Ons het toevallig twee films op dieselfde aand met Amy Adams in gekyk. In beide was sy uitsonderlik, alhoewel sy nog nie 'n gunsteling aktrise is nie. In Night at the Museum: Battle of the Smithsonian is sy regtig goed as Amelia Earhart. In hierdie fliek speel sy weer 'n taai koekie, maar die keer met 'n heeltemal ander gemoedstemming. Sunshine is dalk hier en daar so bietjie stadig, maar steeds 'n goeie opsie. Dit is die probeerslae van die mense wat mens maar raak in die film, en dan ook die mislukkings. Dit is dalk so klein bietjie sentimenteel, maar seker dan toepaslik. Alan Arkin bly ook 'n redelike goeie akteur. Hy verleen aanvanklik 'n stabiliserende rol, wat dan skielik ook in vrot vis verander, en dan weer terugskakel (die klein stukkie sentiment). Wat dalk so bietjie onrealisties is, is die manier wat die mense deur al die dinges vasbyt en aanbeur.... Goeie film, dalk nie heeltemal kuns nie, maar ook nie net mainstream nie. Saam met Bella op die bank.
Sunday, October 25, 2009
Saturday, October 24, 2009
Die Fälscher (The Counterfeiters) - 7/10
Die Fälscher is 'n baie goeie oorlog film, met 'n ander tipe storie as wat mens gewoonlik sou verwag. Die hoofkarakter het net eenvoudig 'n gesig wat mens laat dink aan slegte tronke, erge skelms, en baie swaarkry. Die grimmigheid van oorlog is darem in 'n verwerkbare vorm aangebied, maar tog steeds ontstellend. Dit help dat mens dit as 'n terugflits kyk, dit maak die verwagtings so bietjie meer gedemp (dat iemand nou nie halfpad in die fliek sal doodgaan nie). Dit wys ook dat nie alle Duitsers dieselfde wou doen aan die Jode nie. Saam met Bella op die bank.
Sunday, October 18, 2009
Dragonball Evolution - 4/10
Hierdie gee heeltemal weg dat ek te oud raak vir hierdie tipe flieks. Dragonball Evolution is net nie my koppie koffie nie. Die spesiale effekte is nie snaaks nie, en die storie maar dun. Op rekenaar terwyl ek in Arniston was vir werk.
Jersey Girl - 4/10
Jawel, 'n ietwat voorspelbare fliekie, met nie te veel om die lyf nie. Dit tel seker as 'n tjiekfliek. Dit is erg Hollywoods, sentimenteel en resepie gedrewe. Aan te beveel vir 'n breinlose Vrydagaand op DVD. Op rekenaar terwyl ek in Waenhuiskrans was vir werk.
Sunday, October 11, 2009
Angels and Demons - 6/10
Hierdie opvolg op The Da Vinci Code is vir my effens beter as die voorganger. Op die ou einde is dit maar net 'n ietwat meer intelligente skattejag-tipe fliek met die Katolieke hoofkwartiere as milieu. Daar is nie juis sprake van karakterontikkeling nie, en vir een of ander rede het ek reeds met die heel eerste toneel met ou Ewan in, geweet hy is die opperskurk in die verhaal. Die fliek is 'n lekker Vrydagaand opsie. Saam met Bella op die bank.
Thursday, October 8, 2009
Bedtime Stories - 6/10
Hierdie so sowaar 'n baie goeie familie fliekie. Dit is lekker lig om te kyk en mens geniet dit baie saam met die kinders. Dit het ook nie dooie, vervelige stukke nie. Saam met die familie op die bank.
Sunday, October 4, 2009
The Great Gatsby - 6/10
The Great Gatsby met 'n redelik enigmatiese Robert Redford (1974) is wel aan te beveel. Ek moet egter erken dat ek die film heelwat meer sou gegee het, as hulle iemand anders as die floskoppie Mia Farrow gebruik het. Iemand wat dalk meer soos Lois Chiles, wat die rol van Jordan vertolk het, is. Ek het die boek gelees, en voel dat hulle met die film dit nie 'n onreg aandoen nie. Gatsby se huis is asemrowend - vir die tydperk - en die partytjies dalk nog losser was wat mens die voorgestel het. Saam met Bella of die bank.
Saturday, October 3, 2009
White Coats (Intern Academy) - 4/10
White Coats (Intern Academy) is nie te sleg om te kyk, al gee ek dit 4/10. Dit is hiper ligte vermaak en sal waarskynlik meer geniet word deur mediese studente. Dit is 'n beter Kanadese komedie. Saam met Bella op die Bank.
Friday, October 2, 2009
Changeling - 7/10
Changeling is 'n swaarder drama gebaseer op werklike gebeure. Clint Eastwood as regiseur het 'n redelike sagte benadering, maar ek voel van die tonele, veral waar die jong kinders betrokke is, kon hy nog meer impliseer wat gebeur, en nie noodwendig wys nie. Angelina speel so effens oordrewe, maar is tog goed. Dalk nie Oscar materiaal nie. Sy trek egter vreeslik mooi aan in die fliek. Die tydperk is ook baie mooi herhaal in die fliek. Een van my vrese word baie goed in hierdie fliek uitgebeeld - dat mens sonder rede in 'n gestig gegooi word tussen malles en dan regtig mal word.... Nie heeltemal Vrydagaand vermaak nie, maar dit is so goed dat dit nie regtig pla nie. Saam met Bella op DVD.
Thursday, October 1, 2009
Race to Witch Mountain - 4/10
Race to Witch Mountain is 'n Disney fliekie met sekerlik die mees irriterende klankbaan ooit. Hulle kon darem wraggies ten minste twee verskillende "backtracks" gebruik en nie net een nie....My 6 en 9 jariges het die fliek baie gelaaik.....Saam met die familie op die bank.
All's Faire in Love - 5/10

All's Faire in Love is 'n baie onbekende fliek met nog meer onbekende karakters, behalwe vir Christina Ricci. Dit is egter heel kykbaar. Die milieu is tot 'n mate verfrissend, maar die storielyn seker nie. Agv die milieu, is die storie, wat reeds lig is, nog meer tong in die kies. Vir 'n naweeksaand as jy regtig in 'n goeie bui is. Saam met Bella op die bank. Groter kinders, meesal dogters sal die fliek baie geniet.
Get Smart's Bruce and Lloyd Out of Control - 4/10
Aag nou ja, mens moes seker verwag dat hierdie twee 'n splinterfliekie sou maak. Moet se^ dat die Hymie skreeusnaaks is - die akteur wat dit doen is perfek. Net jammer daar is so min van hom in hierdie fliek. Aag wat, lekker Vrydagaandbreinlosevermaak. Dit is mak genoeg vir 9-jarige seuns ook. Saam met die hele familie op die bank.
Sunday, September 27, 2009
Chicken Run - 6/10
Chicken Run is puik, veral as mens dink dit is grotendeels met klei gedoen. Dit is seker nou die derde keer wat ek dit sien, maar het nog net nooit 'n resensensie daaroor geskryf nie. Dit is goeie familie vermaak. Saam met die hele familie, insluitend Pa Harm en Ma Lenie, in Bloemfontein op hulle DSTV.
X-Men Origins: Wolverine - 8/10
X-Men Origins: Wolverine is baie goed vir die genre - dit het 'n kompleks genoeg storielyn, die karakters is baie geloofwaardig, en die aksie is nie te bloederig nie. Die spesiale effekte is ook nie steurend nie. Ek is nie 'n vreeslike Hugh Jackman aanhanger nie, veral nie na Australia nie, maar in hierdie fliek pas hy baie goed. Dit is die meer denkende superheld fliek, soos byvoorbeel die Hulk met Eric Bana. Dit is ook heelwat beter as die eerste twee uitgawes. Dit werk op DVD. Saam met Bella op die bank.
Monday, September 21, 2009
The Day the Earth Stood Still - 3/10
Aag nee wat, dit is seker die slegste fliek wat een van my gunsteling aktrises nog gemaak het... Die storie is flou, die effekte is flou, alles is flou. Vermy maar eerder. Ek het boonop gedink die fliek handel oor die titel en nie verbeeldinglose, vervelige buitenruimse wesens nie.... Saam met Bella op die bank.
Wednesday, September 16, 2009
Phoebe in Wonderland - 7/10
Phoebe in Wonderland is nogals 'n moeilike een om iets oor te skryf. Aanvanklik lyk die familie so bietjie disfunksioneel, maar dan besef mens tog later dit is nie so nie. Die fliek is uiters goed gemaak, met briljante vertolkings van omtrent al die akteurs, insluitend al die kinders. Dit is egter Phoebe en die Koningin van Harte wat uitstaan bo die res. Ek sou reken die Oscar beoordeelaars gaan 'n moeilike tyd he^ om beste ondersteunende rol te bepaal...Ek moet se^ dat die kinderakteurs uiters moeilike rolle met skynbare gemak vertolk. Die fliek is dalk ietwat bokant my emosionele intelligensie, maar dit bly egter 'n goeie fliek om te kyk. Dit is beslis die moeite werd om te kyk, veral vir iemand wat van so bietjie meer om die lyf hou. Verskeie temas word ook aangespreek, waarvan eksistensialisme, kinders-grootmaak en Touret se Sindroom beslis drie is. Saam met Bella op die bank.
Sunday, September 13, 2009
Zack and Miri Make a Porno - 4/10
Hmmm, ja, ek dink Seth Rogen begin te veel soos Jack Black word - hy is soms snaaks, maar net te irriterend in sy poging om die Hollywood-idee van 'n held te probeer omverwerp. Zack and Miri Make a Porno probeer 'n alternatiewe tjiekfkliek te wees, maar slaag nie regtig nie - die liefdesverhaaltjie is daar, alhoewel dunnerig, en met soveel kru taal dat dit maar nie lekker is om te kyk nie. Die seks en naaktonele is te min en onopvallend dat dit sal pla. Selfs die titel se blaf is baie erger as sy byt. Dit is net die baie vloek wat naderhand nie meer snaaks is nie. Mens kan so fliek baie meer stylvol maak, en steeds anders wees. Saam met Bella op die bank. Vermy maar eerder.
Shark Tale - 5/10
Redelike kykbare fliekie met baie gewilde akteurs se stemme. Shark Tale is darem 'n kinderfliek met 'n boonste lagie vir die grootmense...Saam met die familie op die bank. Dit is ook 'n DVD wat die kinders besit. Moet se^ dat De Niro nogals goed is, en dat die hy so wraggies nes hy lyk!
Monday, September 7, 2009
Flash of Genius - 5/10
'n Heel aanvaarbare film oor Dr Kearns, die uitvinder van die "intermittent wiper" aksie. Hy het hom vrek gesukkel om erken te word. Greg Kinnear is nie te sleg as 'n regte ingenieur nie, en speel heel geloofwaardig. Hierdie is 'n redelike Sondagaand fliekie, wat maar redelik gou vergete sal wees. Saam met Bella op die bank.
Saturday, September 5, 2009
Watchmen - 8/10
Watchmen is visueel een van die bestes wat ek nog gesien het - die tonele spring as't ware uit die skerm uit. Die storielyn is kompleks genoeg, en die karakters geloofwaardig in hul rolle. Hierdie is egter nie jou standaard superheld film nie, en moet ook nie verwag dat hulle sonder foute is nie. Dit volg ook nie die gewone humor pad nie, alhoewel daar genoeg dialoog is wat mens seker as humor kan beskou. Daar word ook seker 'n paar eksistensiele temas aangespreek, veral na die einde waar die blouman, oftewel Dr Manhatten, 'n opoffering maak ten einde die mensdom teen homself te red. Hy het dit egter nie vrywillig gedoen van die begin af nie, maar is eerder daarin in-getruuk. Aan te beveel vir die ou wat so bietjie meer as spiere van sy superhelde verwag, en wat soos Hancock maar 'n paar slegte geraamtes in die kas het. Die fliek sal die meer onderskeidende teaterganger beloon met sterk visuele vertoon, 'n goeie storielyn en 'n paar taai temas om aan te herkou. So terloops, hierdie gaan nie lekker op 'n klein skermpie werk nie. Saam met Bella op die bank.

Hotel for Dogs - 5/10
Hotel for Dogs is maar 'n doodgewone kinderfliekie, met nie eintlik 'n boodskap vir die ouers nie. Dit het ook nie 'n gelaagde dialoog poging nie. Die kinders geniet dit egter baie.
Monday, August 31, 2009
Wag the Dog - 6/10
Wag the Dog is 'n ouer fliek wat ons video winkel besluit het om nou eers aan te koop. Dit is redelik tydloos (1997) en voel nog steeds vars. De Niro en Hoffman bly maar goeie akteurs. Die film is lekker kykbaar, en goeie medisyne vir 'n Sondagaand. Saam met Bella op die bank. Dit is beslis nie net gemiddelde vermaak nie.
The Spirit - 6/10
Na Sin City, is ek 'n redelike Frank Miller aanhanger. The Spirit stel nie teleur nie. Dit is heelwat ligter as Sin City, wat nogals donker en heelwat meer geweldadig is. Die dialoog in Spirit is baie goed, en veral ou Scarlett, as Silken Floss, speel iets anders as die seksie meisie, alhoewel sy nogals oulik lyk in die rol ook. Sy bly maar 'n gunsteling. Moet se^ die storieverteller kan by tye so ietwat irriterend wees, en die tweede helfte van die film is beter as die eerste deel. Die klone ("we was..") is uitstekend en nogals snaaks met tye. Saam met Bella op die bank. Vir meer avontuurlistige fliekgangers bedoel, wat iets anders as Tarantino soek vir pulp alternatiewe... Kyk ook gerus die onderhoud met Miller in die ekstra dele - baie interessant...
Saturday, August 22, 2009
The Transporter II - 5/10
Wel ons het van nommer I en III gehou, met I vir my beter as III. Ek hoop dus II stel nie teleur nie...Dit het ook toe nie. Is regtig kykbare aksie, met koel truuks. Lekker Vrydagaand medisyne. Saam met Bella op die bank. Ons ete saam met die Van Pletzens is gekanselleer agv Anrich se ongeval met die deur by Chamberlains.
Friday, August 21, 2009
Perfect 10 - 3/10
Perfect 10 kry ek glad nerens opgespoor op 'n site nie. Dit was op etv tydens my besoek aan die EO Kamp by Polokwane (Pietersburg) laasweek. Dit is nie heeltemal onkykbaar nie, maar het een of ander bleeksiel as hoofkarakter wat dink die son skyn uit sy alie. Dit is egter dalk beter om hierdie op die ou einde te ignoreer.
The Wrestler - 8/10
Veral na Sin City, kyk ek met ander oe" na Mnr Rourke....The Wrestler is 'n moeilike film om te kyk, maar uitstekend. Die karakterontwikkeling is so goed as wat mens dit kan kry, en Randy is so geloofwaardig dat mens dit nie anders kan voorstel nie. Die fliek spreek uiteindelik verskeie diep temas aan, maar veral eksistensialisme. Randy se^ ook dan op 'n stadium in die fliek: Dit is veiliger vir hom in die arena, wat maar erg lyk, as die lewe buite die arena - daar kry mens op ander vlakke seer, eerder as fisies. Randy bestuur sy beserings soos hy al jare doen, maar weet nie regtig hoe om emosies te bestuur nie. Die fliek is regte arthouse, en glad nie toeganklik vir die ou wat breinlose vermaak soek nie. Stoei fanatici mag dit dalk toeganklik vind, maar sal dan waarskynlik eerder na die tegniese aspekte van stoei kyk. Hierdie is beslis nie ligte vermaak nie. Marissa Tomei speel dan ook 'n verassende rol, die een van 'n ontkleedanser. Soos in Before the devil knows you're dead, is sy glad nie skaam om van haar kleertjies ontslae te raak en meer as net lyf te wys nie. Vir 'n girl van 45 het sy 'n lyf wat baie twintigjariges sal laat skaamkry. Ek het die fliek nouwel nie ontspannend gevind nie, en ook nie die regte ding vir 'n Vrydagaand nie, maar dit steeds geniet omdat dit so goed is. Saam met Bella op die bank.
Wednesday, August 19, 2009
The Hangover - 7/10
The Hangover is sekerlik die beste in die genre van ramparty flieks wat ek nog gesien het. Die film het 'n baie interessante storielyn, en die karakters word met oortuiging vertolk, alhoewel met die nodige skep van oordrewenheid. Die arme manne bevind hulle self in pynlike situasies na die party. Dit is beslis snaaks, en daar is vele situasies, nie net 'n paar floues nie. Hulle vloek redelik baie in fliek. In Polokwane (Savannah mall) in die teater, tydens 'n veldoefening van die werk. Weereens alleen. Daar is ook redelik van die situasies wat mens lank na die tyd bybly, en opnuut voor laat lag. Kyk gerus, veral as jy 'n ramparty beplan of gaan bywoon...
Tuesday, August 18, 2009
G.I. Joe: The Rise of Cobra - 6/10
Die slagspreuk op G.I. Joe: The Rise of Cobra se plakaat is: Evil never looked so good, en is hulle reg...Sjoe, die twee hoofaktrises doen dit gestand. Die fliek is beslis nie 'n Gadget Bond nie, maar het baie meer koel apparaatjies en truuks as die laaste drie Bond films saam. Dit is baie vinnige kop-dronk aksie, en heel kykbaar, maar beslis net in die teater - dit sal effek verloor, selfs op 'n 40" skerm. Ek het dit geniet, dit hou mens meesal op die punt van jou stoel. Het hierdie in Polokwane se Savannah mall gesien tydens die EO Kamp wat ek bygewoon het. Ongelukkig alleen. Sienna was nogals heel koel in die fliek, alhoewel dan een van die Evil girls...
Sunday, August 16, 2009
Balls Out: Gary the Tennis Coach - 3/10
Balls Out: Gary the Tennis Coach was maar ietwat teleurstellend - veral na The Interview. Dit was maar heelwat onder die belt, maar darem snaaks hier en daar. Ek dink dit was net te oordrewe om sin te maak as 'n alternatiewe kunsfliek. Daar is baie pynlik ongemaklike tonele, wat mens so kriewel gee. Dit probeer dan ook te veel genres aan te spreek - inspirasie, komedie, slap-stick, ...., te veel om die fliek regtig rigting te gee. Saam met Bella op die bank. Nie regtig aan te bevele nie.
Jesse Stone - 5/10
So wraggies waar! Magnum speel nog in flieks! Hierdie lyk soos een van daardie reeks flieks. Ou M speel 'n hardebaard polisieman, wat regtig niks k*k van niemand vat nie, en dinge doen soos sy hy dink hy moet. Dis een van daai flieks waar mens dink, ek sou hier so of sus gemaak het, en dan doen hy dit - die voor die hand liggendes, wat die res van die flieks gewoonlik nie doen nie, want dit sal nie verkoop nie....Heel kykbaar. Hierdie ook saam met Bella op die bed op Kiara Lodge, Clarens, se DSTV.
Fool's Gold - 5/10
Wel, nog 'n fliek waarin die meeste dames floutes kry by die aansig van ou Matt se borskas. Die storie is darem beter as die meeste van hierdie tipe flieks en heel kykbaar. Dit is egter maar heel voorspelbaar op die ou einde. Saam met Bella op die bank, of eerder die bed....hierdie slag op Kiara Lodge se DSTV kanaal, naby Clarens, lekker laat in die aand. Net jammer dit was 'n baie klein skermpie.
Tuesday, August 11, 2009
Hors de prix (Priceless) - 6/10
Ek het Priceless baie geniet. Dit is seker 'n gemiddelde Franse film, maar die feit dat hulle dit Frans gehou het, met onderskrifte, lig dit vir my daardie aks uit. Ek is 'n groot aanhanger van Audrey Tatou, veral na aanleiding van Le fabuleux destin d'Amélie Poulain (Amelie). Hierdie een is nie so goed soos Amelie nie, maar vertel tog die bittersoet liefdesverhaal van 'n dood gewone ou. Die fliek het 'n paar pynlik-ongemaklike stituasies, alles deel van die komiese inslag. Aan te beveel as ligte vermaak vir die ietwat meer onderskeidende fliekganger. Saam met Bella op die bank.
Boetie gaan border toe - 5/10
Jawel, hierdie is ook die tweede keer dat ek Boetie gaan border toe sien. Die eerste slag was in die Astra teater op Pietersburg destyds in 1984. Ek was in 'n rype Standerd IV.... Ek moet se^ dat ek die fliek destyds baie geniet het, en vermoed ook dat daar 'n stuk aan die einde afgesny is met die oorsit op DVD. Ou Janie du Plessis is steeds vir my 'n mooi girl, met spiky hare en al. Die storielyn val egter so bietjie rond, en mens voel ietwat verward in van die tonele. Maar dan is dit ook seker hoe dit in die Army was destyds. Mens moet hierdie maar weer 'n slag sien, want dit lewer op die ou einde baie skerp kommentaar. Saam met Bella op die bank.
Sunday, August 9, 2009
Role Models - 6/10
Wel, die ou van Role Models het baie goed gedoen in The Promotion, so toe probeer ons maar hierdie een wat op die oog af redelik gemiddeld lyk. Vrek, die fliek val buite die genres wat ek ken! Dit is inspirerend, jackass-agtig, Hollywoods, komedie,... wat nog !? Dit is beslis vermaaklik, maar dalk 'n bietjie vreemd vir die gewone, gemaklike fliekganger. Seann is beslis 'n goeie akteur want hy pas met gemak in ietwat ernstiger rolle in, en dan soos hierdie. Daar is 'n paar vrek snaakse tonele, en hierdie een van daai flieks wat jou gaan bybly - of dit nou op 'n goeie of slegte manier is, is 'n ope vraag. Aan te bevele, maar met ietwat van 'n huiwering. Saam met Bella op die bank. O, en die verduidelik oor hoekom die meeste mans so behep is met die borste van vroue is seker nie te ver van die waarheid nie - daar is 'n oormag!
Saturday, August 8, 2009
Transporter - 5/10
Transporter III was heel aanvaarbaar, so nou probeer ons maar die eerste twee. Nommer een is vir my effens beter as III, met 'n bietjie meer storie. Die aanslag van Luc Besson is duidelik in hierdie films, maar ek moet se^ die aksie tonele lyk net te gestileers en gekorigrafeerd - veral die skop en slaan tonele. Dit is waar III beter vaar. Goeie Vrydagaand vermaak. Saam met Bella op die bank.
The Shaggy Dog - 6/10
The Shaggy Dog het ek al voorheen gesien saam met my twee laaities, maar kan om die dood nie onthou wanneer nie. Dit was wel op DVD op die bank onthou ek vaagweg. Die storie kan ek redelik goed onthou. Ek moet se dat daar 'n paar regtige snaakse tonele is, en beide Tim the Tooltime Man, oftewel, Buzz Lightyear, en Ironman, oftewel Robert, pas goed in hul rolle. Die tong-uithang toneel is baie snaaks, en beide die laaities en Isabel het dit baie geniet. Goeie familie vermaak, bo-gemiddeld, sou ek reken. Saam met die hele familie op die bank die slag.
Invincible - 5/10
Invincible is maar 'n redelike standaard inspirasie-tipe feel-goodie fliekie. Dit is darem gebaseer op 'n ware verhaal met uittreksels aan die einde van die werklike mense. Ek is nie juis 'n sport-kyker nie, en ook nie 'n Amerikaanse Rugby aanhanger nie. Die sport kry egter so amper sy eie karakter in die fliek. Die karakter ontwikkeling is nie te sterk nie, maar hulle probeer darem so bietjie. Dit is 'n Disney fliek, so dit is heeltemal mak genoeg vir die familie. Saam met Bella op die bank.
Thursday, August 6, 2009
Astérix aux jeux olympiques (Asterix at the Olympic Games) - 7/10
Tuesday, August 4, 2009
Wild Child - 5/10
Wild Child is nie 'n te slegte opsie vir 'n Vrydagaand of so nie. Dit is seker eerder gemik op die laat laerskool mark. Dit is vir my baie dieselfde as 17 Again, en dalk selfs ietwat beter. Saam met Bella op die bank.
Monday, August 3, 2009
The News Movie (aka The Onion Movie) - 3/10
The News Movie is eintlik maar dodelik vervelig, met hier-en-daar 'n snaaks genoeg toneeltjie vir 'n laggie of twee. Redelik breindood, met so bietjie minder respek vir heilige koeie, maar dan ook nie regtig eintlik nie. Saam met Bella op die bank. Beter om dit maar 'n mis te
gee.
Saturday, August 1, 2009
Van der Merwe PI - 6/10
Nou ja, hierdie is ook 'n punt wat ek gee gegrond op die eerste keer toe ek die fliek in 1988 gesien het. Dis so SA as wat jy kan kry en Anneline Kriel lyk asof sy uit die 80's ontsnap het. Saam met die familie op die bank die slag. Aag wat, ons het lekker gelag, veral vir die short fuze.
El Laberinto Del Fauno (Pan's Labyrinth) - 8/10
Sjoe, vir 'n Spaanse fliek is hierdie een werklik uitstaande. Dit is 'n volwasse sprokie wat twee werelde so meng dat die bisarre sprokie wereld baie meer vriendelik lyk as die harde, koue werklikheid van oorlog. Dit is dan die Capitano, oftewel die weermag kaptein, wat uitstaan as die monster in die verhaal. Die res van die karakters is mak teen sy koue, gevoelose handelings. Die fliek het 'n paar ernstige onstellende tonele, en dan ook aan die regte wereld kant, nie in die sprokie kant nie...Die sprokie monsters is puik, en mens het nog nie sulke skeppings gesien nie. Die fliek hou mens op die punt van jou stoel deurentyd, en al die akteurs is uitstaande. Die fliek het 'n vars benadering, anders as die gewone pulp wat Hollywood aan mens voorle. Dit is hoogs aan te bevele. Ten spyte van die ontstellende paar tonele, is die fliek aangenaam om te kyk, en mens kan nog lekker baie daaroor dink ook. Saam met Bella op die bank. As jy hierdie wil kyk by die huis maak seker jy skakel die ligte af, het 'n 40 duim of groter skerm, en iets om aan te knaag.
Crossing Over - 8/10
Crossing Over is 'n regte art-house fliekie vir my - dit handel baie realisties oor 'n paar lyne in die regte wereld wat dan op die ou einde tot 'n sameloop kom, maar ook nie tot 'n enkele een nie. Die fliek raak mens tog, veral omdat dit nie net fokus op een demografie nie, maar die wyer spektrum aanspreek. Dit raak ook 'n interessante kwessie aan wanneer die Australiaanse paartjie baie verskillende benaderings gebruik tot hul pogings om groenkaarte te kry. Op die ou einde is dit nie so duidelik watter een van die twee werklik verkeerd gehandel het nie. Die een het egter so paar "lykies" langs die pad gelos, en die ander een nie....Hierdie fliek is ook vir die effens meer gesoute kunsfliek ondersteuner bedoel, maar is toeganklik vir iemand wat daarvan hou om te dink oor flieks. Die rolle wat almal puik gespeel, en Mnr Ford doen baie goed hier. Dit is egter die dogter wat haar alternatiewe kyk op die lewe in die klas probeer voordra wat werklik goed speel. Vir die eerste keer in 'n laaaang ruk wat ek in die teater, en dan ook saam met my groot fliek tjommie, Guillaume, gaan fliek het. Hoogs aan te beveel.
Pushing Tin - 5/10
Elke ou wat te doen het met lugverkeer goeters moet Pushing Tin kyk - dit is nou wel 'n ligte romantiese drama, maar tog interessant. Dit is ook waarskynlik die film wat veroorsaak het dat ou Billy Bob vasgehaak het aan Angelina - sy speel so bietjie van 'n minder stylvolle rolletjie, en verlei vir arme John Cusack. Hy is ietwat praatsiek in die fliek. Die fliek is baie kykbaar, veral vir 'n 2000 oesjaar. Dit is nou nie die best fliek van die jaar gewees nie, en voel seker so klein bietjie beter as die streng gemiddelde punt wat ek gegee het. Kyk gerus as jy lus is vir iets anders as nuwe Hollywood. Saam met Bella op die bank.
Monday, July 27, 2009
The Deal - 5/10
The Deal is 'n interessante fliek oor hoe flieks gemaak word, met ou Bill wat nie te sleg speel nie. Meg speel haar gewone tipe rol, en daar is seker genoeg snaakse tonele om die fliek as ontspanning te beskou vir 'n meer breinlose Vrydagaand. Hier so in die helfte van die fliek raak die res van die storie so ietwat meganisties, presies soos die eerste tipe rolprent wat hulle probeer maak - die storie dwing hom self as't ware tot die volgende logiese stappe - of sal mens se^ logiese Hollywood verloop. Wat egter opval met die film is die pragtige SA! Daar is verskeie plekke wat mens dadelik herken, en die opvallende SA Engelse aksent - Sanglish? - dra by tot, haai, ons-ken-mos-hierdie-plek gevoel. Dit sit 'n ekstra dimensie by die fliek, asof SA nog 'n karakter in die verdeling is. As die New Yorkers kan breg oorlat NY 'n karaketer in flieks is, wat daar afspeel kan ons seker dieselfde doen? Kyk gerys, al is die net vir die SA tonele - dit ondersteun tog dan SA as 'n film stel. Saam met Bella op die bank.
Friday, July 24, 2009
Tornado and the Kalahari Horse Whisperer - 6/10
Tornado is 'n Suid Afrikaanse film, en verskyn ook nie op IMDB nie. Dit is heel kykbaar maar het tog maar so hier en daar bietjie cheesy dialoog. Die storie is glad nie ingewikkeld nie, en het die standaard intrige van gebreek/vind liefde. Die vroulike hoofrol het 'n baie "harde" benadering, iets wat seker met die omgewing saamgaan, maar opmerklik is. Die standaard is ietwat beter as van die ander plaaslike films. Saam met Bella op die bank. Kyk gerus om die plaaslike ouens te ondersteun - hul grootste probleem is maar geld.
Thursday, July 23, 2009
Tropic Thunder - 6/10
Na 'n aanbeveling van Arno en Bernardt het ek wel besluit om Tropic Thunder te kyk. Bella het dit vir ons bespreek byVee's Video, en ek is nou baie nuuskierig om te sien of dit werklik so snaaks is....
Ja wel, dis iets heel anders as wat ek verwag het - dit is verfrissend anders, baie snaaks, en daar is beslis geen definisie van heilige koeie volgens Stiller nie. Die feit dat hulle bekende akteurs gebruik het, en so verander het dat mens hul byna nie herken nie is baie interessant. Veral Tom Cruise doen iets wat mens glad nie gedink het hy sal doen nie - baie verassend. Ek moet se^ dat Robert Downey en Tom Cruise uitstaan in hierdie aspek, en selfs ook Jack Black, wat ek glad geen ooghaar voor het nie. Hierdie is nie ligte vermaak nie, alhoewel dit seker so gesien kan word - hulle vloek baie, en daar is so paar baie ongemaklike verwysings na geloof. Die geweld weet mens is plastiek, maar daar is 'n toneel wat hierdie wete so verdraai dat jy self bloed in jou mond proe. Kyk gerus, maar nie vir die met 'n swakkerige konstitusie nie. Saam met Bella op die bank.
The Garden State - 6/10
The Garden State is nog 'n film in die genre van flieks wat handel oor een of ander ou wat 'n groente bestaan volg, en dan een of ander besoek iewers afle^ vir een of ander rede. Ek dink Choke val seker in dieselfde kategorie. Ek moet se^ hierdie een is dalk nie so sleg nie, en styg net-net met 'n haarbreedte uit bo my gemiddelde punt van 5. Die hoofkarakter, Zach, is amper dodelik irriterend met sy maniertjies, en dit is tog jammer dat ek waarskynlik nie hierdie een gaan kan klaar kyk nie. Ek het dit net op die vliegtuig begin kyk, en seker nog so 25mins oorgehad voordat ons op ORT moes land....
Subscribe to:
Posts (Atom)
