio nog jonk was - dit is 'n 2001 film. Kyk heel gemaklik, maar moet nie te veel verwag nie. Saam met Bella op die bank

The Last Post, Minireeks - 6/10

The Last Post is 'n kort reeks en lyk interessant genoeg om deur te volg. Dit is boonop in Suid Afrika verfilm, so mens herken heelwat van die plekke, veral Simonstad. Saam met Bella op die bank.


Saturday, October 7, 2017

Churchill - 7/10

Churchill is eintlik meer 'n kragtoer vir die hoofrol verdeling. Die ou man was maar moeilik, en het sekerlik hedendaagse geskiedenis eiehandig bepaal. Mens leer iets onverwags - ons eie Gen Jan Smuts se invloed en verhoudig met die Engelse Bulhond. Ook dat Churchill se vrou van staal, of dalk eerder titanium - gemaak was. Kyk gerus as hierdie geskiedenis jou interesseer, anders gaan jy heelwat gaap en slaap. Saam met Bella op die bank.

Saturday, September 30, 2017

Baby Driver - 7/10

Baby Driver is die mees kreatiefste wegkom-kar-fliek nog. Dit het 'n sterk Tagtigs gevoel met so sprinkel Tarantino daarby. Die rolverdeling werk veral goed, veral met die vroulike hoofrol. Saam met die familie op die bank.



Killing Gunther - 2/10

Killing Gunther herinner aan die aksioom dat komediante nie moet flieks maak nie... Hierdie is eintlik erg pateties, maar vir een of ander vreemde rede kyk mens dit klaar. Daar is net nie genoeg humor nie. Selfs Arnie red nie die fliek nie. Saam met die familie op die bank.

Maudie - 7/10

Maudie is 'n stadige, bittersoet liefdesdrama, gebaseer op ware gebeure (en persone). Dit bevestig mens het eintlik baie min nodig om gelukkig te wees... Die film kyk nogals moeilik, maar as mens die moeite doen om dit klaar te kyk, voel dit of jy iets bereik het. Minder van die manne sal hierdie een kan deurvoer. Saam met Bella op die bank.

Star Trek: Discovery, Seisoen 1 - 6/10

Star Trek: Discovery lyk en voel nie heeltemal soos Star Trek nie.... The Orville is meer Star Trek, net met humor en stoute dialoog by. Sal dit nog kans gee, maar die baie Klingon gepraat in die eerste twee episodes is ontmoedigend. Saam met Bella op die bank. Anrich sien nie kans nie, nie na die eerste episode nie, en Franko is nie 'n Trekkie nie. 

Saturday, September 16, 2017

Breathe In - 5/10

Breathe In is nogals pynlik stadig sonder enige aksie. Die musiek is mooi. Dit eindig baie stomp en sonder resolusie. Minder vir die manne bedoel. Saam met Bella op die bank. 

The Orville, Seisoen 1 - 5/10

The Orville is nogals 'n snaakse parodie, beslis gemik op Star Trek. Dit is presies Star Trek, maar dan is die dialoog nie altyd nie.... Dink nie ons gaan hierdie een deurvat nie, dit voel soos tydmors. Daar is egter heelwat snaakse tonele in die eeste episode. Saam met Bella op die bank.

The Big Sick - 6/10

The Big Sick kon heelwat korter gewees het. Dit raak so bietjie meganisties na die einde se kant, met 'n baie abrupte einde. Net te stadig. Beslis 'n tjiekfliek, maar dan op ware gebeure gebaseer, met die hoofrol as die werklike persoon.... Wonder wat die skoonfamilie van die fliek se^.... Ek dink die meeste manne sal deur hierdie een slaap of swoeg. Saam met Bella op die bank.


Startup, Seisoen 1 - 5/10

StartUp het my nie nie oortuig met Episode 1 nie, miskien sal ons nog een kyk. Die oppervlakkige, net vir die skyn, onrealistiese sekstonele is steurend. Blykbaar raak dit minder later in die reeks. Saam met Bella op die bank.


Monday, September 11, 2017

Pirates of the Caribbean: Dead Men Tell No Tales - 7/10

Pirates of the Caribbean: Dead Men Tell No Tales is pure Vrydagaand genot. Dit is lig, vol skerp dialoog en ontmoontlike situasies. Ek dink dalk die beste van die lot so ver. Indrukwekkende grafika, soos te verwagte. Die openingstoneel is puik! Saam met Bella en Anrich op die bank.


Sunday, September 3, 2017

The Ottoman Lieutenant - 6/10

The Ottoman Lieutenant is 'n liefdesverhaal teen die agtergrond van die Turke en Armeniers tydens die Eerste Wereld Oorlog. Die film slaag beide daarin om die gru en grim van oorlog tog te wys, maar nie oorheersend tot die tema nie. Alhoewel beide hoofrolle tegnies uitstekend vertolk word, is dit jammer dat beide van ander nasionaliteite is. Die milieu is gepas en word tot voordeel gebruik. Meer 'n stadige, emosievolle pas. Saam met Bella op die bank.
    

Despicable Me 3 - 4/10

Despicable Me 3 probeer kapitaliseer op die sukses van sy voorgangers, maar faal ongelukkig. Ten spyte van al die nimlike karakters, kort dit skerper humor. Die grafika is uitstekend, soos te verwagte, maar die lyn verveel. Saam met Anrich en Bella op die bank.

Saturday, August 26, 2017

The Exception - 7/10

The Exception is 'n soet liefdesverhaal, met 1940 as milieu. Gelukkig is die gru en grou van oorlog redelik beperk tot enkele tonele. Die rolverdeling is puik, met die oubaas Keiser 'n regte sports. 'n Boodskap van hoop en verandering en menslikheid. Kyk gerus, 'n mooi en lekker fliekie, nie te swaar nie. Saam met Bella op die bank.

Baywatch (2017) - 4/10

Baywatch is redelik onder-die-belt, met heelwat snaakse tonele. Beslis breinlose vermaaak, maar met baie snaakse dialoog, wat veral met die fliek self spot. Dit is nie 'n fyn spot nie, grof. Kyk op eie risiko. Verwag 'n oorvloed van borsies en boudjies, almal net-net beklee met op en oopgetrekte baaikostuums. Saam bet Bella op die bank.


The Tick, Seisoen 1 - 5/10

The Tick is nogals snaaks, maar lyk baie soos hedendaagse, generiese superheld reekse. Die oorvloed van Netflix en Amazon reekse het meesal 'n donker, stegierige New York milieu. Dit is 'n kort seisoen, en die episodes is net 30 minute. Sal nog 'n episode of wat kyk. Saam met Bella en Anrich op die bank, maar ek dink nie Anrich gaan die reeks volg nie.


Monday, August 21, 2017

Taboo, Seisoen 1 - 7/10

Taboo is stilisties uitstekend, met donder, broeiende vertolkings en nog meer onheilspellende karakters. Met ons eerste probeerslag het ons binne minute tou opgegooi, maar vanaand se vasbyt het betaal. Sal dit verder kyk. Saam met Bella op die bank.
  

13 Reasons Why, Seisoen 1 - 6/10

Alhoewel 13 Reasons Why 'n meer tragiese gebeurtenis omvat, volg dit 'n interessante konsep vir tiener-reekse. Die vertolkings is dinamies, oortuigend en gepas. Dit is 'n korterige, enkel-seisoen reeks so sal dit waarskynlik klaar kyk. Saam met Bella op die bank. 

Sunday, August 20, 2017

Colossal - 6/10

Dit is baie moeilik om Colossal in 'n genre te plaas, my beste poging is tjiekfliek met wetenskapfiksie as karakter. Die fliek kyk makliker, alhoewel dit eintlik maar baie sterk metafories, en dalk dan meer abstrak-emosioneel is. Nie bedoel vir die hoofstroom manlike kyker nie. Die twee reuse is op die ou einde blote manifesterings van die abstrakte emosionele toestand, aksies en re-aksies, en die gesukkel om dit te kan uitdruk in woorde en konkrete goeters. Die reuse verskaf gedaante aan die morsige binnekant, met al sy bagasie. Tot 'n mate herinner dit aan Eternal Sunshine of the Spotless Mind maar is beslis nie so goed nie. Saam met Bella op die bank.





Marvel's The Defenders, Seisoen 1 - 6/10

Die Marvel's The Defenders loodsepisode skep nie juis 'n swanger verwagting nie, so hopelik versnel die pas met die volgende paar aangesien daar net agt is. Dit lyk beter as die individuele reekse. Donkerder ondertone met redelik baie dialoog. Saam met Bella en Anrich op die bank.  

Sunday, August 13, 2017

How to Be a Latin Lover - 4/10

How to Be a Latin Lover bewys dat humor oor die kultuurgrense heen nie altyd vertaal nie. Daar is egter heelwat snaakse tonele, veral die swembad-skoenpolitoer een. Baie ligte komedie, met oppervlakkige vertolkings. Saam met Bella op die bank.

Saturday, August 12, 2017

The Circle - 5/10

The Circle is bietjie lig in die broek vir so gewigtige tema. Die vertolkings ook dan verassend gemiddeld. Nog steeds interessant, en darem kykbaar, net-net. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, August 9, 2017

The Food Guide to Love - 5/10

The Food Guide to Love is baie ligte vermaak, beslis vir die dames, maar tog kykbaar. Gepaste vertolkings, dalk nie die beste in die klas nie. Omtrent so twee minute in is daar regtig 'n snaakse toneel. In die bed... Saam met Bella op die bank.