Sunday, April 13, 2014

Schuks! Your Country Needs You - 5/10

Wel, wat kan mens anders verwag? Schuks! Your Country Needs You is lekker snaaks met heelwat onder-die-belt humor, maar ook eg Suid Afrikaans. Mens kon sien so een of twee van die jonger geslag Suid Afrikaners weet nie wie die mal omie is nie, maar vir die res was hy onmiskenmaar Leon, nadat hy hulle uitgevang het. Kyk gerus, lag lekker. Het veral die een met die fietsryers geniet, net jammer hulle was so droog... Saam met die familie op die bank.

Sunday, March 30, 2014

Last Vegas - 4/10

As komedie faal Last Vegas so bietjie. Daar is wel twee vreksnaakse lyne van ou Morgan Freeman, maar dan is die res net te gewoon en nie meer snaaks nie. Kyk as daar nie iets anders op die rak oor is nie. Saam met Bella op die bank. 

The To Do List - 5/10

The To Do List is 'n beter as gewoonlike tienierfliekie. Verwag onder die belt humor, en heelwat seksverwysings. Beslis nie vir almal se smaak nie. Meer vir laat hoe"rskool bedoel, nie laerskool nie... Die hoofrol word ietwat meganisties, proseduraal vertolk, wat seker by die lyn pas, maar dalk net te veel so. Saam met Bella op die bank.

Thor: The Dark World - 6/10

Opvolg flieks is gewoonlik nie beter as die oorspronklike nie, maar Thor: The Dark World is tog beter, met beter humor en 'n beter storielyn. Saam met die familie op die bank. 

Everything Must Go - 7/10

Kyk, ek is nie 'n baie groot Will Ferrell aanhanger nie, hy kan nogals erg irriterend raak. Maar ek dink Everything Must Go is sekerlik een van sy beter films nog. Die fliek het hart, en laat mens voel vir die hoofrol se absolute laagtepunt in sy lewe... Kyk as jy wil seker maak jou probleme is nie so groot nie. Saam met Bella op die bank. 

The Best Offer - 8/10

The Best Offer bevestig Mnr Rush as 'n kragreus in die akteurswereld. Die fliek het 'n baie stadige spanningslyn wat skerp herhinner na Hitchcock. Dit eindig dan gepas so. Saam met Bella op die bank.


Castle, Seisoen 1 - 6/10

Castle lyk belowend, sal dit beslis begin kyk, maar ons is 6 reekse agter... Saam met Bella op die bank.

Fleming, Seisoen 1 - 6/10

Fleming is 'n lekker Britse reeksie, goeie periode styl. Dit eindig maar stomp, mens is jammer dit beweeg nie dan sommer aan na Bond toe nie. Moet se^ enigste steurende deel was die amper oormaat sepie-styl seks. Ek weet Bond is 'n man van reputasie, maar die styl en volume het afbreek gedoen aan die kwaliteit van die reeks. Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 9, 2014

The Book Thief - 7/10

The Book Thief is 'n ietwat ligter weergawe van die Tweede Wereldoorlog, maar tog met 'n paar tonele wat mens herinner hoekom oorlog eintlik 'n baie slegte ding is. Dit wys ook meer van die anderkant, nie die eensydige weergawes wat so gereeld voorgehou word nie. Dit is dan ook 'n vertoning van die menslike gees, wat ten spyte van baie grim omstandighede steeds kan voortleef. Kyk gerus, dit is 'n opbouende verhaal. Al wat my so bietjie afgesit het, is die doodsengel as derdepersoonsverteller vir die openings en slottonele...nie seker hoekom hulle hierdie meganisme gebruik het nie. Saam met Bella op die bank.



Saturday, March 1, 2014

Savings Mr Banks - 8/10

Savings Mr Banks is Hollywood op al sy silinders. Vreemd dat hulle nie lankal Mary Poppins se ware verhaal vertel het nie. Periode drama op sy beste, met puik vertolkings, ware Hollywoodstyl. Kyk gerus, veral as jy Mary Poppins as kind gesien het. Saam met Bella op die bank.

Mind Games, Seisoen 1 - 7/10

Mind Games lyk heel interessant, dalk so bietjie woes met Steve Zahn wat helemal van sy trollie af is, maar tog pret. Lyk na 'n sielkundige weergawe van Leverage. Sal dit so paar episodes kans gee. Mens moet nogals kophou, mooi luister en fyn kyk om al die subtiele en vinnige planne te volg. Saam met Bella op die bank.

Monday, February 24, 2014

Shameless - 5/10

Shameless, wel, nou-ja, is regtig skaamteloos. Nog vroeg in die eerste seisoen, so sal later 'n beter opinie vorm... Moet beslis nie saam met Ouma kyk nie. Saam met Bella op die bank.

Het op die ou einde aan die einde van episode besluit, sal dalk eerder vir eers los... 

Sunday, February 23, 2014

Upside Down - 8/10

Upside Down is 'n bittersoet tjiekfliekie, maar met die mees kreatiewe milieu wat ek baie lanklaas gesien het in hierdie tipe van flieks. Die fliek is baie visueel ingerig - jammer, manne, nie wat julle dink nie. Dit is asemrowend. Maak seker om die reels van die milieu wat redelik vinnig aan die begin verduidelik word, goed te snap. Die lyn is redelik eenvoudig, maar word soveel interessanter in die kompleksiteite van die omgewing. Kyk gerus, dit is beslis die moeite werd. Saam met Bella op die bank. 
 

The Night Before the Night Before Christmas - 4/10

Man, het ek nou 'n lekker slapie deur hierdie oukie - The Night Before the Night Before Christmas - gevat, maar kyk gerus steeds op Ou Kersaand saam met die familie. Nogals lankslaas Me Beals in 'n fliek gesien. Sy kan sekerlik dans, maar nie 'n voorstedelike ma vertolk nie... Saam met Bella en Anrich op die bank, Franko wou nie byt nie...

Saturday, February 22, 2014

Black Sails, Seisoen 1 - 5/10


Die eerste episode van Black Sails stel so bietjie teleur, maar sal dit nog 'n kans gee. Die vertolkings is net 'n aks te vlak, veral as mens dit met ander periode drama reekse vergelyk. Lekker om hier en daar Kaap tonele te sien, dele daarvan is hier vervaardig. Saam met Bella op die bank.


Ender's Game - 7/10

Ender's Game is nogals 'n verassende fliekie, wat dalk meer vir die laat laerskool/hoe"rskool manne bedoel is. Die grafika is uitstekend, en dan sien mens nog ook aan die einde ons eie Gavin Hood was die regiseur! Die vertolkings is tipies van die generasie, maar mens geniet tog die ietwat bogemiddelde dialoog by tye. Kyk gerus saam met die familie, lekker Vrydag of Saterdagaand materiaal. Saam met die familie op die bank. 
  

Sunday, February 16, 2014

Pad na jou Hart - 5/10

Pad na jou Hart is 'n redelik gemiddelde Afrikaanse tjiekfliekie. Dit is nie juis op die manne gemik nie, dus 'n ware tjiekfliek. Die lyn is heel eenvoudig, maar gebruik ons natuurskoon tot voordeel. Saam met Bella en Anrich in The Grove se teater op 'n Saterdagaand 8h00! Franko en Dane het so ry of wat agter ons gesit...wie't nou kon dink ons begin weer op Saterdagaande fliek! 

Sunday, February 9, 2014

In a World - 7/10

In a World is 'n aweregse (sou dit die beste vertaling vir off-beat wees?) komedie tjiekfliekie, met 'n ewe anderse vertolking van die vroulike hoofrol. Dit is redelike ligte materiaal, met die gewone disfunksionele familie intriges in 'n taamlik geslote deel van die filmbedryf. Kyk gerus as jy vir ietsie anders lus is. Lake Bell veras nogals met haar vaardigheid as stemkunstenaar. Saam met Bella op die bank.

Friday, February 7, 2014

Gravity - 7/10

Gravity het nogals 'n gesonde spanningslyn, maar ek moet se dat Me Bullock so ietwat irriterend hier-en-daar is, maar dan beter raak na die tweede helfte van die film. Ek was nou nog nie op 'n ruimteuitstappie om eerstehands te kan se^ nie, maar die gewiglose milieu lyk heel korrek volgens Newton. Mens verwag dat dit dalk so aks minder geweldadig is, maar dan aan die ander kant lyk alles heel geloofwaardig. Hulle druk dalk die bus-klim analogie so bietjie ver, veral dat alles so mooi uitwerk in die derde been van die reis terug aarde toe. In elk geval, goeie ontspanningsmateriaal, nie denke-dagende materiaal nie. Op SA 265 van Munich na Johannesburg

Tuesday, February 4, 2014

Rush - 7/10

Rush het puik vertolkings met 'n baie kykbare lyn, veral as mens in ag neem dit is gebaseer op 'n ware verhaal. Dit skep 'n baie goeie beeld van die sport, met dalk so ietwat van 'n aandikking hier en daar, maar ook dalk 'n verflou van hoe erg dit kan wees, in die sport en van die veld af... In Ballito saam met Bella op die bank.

The Family - 6/10

The Family is hier en daar so bietjie grim, veral die sleep toneel, maar is redelik grim-komies-kykbaar vir die res. Nogals 'n paar snaakse tonele met goeie vertolkings. Moet dalk nie die film saam met Ouma kyk nie. In Ballito saam met Bella op die bank.


Monday, February 3, 2014

Tomorrow People, Seisoen 1 - 4/10

The Tomorrow People begin maar flouerig, met net daardie een klein iets wat mens darem episode 2 laat oorweeg. Dit gaan dan ook nie beter nie, so ek sal nog 3 kyk en sien wat gebeur. In Ballito begin kyk, saam met Bella op die bank.

Sunday, February 2, 2014

A Fantastic Fear of Everything - 5/10

A Fantastic Fear of Everything is iets anders as gewoon. Die baie vloek sit mens net nogals af, anders sou dit seker 'n 6 kon kry. Simon se gesig bly maar snaaks, en dan is boonop nog so mal soos 'n haas in die fliek. Darem eindig dit "normaal"... Saam met Bella op die bank.

Wednesday, January 29, 2014

Identity Thief - 5/10

Identity Thief is gemiddelde Hollywood stapel met 'n oormatige uitdrukking of onderdrukking van emosies. Die vroulike hoofrol werk nou maar eenmaal net nie lekker nie. Daar is wel 'n paar baie snaakse tonele, wat dit seker van 'n gewisse 3 of 4 red. Kyk versigtig. Saam met Bella op die bank in Ballito.


Rumour Has It - 3/10

Ten spyte van Jen se lyf, en die rol verdeling, is hierdie maar power. Die konsep is eintlik heel interessant, net jammer hulle druk dit te ver. Swakkerige vertolkings, ongeloofwaardige situasies, alles tel teen hierdie oukie. Beslis op eie risiko as jy kies om hierdie van die rak af te haal. Saam met Bella op die bank in Ballito.



Closed Circuit - 6/10

Closed Circuit is 'n redelike spanningsdrama wat afspeel in London. Dit opsigself gee die film 'n minder Hollywood gevoel. Vertolkings is redelik goed, en die lyn heeltemal geloofwaardig. Mens kan ook amper nerens mee wegkruip nie! Saam met Bella op die bank in Ballito.



Monday, January 27, 2014

Clear History - 3/10

Ek het helemal vergeet, maar Larry David, wat erg vermom met 'n Moses-baard was, is een van my mees ongunstelingste akteurs ooit. Veral in hierdie fliek. En dit maak nie saak dat hy Seinfeld gedoen het nie... In elk geval, die fliek praat mens pap, of eerder dan liewe Larry. Die plot het potensiaal, maar dan asseblief net met 'n ander akteur. Het maar deur dit gewroeg. Larry se Woody Allen na-aapstyl werk glad nie. Saam met Bella op die bank in Ballito



Damsels in Distress - 0/10

Damsels in Distress moet ten alle koste vermy word. Dit het patetiese dialoog met 'n alfa-meisie wat mens teen die dak wil vasplak. Kon net die eerste 15 minute uithou. Dit gebeur min dat ons 'n fliek so gou afskakel. Saam met Bella op die bank in Ballito

Downton Abbey, Seisoen 1 tot 4 - 7/10

Downton Abbey is 'n puik periode drama, met goeie vertolkings, onvergeetlike milieu en baie atmosfeer. Die intriges is lekker vinnig, realisties, en net soos die Britte kan, baie pittig. Is al reeds by Seisoen 3. Saam met Bella op die bank.

The Butler - 7/10

Forest Whitaker se vertolking is puik in The Butler. Sy The Last King of Scotland was dalk so aks beter, maar nietemin. Die fliek daal so slag of wat in die politieke laagtes in, maar vertel op die ou einde 'n redelike apolitiese verhaal. Kyk gerus as jy ietwat sterker voel, die materiaal is nie orals lig nie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, January 26, 2014

Summer in February - 7/10

Summer in February is 'n stadige kunsfliekie in die mooiste milieu. Dit handel oor 'n suksesvolle kunstenaar, of ten minste die dames in sy lewe. Die milieu is egter so asemrowend dat dit bykans die kuns en storie oorrompel. Moet nie baie aksie verwag nie, 'n stadige, pragtige, hartseer verhaal wat stadig ontvou soos wat mens sou skilder. Gepas vir 'n rustige aand. Saam met Bella op die bank. 

Monday, January 20, 2014

Mud - 8/10

Mud is 'n pretensielose kunsfliekie. Dit is geskik vir die hele familie, maar besef dit het wel 'n PG-13 perk. Die verhaal is eenvoudig, met 'n aanvoelbare spanningslyn. Ou Matt doen heel goed en kan ernstig opgeneem word in sy vertolking. Saam met die familie op die bank, insluitend Ouma Lenie wat hier vir die Kerstyd gekuier het. 

Elysium - 7/10

Elysium is heel kykbaar, maar ek moet se^ dat Sharlto Copley se aksent irriterend raak...al is hy van SA af. Die fliek het 'n heel moontlike lyn, en nogals goeie grafika. Saam met Bella op die bank.

Saturday, January 18, 2014

About Time - 9/10

About Time is 'n bittersoet, ligte wetenskapfiksie, realistiese mens-drama, lekkerkyk tjiekfliekie. Dit is hoogs aan te beveel. Humor,  karakter en verhoudings ontwikkeling, realistiese vrese en reaksies word in 'n tonekrul manier geweef. Die vertolkings is uitstaande en die milieu 'n ekstra karakter. Kyk op een van daai rooiwyn-tjoklits inbly aande, teug die tonele in, en geniet. Die klankbaan is puik, in pas met die ondertone van die film. Beslis een van my gunsteling flieks vir die afgelope jaar of wat. Net gewonder waar hierdie fliekie weggekruip het, reg om ontdek te word. Saam met Bella op die bank.


Friday, January 17, 2014

Percy Jackson: Sea of Monsters - 5/10

Redelike fliekie, meer gemik op die jonger mark, maar tog kykbaar. Saam met die familie op die bank.


Tuesday, January 14, 2014

Getaway - 3/10

Getaway faal grotendeels oor die swak vertolkings, veral die van die hoof aktrise. Onwaarskynlike motor truuks, papperige spanningslyne maak hierdie nie die moeite werd nie. Saam met die familie op die bank. 

Wednesday, December 18, 2013

Spud 2 The Madness Continues - 5/10

Spud 2 The Madness Continues is redlike kyk vermaak, met tipiese hoe"rskool seuns grappe. Moet nie te veel verwag nie, en moet beslis nie 'n professionele klankbaan verwag nie - die agtergrond musiek is gans te hard en die dialoog by tye onhoorbaar. Saam met Bella op die bank.


Return to Nim's Island - 4/10

Ietwat onder gemiddelde vroeer laerskool materiaal. Saam met die familie op die bank. 

Sunday, December 15, 2013

White House Down - 5/10

White House Down is lekker, gewone breinlose vermaak vir 'n Vrydagaand. Die film verwag nie baie van die kyker nie, net geduld dat die redlike lang onderonsie tot 'n gemaklike, verwagte, Hollywoodse, resultaat draai. Dit is dalk daai aks bokant die gemiddeld, maar regverdig nie 'n vol ses in my opinie nie. Saam met die familie op die bank. 

Tuesday, December 10, 2013

Da Vinci's Daemons, Seisoen 1 - 6/10

Da Vinci's Daemons lyk heel skaflik. Net jammer hulle bou nie op The Borgias voort nie. Die vertolkings is heelwat meer Amerikaans as Italiaans, en ou Leo word as 'n rockster uitgebeeld. Sal die reeks klaar kyk, deels omdat dit net 'n paar episodes is. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, December 7, 2013

Fast and Furious 5 Fast Five - 6/10

Fast Five is soos sy naganger, Fast and Furious 6, lekker breinlose aksie vermaak. Vinnige motors, langbeen skoonhede, baie skop-skiet en escapism, min storie. Saam met die familie op die bank. 

Elementary, Seisoen 1 - 7/10

Elementary is die Amerikaanse weergawe van die uber koel Sherlock (Brits) reeks. Dit is heel kykbaar, en lyk of daar 'n lyn kan ontwikkel wat oor die episodes strek. Nou eers by die tweede episode van reeks 1. So paar episodes verder dink ek dat hierdie van die lekkerder TV wodunits is. Saam met Bella op die bank.  

Monday, December 2, 2013

Once Upon a Time in Wonderland, Seisoen 1 - 5/10

Once Upon a Time in Wonderland begin eintlik met 'n baie flou premier. Getrou aan die hoof reeks, Once Upon a Time, meng dit bekende sprokie verhale, en in hierdie Episode 1 geval, die bekende stories rondom Alice en Alladin. Die akteurs is flou en onbekend, met min kinkel en aksie wat die aandag trek en hou. Sal kyk hoe ver ons met die reeks kom.... Saam met Bella op die bank. 

Arbitrage - 6/10

Arbitrage is 'n heel aanvaarbare drama, redelik goed vertolk en seker realisties. Die einde voel so ietwat stomp, maar laat heelwat aan die kyker oor vir interpretasie. Vir 'n meer denkende kyk, nie op 'n Vrydagaand nie. Saam met Bella op die bank.


Turbo - 5/10

Turbo is beslis kortvolk materiaal, en het nie regtig dubbelvlak humor nie. Die vroeer laerskool manne sal dit meer geniet. Saam met die familie op die bank.

The Smurfs 2 - 6/10

The Smurfs 2 is lekker ligte familie vermaak, heel kykbaar vir die oueres onder ons, as gevolg van dubbelvlak verwysings... en daar is heelwat goeies van hulle. Saam met die familie op die bank. 

The Internship - 4/10

The Internship is uiters pynlik om te kyk, veral as gevolg van Mnr Vaughn. Wat egter interessant is, is die Google agtergrond.  Moet vir geen ander rede dit kyk nie. Saam met Bella op die bank.

Red Tails - 6/10

Aanvanklik lyk Red Tails of dit heeltyd die politieke of transformasie tema gaan speel. Die film het egter meer hart as dit, en laat mens soms met 'n paar geldige gedagtes agter. Die aksie is lekker, die grafika heel aanvaarbaar, en die storie darem nie heeltemal te veel ver-Hollywoods nie. Seker een van die mooier film plakate wat ek al gesien het. Saam met die gesin op die bank. 

Lovelace - 5/10

Lovelace is 'n redelike drama, gebaseer op ware feite. Anders as wat dit aanvanklik lyk, handel die film uitsluitlik oor Lovelace, oftewel, Linda Boreman (nie seker of dit 'n beter of slegter van as Lovelace is nie...). In elk geval, dit was seker tragies hoe haar lewe verloop het in so kort tyd, en hoe lank sy daarna gesukkel het om die beeld af te skud, maar tog ietwat simplisties en vervelig vir 'n vollengte film. Saam met Bella op die bank. 

Grown Ups 2 - 6/10

Grown Ups 2 is dalk nie beter as die eerste nie, en het geen spesifieke storielyn nie, maar bevat heelwat snaakse tonele. Dit is op die ou einde maar seker heel flou, maar as jy lus is vir 'n bietjie lag, veral laat laerskool fisisie humor, dan sal hierdie werk... Saam met die familie op die bank, en soms op die vloer.