Tuesday, April 30, 2019

Glass - 7/10

Glass is die laaste in die trilogie en maak seker daar is afronding, afsluiting en posisionering vir opvolg films. Dit eindig beslis anders as die tipiese Hollywood styl. Ten minste meer aksie en 'n vinniger tempo as Unbreakable en miner spannend/gru as Split. Ek sou reken die beste in die reeks en dan ook nie heeltemal hoofstroom materiaal nie. Saam met Bella en Franko en Anrich op die Bank.

Sunday, April 28, 2019

Final Portrait - 6/10

Final Portrait is tergelyketyd lig maar ook swaar. Dit het awaregse humor by tye wat mens laat gryns en nie soseer lag nie. Hierdie is ware kunsfliek en as sulks ekonomies - karakters, milieu en dialoog. Die rolverdeling speel hier dan ook 'n groot rol. Om te skep is nie maklik nie. Vir die kieskeurige kunsfliekganger bedoel. Saam met Bella op die bank. 


Saturday, April 27, 2019

Man Up - 7/10

Man Up is 'n onverwagte vermaaklike film. Dit bly mens nogals by, veral die volharding van die twee hoof karakters om 'n hopelose situasie te maak werk. Skerp humor, heelwat onder die belt, met eerlike dialoog. Dit is absoluut die rolverdeling en vertolkings wat die fliek laat slaag. Beslis goeie Saterdagaand vermaak en 'n voorbeeld vir die genre. Saan met Bella op die Bank.

Friday, April 26, 2019

Split - 6/10

Split is 'n redelike spannings griller sonder bloed en binnegoed. Die vertolking is 'n kragtoer, en sou sekerlik baie saai sonder die betrokke rolverdeling gewees het. Saam met Belle en Anrich op die bank.

Thursday, April 25, 2019

Avengers: Endgame - 7/10

Avengers: Endgame is 'n cliche einde vir hierdie magtige reeks van films in die Marvel Heelal van superhelde. Dit is meganisties met die verwagte en onverwagte offerhandes. Dit bly egter groot pret en vermaak om dit te kyk. Saam met Anrich en Franko en Bella in 3D by die Kolonnade Ster Kinekor premiere. 



Sunday, April 21, 2019

The Professor and the Madman - 6/10

The Professor and the Madman bevat eintlik 3 lyne, die woordeboek, die universiteit en die malman, maar dan eerder die behandeling van kranksin destyds. Die film laai te veel hooi op die vurk. Dit bly kykbaar - veral oor die monumentale taak wat die klein spannetjie aandurf, al vat dit op die ou einde 10 keer langer om tot 'n punt te kom. Kyk beslis as jy in woorde belangstel. Die rolverdeling werk goed, die periode getrou weergege. Ek dink net nie die bewaarders was sulke vriendelike en deegsame manne nie... Saam met Bella op die bank.

    

Saturday, April 20, 2019

Welcome to Marwen - 9/10

Welcome to Marwen is die sagte vertelling van iemand se stryd ter oorlewing na 'n vernietigende, sinlose daad. Die rolverdeling en sterk vertolkings - serkerlik Steve Carrell se beste ooit - onderstreep net die multi-dimensionaliteit van die film. Die milieu, stelinkleding, kostuumwerk en karakters vorm 'n sinkrone uitbeelding van 'n gebroke innerlike in 'n eksterne we^reld. Hierdie is kunsfliek op sy beste, en dan daarby ook 'n tjiekfliekie. Beslis 'n juweel en as bonus is die poppe tonele sensueel, sterk en verleidend, die kuns indrukwekkend. Saam met Bella op die bank. 

Friday, April 19, 2019

The Wife - 7/10

The Wife is 'n realistiese kykie na die lewe. Dit stel dan ook sterk kontrasterende innerlike, sowel as uiterlike gedrag in 'n ooglopende gesonde huwelik bloot. Selfs die ooglopende gesonde en ongesonde stand voel op plekke verwarrend en misleidend, een oomblik sag en teer en dan skielik andersom. Wolf in skaapsklere en dan skaap in wolfsklere! Maar, ja, die vroulike kant was erg geboelie oor tyd, oorheers en onderdruk deur die manlike ego. Mens kan nie verhoudings objektief of subjektief beoordeel nie, selfs al is mens een van die partye in die verhouding! Hierdie uitbeelding bevestig dit. O, en sy het die man vermoor, ja! Beslis vir geharde kunsfliekgangers bedoel. Saam met Bella op die Bank.


Thursday, April 18, 2019

12 Strong - 6/10

12 Strong is skiet, skiet, en baie skiet. Ek is onseker hoe akkuraat en realisties die slag was in terme van intensiteit, maar al is dit 50% so, is dit nog steeds grim gebeure, maar ook bewonderingswaardig. Goeie vertolkings, nie te oordrewe nie. O, en net as jy van oorlog flieks hou. Saam met Bella op die bank. 

Escape Room - 3/10

Escape Room probeer begin met 'n oortuigende, ontmoontlike ontsnappingstoneel. Die' was nog redelik - die inleidende tonele daarna laat mens binne minute twyfel of jy wel die tyd belegging wil maak - nee wat, lyk amateuragtig. Saam met Bella op die bank.

Sunday, April 14, 2019

Een Echte Vermeer (A Real Vermeer) - 7/10

Een Echte Vermeer is in Hollands met Engelse onderskrifte. Ek noem dit as 'n Eie Taal fliek, want mens kan dit maklik volg. Net hier en daar is die onderskrifte werklik nodig. Sterk vertolkings, milieu en periode wat ek graag self sou wou meemaak. Hier en daar dalk skokkende tonele, maar kykbaar en ten minste leer mens iets. Beslis net bedoel vir kunsfliekliefhebbers. Saam met Bella op die bank.

 

Saturday, April 13, 2019

Kursk - 8/10

Kursk kon baie maklik 'n gewone, vloekerige, cliche gewees het. Hierdie weergawe is egter sensitief, ontstellend en waarskynlik getrou. Die paniek onder die bemanning is so tasbaar, die afskuwelike burokrasie en onvanpaste politiekery onuitstaanbaar. Mens weet dit eindig tragies, maar die onblusbare menslike gees gaan nog lank bly spook. Saam met Bella op die bank.


Unbreakable - 5/10

Unbreakable is nogals pynlik stadig. Ons kyk dit as voorbereiding van 'n trilogie, maar hopelik is Nr 2 darem so bietjie meer aksie-belaaid. Saam met Bella en Anrich op die bank.



Friday, April 12, 2019

The Upside - 6/10

The Upside is ligte drama gebaseer op ware gebeure. Dit is komies met 'n bietjie hart. Sal werk vir enige aand, en dit is nie familie onvriendelik nie. Die rolverdeling laat dit werk, goeie basis stapel. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, April 7, 2019

Mary Poppins Returns - 7/10

Mary Poppins Returns is pure fliek onskuld, met die perfekte rolvereling. Die naamrol is beide akademies en prakties sekerlik een van die beste karakter vertolkings ooit. Uitnemende familie vermaak, die slag met moderne fliek tegnologie, maar steeds getrou aan die oorspronkilike idioom. Saam met Bella op die Bank.

Friday, April 5, 2019

Colette - 6/10

Colette is beslis vir die kunsfliekmark bedoel. Sterk, gepaste rolverdeling, maar ek sou dit dalk in Frans met onderskrifte verkies het. Die interpretasie vol 'n aks te modern, maar dan was Colette heelwat voor haar tyd. Ek sou bitter graag in daardie Parys wou wees, dit lyk net so romanties. Saam met Bella op die Bank.


Thursday, April 4, 2019

Hanna, Reeks - 6/10

Hanna is 'n reeks waarvan ons die film weergawe in 2011 gesien het. Die eerste episode is bietjie stadig, dalk tel die res op. Dit is 'n korter reeksie, sal dit nog kans gee. Die eerste seisoen was redelik, maar ons het sommer vinnig besluit om nie die tweede seisoen te kyk nie (Julie 2020). Dit is met te veel nuwe karakters waarin mens nie tyd wil bele^ nie, en sonder die manlike hoofrol van die eerste seisoen. Saam met Bella op die bank.



Sunday, March 31, 2019

At Eternity's Gate - 3/10

At Eternity's Gate is net te intens en wroegend. Dit pla ook te veel dat 'n 63-jarige, al lyk hy 45, die rol van 'n 45-jarige vertolk. Die klankbaan is beslis tekenend van die dreigende kranksin. Kon nie die fliek klaar kyk nie. O, en die kantellende kamera tegniek dryf my na waansin - dit is 'n mode wat asseblief tog net moet uitsterf! G'n mens kan so fliek nie. Al het ek taamlike stukke deur Loving Vincent gesluimer, is dit beslis velde beter as hierdie poging - met die Rocket Science vervaardiger en al! Saam met Bella op die bank.    

Saturday, March 30, 2019

The Highwaymen - 6/10

The Highwaymen is een van ou Kevin se (min) beter flieks. Dit is egter lank en stadig en uitgerek, soos te verwagte. Dit bly een van die tragiese gunstelinge, en dalk so oor die era waarin dit plaasgevind het. Die rolverdeling is goed, die periode gepas uitgedruk. Net jammer ek het hier en daar weggedryf... Saam met Bella op die bank.


How to Train Your Dragon: The Hidden World - 5/10

How to Train Your Dragon: The Hidden World is beslis kortvolk materiaal. Nou dat ons manne groot is, kan ek nie meer deur hierdie sit nie. Ons het dit saam met Anrich begin kyk, hy het na sowat 30 minute die aftog geblaas. Ek en Bella het die res, op die bank, huppelkyk klaar gemaak. Dit lyk dan ook of hierdie die laaste uitgawe in die film reeks gaan wees. 


Friday, March 29, 2019

King of Thieves - 6/10

King of Thieves probeer tyd laat stil staan - die manne is oud en kwesbaar - maar hulle het steeds tienerdrange en drome, net meer versag en gemodereer deur wysheid (wel ek is nie oortuig nie) en, tyd. Wat wel waar is, is dat hierdie op ware feite gebaseer is, en dat ouderdom nie 'n verskoning is of mag wees nie. Ligte, stadiger vermaak met 'n sterk maar gryse rolverdeling. Saam met Bella op die Bank.
  

Wednesday, March 27, 2019

Kodachrome - 7/10

Kodachrome se titel laat my in nostalgie verval - as jy in die sewentigers gebore was, het jy met film kameras groot geword en mooi besluit wanneer jy daardie kenmerke knoppie druk wat daardie kenmerkende klank maak. Eintlik is Kodachrome net 'n bysaak in hierdie fliekie, waar film en die einde van 'n era net as metafoor gebruik word vir verhoudings en die onafwendbaarheid van oudword en doodgaan. 'n Verassing is die gebruik van 35mm film vir die maak van die fliek, dit wil se^ geen rekenaargrafika verbeterings nie. Sterk rolverdeling, getroue en eerlike vertolkings, en nie 'n slegte roadtrip (padrit?) fliek nie. Beslis meer gemik op die film connoisseur mark. Saam met Bella op die bank.


Ben: We're all so frightened by time, the way it moves on and the way things disappear. That's why we're photographers. We're preservationists by nature. We take pictures to stop time, to commit moments to eternity. Human nature made tangible.

Sunday, March 24, 2019

Madame - 7/10

Madame is lig, maar ook pynlik realisties. Dit is heerlik met 'n skreeuende misverstand, en dan eg Europees aan die einde. Die milieu en rolverdeling en vertolkings kon nie beter nie. 'n Ware vervanging van tipiese Woody Allen films sonder die irritasies. Kyk die fliek. Saam met Bella op die bank.


Saturday, March 23, 2019

The Disaster Artist - 6/10

The Disaster Artist is beslis connioseur materiaal, nie vir die ligte fliekganger bedoel nie. Dit is 'n fliek oor 'n fliek wat gemaak word, deur 'n effens verwaande. Maar, dan is dit gebaseer op ware gebeure met parallel film snitte aan die einde wat die akkuraatheid van die vertolkings ten toon stel. Die humor is gebaseer op die absurdheid van situasies, dus nie skreeusnaaks nie, eerder tragies. Die twee Franco stemme raak net te veel, hulle intonasies is te dreunend dieselfde, eentonig aanmekaar. Die vertolkings is egter raak en gepas, dalk so bietjie oorspeeld aan die hoofrol se kant. Net vir volbloed kunskring gangers bedoel. Dit is nogals indrukwekkend vir iemand in Lala-land om so onder die Wikipedia radar te kan beweeg.... Saam met Bella op die Bank.


Friday, March 22, 2019

Stan & Ollie - 6/10

Stan & Ollie is 'n sagte, deernisvolle kykie na twee karakters wat sekerlik Amerikaanse slapstick eiehandig gedefinieer het. Die name Laurel en Hardy het in verskillende tale sinoniem geraak met grappies, hegte vriendskappe (veral waar twee manlike vriende lank en kort is of baie verskillend lyk), poetsbakkery en sommer net onnutsheid. Die fliek steek 'n paar grap-juweeltjies weg in die gewone dialoog wat mens van die twee narre sou verwag. Die fliek fokus nogals op hulle benadering en dat hulle eintlik heel anders is as die hals-oor-kop, rowwe, fisiese humor karakture waarmee hulle geassosieer word. Dis eintlik 'n sterk teenstelling, hulle is broos, emosionele siele, kwesbaar. Hierdie film is beslis nie hoofstroom materiaal soos die tweemanskap se mannewales nie, vir die onderskeidende fliekganger bedoel. Die rolverdeling kon nie beter nie, en die periode en milieu getrou uitgebeeld. Saam met Bella op die Bank.




Thursday, March 21, 2019

Grisse, Seisoen 1 - 3/10

Grisse lyk belowend, maar as die loodsepisode so stadig beweeg gaan die res maar ook wees. Dit is rondom interessante geskiedenis, maar voel net te amateuragtig. Gaan nie die tyd spandeer nie, het die eerste episode so driekwart gekyk. Saam met Bella op die bank.

Holmes & Watson - 2/10

Holmes & Watson lyk of dit baie snaaks kan wees, veral aan die begin, maar verval dan in taamlike flou grappe. Die onder die belt grappe raak dan ook minder snaaks en net ongemaklik. Dis jammer dat met hierdie tema en sterk rolverdeling tyd en geld en potensiaal so gemors word. Het sowat die helfte gekyk en toe moed opgegee. Saam met Bella op die bank. Anrich het na sowat 30 minute moed opgegee, Franko heelwat gouer.


Wednesday, March 20, 2019

Spider-Man: Into the Spider-Verse - 7/10

Spider-Man: Into the Spider-Verse is onverwags vars. Die animasie voel by tye eerder werklik, en mens vergeet eintelik gou in die film dat dit animasie is. Die flikie bly vermaaklik en voel geensins lank of uitgerek nie. Heelwat beter as die laaste mens weergawe van die spinnekopmanne, Saam met Bella en Anrich op die Bank.


Sunday, March 17, 2019

Aquaman - 5/10

Aquaman is maar gemiddelde (onder en bo! water supersterk helde) mateiaal. Die grafika is soos te verwagte die film se enigste sterkpunt. Die storielyn is vol cliche's met 'm tipiese Hollywood verloop. Nie te sleg as Vrydagaand vermaak nie. Saam met Bella en Anrich en Franko op die Bank.


Saturday, March 16, 2019

The Man Who Killed Hitler and Then The Bigfoot - 5/10

The Man Who Killed Hitler and Then The Bigfoot laat mens wonder oor die genre waarvoor dit mik. Ten minste kom mens gou agter hoe die twee tydlyne in mekaar steek. Op die ou einde is die lang, komplekse titel 'n metafoor vir die ou oorlogveteraan se saai bestaan in 'n plattelandse Amerikaanse dorpie - wat op die oogaf idillies lyk. Die titel verwys dan ook na sy interne en eksterne struwelinge tydens hierdie saai oorlewingstryd. Sy verwerking van die oorlog gebeure lei tot 'n ligte drankprobleem (interne probleem), en hy kan dan ook die eerste eksterne struweling met gemak in sy guns draai. Maar dan raak 'n eksterne monster 'n metafoor vir die oorlog en Bigfoot 'n magiese interne monster. Beide hierdie monsters is oortreffende trap voorbeelde, wat hy dan ook oorwin. Alles klink wonderlik, maar die film bereik nie die glans van die titel en die rolverdeling nie. Saam met Bella op die Bank.


Friday, March 15, 2019

Wild Target - 5/10

Wild Target is 'n baie ligte fliekie soveel so dat dit meer na die tjiekfliek klas leun. Die rolverdeling is nogals sterbelaaid, met 'n mate van oordrewe vertolkings. Dit is 'n komedie, maar nie skreeusnaaks nie. Sou baie goed op 'n Sondagaand ook kon werk. Die vroulike hoofrol vertolking is nogals liplekker verleidend. Saam met Bella op die Bank.



Wednesday, March 13, 2019

Captain Marvel - 8/10

Captain Marvel is 'n tonekrul lekker superheld fliekie. Dit verklaar heelwat van ander karakters en die superheld heelal. Sentimentele verwysings na die tagtigers, insluitende musiek en vermaak. Glad nie lang uitgerekte gevegstonele nie, eerder kort en vol humoristiese oomblikke. As daar nou een superheld film is wat tjiekfliek vriendelik is, is dit hierdie een. Saam met Franko en Anrich by Zambezi Mall

  

Saturday, March 9, 2019

I Hate Kids - 1/10

I Hate Kids is 'n tipiese lae begroting, Amerikaanse Hollywood reseppie, met erge cliches. Ag nee wat, moes moed opgee na sowat 10 minutes. Saam met Bella op die Bank.

Replicas - 0/10

Replicas is erg amateurgagtig en oppervlakkig, soveel so dat ons nie eers 10 minute kon maak nie. Ai. Saam met Bella op die Bank.

Friday, March 8, 2019

Agatha and the Truth of Murder - 6/10

Agatha and the Truth of Murder het 'n sterk Dowton Abbey en Cluedo gevoel, met 'n sterk rolverdeling en milieu. Hierdie interpretasie van hoekom sy moontlik vir 10 dae vermis was tydens haar egskeiding, is 'n vermaaklike, lekkerkyk opsie. Die perfekte Sondagaand tjiekfliek. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, March 3, 2019

Green Book - 8/10

Vir 'n slag is daar darem 'n Oscar-bekroonde fliek wat lekker kyk. Green Book hanteer op 'n sensitiewe - maar seker ook onsensitiewe manier - beide kante van rasisme, maar met 'n humoristiese invalshoek. Die film hanteer dan ook eerder bevooroordeeldheid as rasisme, Dit is die perfekte Sondagaand materiaal, mens voel sommer (amper) lus vir die week (of nie!?). Saam met Bella op die bank.
   

Saturday, March 2, 2019

Mortal Engines - 5/10

Mortal Engines is redelike kyk materiaal. Dit het 'n baie kreatiewe milieu maar met die gewone cliche lyn. Ek het groot stukke geslaap, dit kon my nie wakker hou nie. Saam met Bella en Anrich en Franko op die bank.



Friday, March 1, 2019

Slaughterhouse Rulez - 6/10

Slaughterhouse Rulez is nogals 'n snaakse grilfliekie, tipies in die Britse styl, nie Hollywoods nie. Skerp gespot met die gewone ril-cliches. Gepaste Vrydagaand ontspanning. Die rolverdeling is nogals sterk en gepas, met net genoeg oorspeelde vertolkings. Saam met Bella op die Bank.

Thursday, February 28, 2019

Deadly Class - 6/10

Deadly Class het net die regte dosis donker, geweld en strokiesprent mengsel. Die vertolkings is baie meer geloofwaardig as byvoorbeeld die flouerige pogings in Runaways. Sterk noir gevoel gemeng met moderne strokie-styl. Saam met Bella op die bank.

Sunday, February 24, 2019

Mary Queen of Scots - 6/10

Mary Queen of Scots is definitief beter as The Favourite. Goeie rolverdeling, sterk vertolkings, dalk met so paar histories onakkuraathede, maar gepaste milieu. Die kostuumwerk is puik, maar hier en daar dalk te modern. Wat ek wel seker van is, is dat die mense daardie tyd meesal baie meer onaantreklik was as hierdie spannetjie saam. Die manne se baarde en hare was nie so glad en netjies nie, en die dames dalk nie so fyn nie.... Die lyn is ten minste kykbaar, maar voel so bietjie lank op plekke. Nog steeds 'n connoisseur keuse en dalk meer vir die dames as vir die mans. Saam met Bella op die Bank. 


Friday, February 22, 2019

Instant Family - 4/10

Instant Family is beslis tipiese Hollywood, cliche, sentimentele en oordrewe materiaal. Die vertolkings is oormatig oordrewe, soveel so dat mens probeer om dit te ontwyk tydens die film. Ten spyte van alles, het die fliekie versteekte hart, dalk omdat dit op ware gebeure gebaseer is. Dit is ten minste tot 'n mate vermaaklik en snaaks, met 'n redelike rolverdeling. Kyk maar as daar niks anders is nie. Saam met Bella op die Bank.

Saturday, February 16, 2019

The Favourite - 5/10

The Favourite is nogals ver links op die connoisseur skaal. Hierdie interpretasie van die Engelse hof lyk te veel na die Franse een, te oordrewe vir die stywe bolip Britte. Ek is redelik oortuig hulle het nie sulke uitbarstings en skielike bewegings gehad nie. En ook nie sulke kinderagtige geniepsighede nie. Die interpretasie voel ook dan te modern, kyk moeilik en is by tye geneig om te verveel. Die bollens kameraskote, stadige-raam sekwense verwar eerder as om 'n verlangde effek te bereik. Aag nee wat, al weer teoretiese Oscar materiaal wat die sous nie werd is nie. Saam met Bella op die bank.

Liewe Lisa - 3/10

Liewe Lisa is, nou, ja, wel, amateuragtig volgens Bella. Die rolverdeling en vertolkings is glad nie sterk genoeg nie. Ten minste is dit gedeeltelik in Stellenbosch geskiet. Bella het dit by Capitol Cinema, Zambezi gesien terwyl ek en Franko Alita: Battle Angel daar gekyk het.




Alita: Battle Angel - 7/10

Alita: Battle Angel herinner sterk aan 'n kombinasie van Speed Racer, Tron, Avatar en Transformers. Die fliek kyk maklik grotendeels te danke aan die vroulike hoofrol interpretasie en vertolking, ondersteun deur 'n gepaste rolverdeling. Saam met Franko by Capitol Cinema, Zambezi, terwyl Bella Liewe Lisa daar gekyk het. 


Friday, February 15, 2019

Rome, Seisoen - 6/10

Rome voel ietwat amateuragtig veral oor die plastiek rekwisiete en opsigtelik nagemaakte kostuumwerk. Die rolverdeling is verdeeld, sterk aan die kant van die manne, maar flou aan die ander kant. Dis nogals jammer, want ek is oortuig die dames het dinge redelik gedryf in ou Rome. Die lyn is ook verdeeld, geskiedenis gemeng met sepie. Sal dit nog 'n eposide of wat kans gee, maar dit het nie gehelp nie, die sepie-gevoel het net vererger. Saam met Bella op die Bank.


Friday, February 8, 2019

Robin Hood (2018) - 4/10

Hierdie moderne interpretasie van Robin Hood verveel tot die dood toe met 'n swak rolverdeling, swak milieu, swak vertolkings. onvanpaste kostuumwerk en flou lyn. Ek het die eerste 35 minute gemaak. Saam met Bella en Anrich op sy rekenaar, terwyl Franko party en onthaal het.  

Sunday, February 3, 2019

Brexit: The Uncivil War - 7/10

Brexit het 'n sterk dokumentere gevoel, en met die tipiese praat vertolkingstyl van Benedict Cumberbatch. Mens kan sekerlik van verskeie hoeke die film afmaak as 'n wanvoorstelling van die eintlike gebeure en feite, maar hierdie maak steeds baie interessante kykstof. Wat dalk wel waar is, is dat die gepeupel net meer geprogrammeer word as wat mens vermoed.

Die film beskryf ook die Suid Afrikaanse politieke bestel gepas:
It is unsophisticated, uncivilised and unkind.

Saam met Bella op die bank. 









Saturday, February 2, 2019

The Man Who Killed Don Quixote - 4/10

The Man Who Killed Don Quixote is beslis nie hoofstroom materiaal nie. Dit is erg deurmekaar en raserig en mallerig. Mens raak heeltemal verward tussen realiteit, skynwerklikheid, toneelspel, verbeeldingsvlugte en terugflitse. Dit het egter 'n gepaste en sterk rolverdeling, wat tegnies korrek is, maar die kyker eintlik sonder iets los. Moet dit vermaak wees, 'n drama, 'n indikasie van die futiliteit van die lewe? kuns? Nugter weet alleen en almal is gesuip! Saam met Bella op die Bank.


Friday, February 1, 2019

Your Highness - 2/10

Your Highness is wild onder die belt, skurf en taamlik snaaks. Dit het nogals 'n opmerkende rolverdeling vir so tipe fliek. Dit dryf die spot met sprokies en sulke cliches, maar sonder enige skaam of skroom of heilige koeie. Wees gewaarsku. Saam met Bella op die Bank voor die kaggel by Critchley Hackle