Friday, July 31, 2020

Valley of the Gods - 6/10

Valley of the Gods is beslis net vir geharde kunsfliekgangers. Dit is vol simboliek, versteekte simboliek, surrealistiese simboliek, pretensieuse simboliek en oorgestilleerde simboliek. Die het wel asemrowende landskappe, fotografie en ryk beelde met 'n sterk, ondersteunende klankbaan.  Franko het nie saam gekyk nie, maar na die tyd opgelees oor al die simboliek en van dit verduidelik. Nie 'n film wat mens sal mis nie, maar as jy dit gekyk het voel dit nie soos tydmors nie, dalk so bietjie verward. Saam met Bella op die Bank. 



Sunday, July 26, 2020

Surviving Picasso - 7/10

Surviving Picasso wys glad nie sy ouderdom nie, net soos die ou skilder self. Puik vertolkings, getroue milieu en dalk so skeutjie oorspeeld. Steeds interessante materiaal. Saam met Bella op die Bank.

Saturday, July 25, 2020

Hundraettåringen som smet från notan och försvann (The 101-Year-Old Man Who Skipped Out on the Bill and Disappeared) - 7/10

The 101-Year-Old Man Who Skipped Out on the Bill and Disappeared is soos sy voorganger vol grappe en 'n sameflans van toevallighede - veral die soort wat karakters met mindere edele planne sleg benadeel, en die res wat net voortploeter bevoordeel. 'n Aangename Hollywood alternatief. Saam met Bella op die Bank. 

Friday, July 24, 2020

Irresistible - 7/10

Irresistible is sekerlik een van die beter flieks oor Amerikaanse politiek. Dit is vreksnaaks, skerp en steek die draak diep. Die rolverdeling kon nie beter nie, en die hele ontknoping is gepas. Lekker kyk materiaal vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Wat hierdie fliek van ander soortgelyke onderskei is omdat die fliek homself (haarself?) nie te ernstig op neem nie. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, July 19, 2020

Greyhound - 8/10

Greyhound het dalk nie die beste grafiese effekte of realisme nie, maar teen die einde van die film bloei mens se voete saam met die van Tom Hanks, en voel mens amper meer uitgeput en opgevreet van die senuwees as hy. Die lyn is baie eenvoudig, maar proseduraal is die vertolkings uitstaande, reg deur die, boot? 'n Voorbeeld van wanneer 'n akteur sy sout werd is. Die film was voorgestel deur die Pretoriusse (DDMM). Die enigste steurnis - en ek is nie seker dit het wel so gebeur nie - was die gesiglose vyand se onheilspellende, maar amper lagwekkende stem. Saam met Bella op die punt van die Bank.

Saturday, July 18, 2020

Wasp Network - 6/10

Wasp Network is nie vermaak nie, dalk eerder 'n gedramatiseerde dokumente^r. Dit is wel realisties, waarskynlik redelik akkuraat en met sterk, gepaste, professionele vertolkings. Mens leer ook dan dit dit amper onmoontlik raak om vas te stel wat die waarheid, wie spioeneer op wie, en wie mens kan glo. Ek dink goeters is nou nog nie seker nie. Saam met Bella op die Bank.

 

Friday, July 17, 2020

Nine - 7/10

Nine is verleidelik, speels en oorweldig die sinne met sy ryk visuele beelde en tonekrul melodiee". As Italie" jou veilige plekkie is, is hierdie absolute noodsaaklikheid, veral op die toon van Be Italian. 'n Ode aan die vroulike vorm. Die film sou nog beter gewees het in Italiaans met onderskrifte. Saam met Bella op die Bank.



Sunday, July 12, 2020

The Old Guard - 6/10

The Old Guard is redelike skop-skiet-en-donder materiaal met 'n korrekte verdeling en gepaste vertolkings. Die lyn bly kykbaar ten spyte van voorspelbaarheid en teenstydighede. Saam met Bella op die Bank. 


Friday, July 10, 2020

Die Seemeeu - 6/10

Die Seemeeu is 'n gewroeg en geswoeg en gesukkel en gevloek en beslis net vir fynproewers bedoel. Die rolverdeling en vertolkings is sterk, raak en sonder enige maskers of fieterjasies. 'n Moeilike fliek om te kyk. Ons het ook verskeie mane terug tydens die Negentigs, nog in die Staatsteater se Arena, Anton Pavlovich Tsjekhov se Die Eend gesien, 'n satiriese verwerking van dieselfde materiaal. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, July 5, 2020

Dominee Tienie - 9/10

Dominee Tienie is 'n kragvertoning vir Frank Opperman. Hierdie is moet-kyk materiaal as jy in die Tagtigers in 'n klein dorpie se NG kerk was. 'n Volwasse, teer kykie na die moeilike kantoordae van 'n dominee en sy gesin. Wel humoristies by tye, maar beslis met 'n swaar traan daarby. Saam met Bella op die Bank. 

Saturday, July 4, 2020

Mal de pierres (From the Land of the Moon) - 7/10

Mal de Pierres, oftewel, From the Land of the Moon, is besliste geharde fynproewer materiaal. Die vrou is emosioneel ongesteld, om dit uiters lig te stel. Die vertolkings is wel uitstaande, en die milieu net soveel beter omdat nie in een of gre^nd ateljee gedoen is nie. Dit film kyk nie te moeilik nie en is tot 'n mate toeganklik. Saam met Bella op die Bank.

Friday, July 3, 2020

Ander Mens - 8/10

Ander Mens is 'n misdaad-komedie wat met van die bestes in die internasionale bedryf kan meeding. Een ding wat die grendelstaat tye ons geleer het, is die rykdom van films in ander tale wat ons gemis het die afgelope dekade of wat. Die hollywood masjien het ons afgestomp gemaak vir die selfde soort sensasionele pulp, dat mens eintlik die fynproef kuns verloor het. Hierdie is die perfekte Vrydagaand materiaal, snaaks, pittig, skerp, vinnig en kreatief. Die tydsbereking en vertolkings maak hierdie uitstaande materiaal. Dit wys ook mens kan volwasse films in Afrikaans maak wat werk. Saam met Bella op die Bank. 

Monday, June 29, 2020

In the Dark, Reeks - 4/10

In the Dark se lokprent herinner aan Stumptown, maar dit is nie Stumptown nie. Die eerste episode oortuig net nie, en die rolverdeling volg 'n reseppie wat net te opsigtelik is. Gaan eerder verbyhou. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, June 28, 2020

Fanny Lye Deliver'd - 6/10

Fanny Lye Deliver'd teken 'n stryd tot oorlewing en waar jou veronderstelde ondersteuningsnetwerk moes help en nie deel van die swaarky is nie. Hierdie is swaar materiaal met 'n taamlik overwagte draai aan die einde en dan kommentaar oor die feitelike pad vorentoe... In Fanny se lewe is en was niks ooit maklik nie. Die arme vrou. Sterk vertolkings deur die bank met 'n idiliese milieu, maar harde lewens, intern en ekstern. Saam met Bella op die Bank.

Saturday, June 27, 2020

The Sleeping Dictionary - 5/10

The Sleeping Dictionary is 'n redelike fliekie, wat dalk so ietwsat sy ouderdom wys (2003). Dit is tot 'n mate leersaam, en alhoewel van die liefdestonele oorbodig voel, is die res piekfyn. Dit is wel duidelik dat Me   Alba as lokaas vir die film gebruik was. Saam met Bella op die Bank.


Friday, June 26, 2020

Pinocchio - 8/10

Pinocchio soos dit moet wees, glad nie met nimlike karakters nie, maar met slinkse wolve en ongure sirkusmeesters. Wel 'n kreatiewe en visuele ryk weergawe en spesiaal omdat dit in Italiaans is. Ek het steeds my Pinocchio leesboek en dit was my gunsteling kinderverhaal. 'n Moet-kyk as jy met hierdie stout seuntjie grootgeword het, met sy neus wat so groei. Ai. Saam met Bella op die Bank.







Monday, June 22, 2020

Perry Mason, Reeks - 6/10

Perry Mason is 'n tipiese HBO interpretasie wat meer fokus op sensasie, gril en skok, maar hou mens se aandag omdat jy graag wil sien wie is die skuldige. Verwag verskeie dwaalspore met groot fanfare. Ten minste ontspannend eerder as spanning. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, June 20, 2020

The Girl in the Fog - 7/10

The Girl in the Fog is 'n realistiese maar proseduraal-vermaaklike fliek. Nog 'n bewys dat flieks met onderskrifte baie maal beter is as die Hollywood pulp waarvan ons afgestomp geraak het. Die fliek is wel realisties, dus is die verloop en einde ook so, en moet dus nie 'n gewilde einde verwag nie. Saam met Bella op die Bank.

Friday, June 19, 2020

Agatha and the Curse of Ishtar - 6/10

Agatha and the Curse of Ishtar val nie buite die verwagte Agatha Christie lyn nie. Ek het hier en daar bietjie die plot verloor, die fliekie het nie my aandag goed genoeg behou nie.... Redelike vermaak, voel of daar meer kon wees. Saam met Bella op die Bank.

Monday, June 15, 2020

Waiting for Anya - 6/10

Waiting for Anya is 'n bittersoet oorlog fliekie. Dit sou dalk meer outentiek met onderskrifte wees, maar die milieu en vertolkings red dit net. Die storie skans teen die grim en uiterlike geweld van oorlog, en fokus meer op die mense en hul verhoudings, ook dan oor die opposisie lyn. 'n Rustige fliekie wat maklik kyk en mens nogals deel van die innerlike spanning maak. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, June 14, 2020

Artemis Fowl - 6/10

Artemis Fowl is glad nie so sleg nie. Dit het powere resensies gekry - Saam met Bella op die Bank.


Saturday, June 13, 2020

The Personal History of David Copperfield - 6/10

The Personal History of David Copperfield is op die ou einde ietwat saai, veral omdat die periode-tydperk nie heeltemal tydloos is nie. Mens kan seker moeite doen en dit terwyl jy kyk vertaal na 'n hedendagse idioom. Die produksie is wel ryk en vol fieterjasies. Tog sal dit vermaaklik bly vir 'n uitgesoekte gehoor. Saam met Bella op die Bank.


Friday, June 12, 2020

Calvary - 9/10

Calvary maak redelike swaar materiaal baie verteerbaar. Mens sou 'n volledige PhD tesis kon doen op al die simboliek versteek in onverwagte hoekies van die lyn. 'n Oe"nskynlike idiliese milieu, maar met innerlike onderstrominge in skerp kontras met die uiterlike. Daar is ook dan 'n paar geleenthede waar amper profetiese uitsprake die einde voorspel, veral die toneel oor vergifnis as die belangrikste deug - eerder as om op die sewe doodsondes te konsentreer. Die hoofrol vertolking maak die tema amper vermaaklik, en is 'n voorbeeld van 'n gesoute akteur wat sy nering as kunsvorm beoefen. Ek sou reken Oscar materiaal. En daar leer ek die term is Calvary nie Cavalry nie... groot verskil. Saam met Bella op die Bank.



Thursday, June 11, 2020

The Great, Reeks - 6/10

The Great is beslis 'n gespottery met soortgelyke reekse, maar veral die wat hulself meer ernstig opneem. Dit is meer ontaktvol as komedies, maar laat mens tog ongemaklik giggel op plekke. Die produksie is beslis nie lae koste of swak kwaliteit nie en die rolverdeling gepas. Saam met Bella op die Bank.


Wednesday, June 10, 2020

The Trial of Christine Keeler, Minireeks - 6/10

The Trial of Christine Keeler wys beslis nie 'n rooskleurige prentjie van Me Keeler nie. Die eerste episode voel ietwat pap, maar bou die konteks vir die res van die episodes. Hoop dit tel op. Die periode lyk wel korrek en akkuraat, en met sulke situasies kan mens werklik niks glo nie, alles is maar oop vir interpretasie en aanbieding. Dit was wel 'n speelse en stout tyd in Britse politiek met meer flair as hedendaagse pione. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, June 7, 2020

2 Guns - 4/10

2 Guns is dalk meer as vier uit tien werd, dalk was ek net nie lus vir die tipe fliek nie. Het sowat 20 minute gekyk en die aftog geblaas. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, June 6, 2020

The Irishman - 5/10

The Irishman is vir geharde fliekvlooie bedoel - dit is meer as drie ure lank, met lang sinnelose dialoog (wie gee nou om of die gevriesde vis in die kar was?), soms as monoloe" bedoel. Dit voel of hulle deur die hele geskiedenis van Italiaanse mafia en unie rampokkery probeer werk in een fliek. Wel 'n sterbelaaide rolverdeling en behoorlike periode stuk. Sou dalk beter as 'n 3 of 6 episode minireeks gewerk het. As mens die fliek kan glo is dit nie vreemd dat Hoffa verdwyn het nie... Saam met Bella op die Bank.

Friday, June 5, 2020

La Gomera (The Whistlers) - 5/10

La Gomera (The Whistlers) doen uiteindelik afbreek aan hierdie kommunikasie kunsvorm, maar is tog kykbaar vanwee die taal en ander manier van fliekmaak. Die vertolkings, alhoewel seker vir die land 'n relatiewe sterk rolverdeling, voel stomp en emosieloos. Dit het dan ook die nodige Roemeense model wat nie skaam is vir seks nie, en 'n verbeeldinglose milieu. Saam met Bella op die Bank.

Sunday, May 31, 2020

L'odyssée (The Odyssey) - 7/10

L'odyssée (The Odyssey) werk goed omdat dit in die brontaal verfilm is. Interessante geskiedenis wat bevestig sommige afgode het voete van klei. Al was Jacques Cousteau se intensies nie altyd so edel nie, het hy steeds baie vermag en bewusmaking van ons planeet se fyn balans behaal. Saam met Bella op die Bank. 


Saturday, May 30, 2020

Arctic - 7/10

Arctic bevestig die menslike gees en wil tot oorlewing, en dan ook seker dat nie almal so sterk soos die hoof karakter sou staan nie. Die film voel hiper realisties, soveel so dat mens bibber en beef na dit, en opsluit in jou warm nes gaan kruip. Minimalisties in alle opsigte, behalwe impak. Saam met Bella op die Bank.

A Midsummer Night's Dream - 5/10

A Midsummer Night's Dream is dalk net te volksvreemd. Het nie vir dit kans gesien nie. Sowat 15 minute uitgehou. Saam met Bella op die Bank. 

Friday, May 29, 2020

Mr. Jones - 8/10

Mr. Jones is 'n kragtige uitbeelding van verskeie donker menslike gedragte, veral hoogmoed. Sterk vertolkings, akkurate periode en milieu. Die gru van oorlog en gulsigheid laat mens verslae, so-ook die ontberings wat mense moet ly agv onvanpaste leiers. Dit is dan ook tragies, en meer so omdat dit op ware persone gebaseer is. Beslis as jy lus voel vir 'n kunsfilm met 'n sterk onderbou. Maar wees gewaarsku, nie vir algemene gehore bedoel nie. Saam met Bella op die Bank.


The Limits of Control - 4/10

The Limits of Control is my limiet, dit lyk net te veel na 'n film sonder enige sinvolle dialoog. Uiters minimalisties en repeterend vir effek. Sowat 20 minute later die limiet geslaan. Saam met Bella op die Bank.



The Invisible Man - 4/10

Gits, nee, The Invisible Man werk net nie. Nie lus vir hierdie sinnelose verhaal lyn nie. Redelik vinnig moed opgegee. Saam met Bella op die Bank.


Space Force, Reeks - 6/10

Space Force ... Lekker Vrydagaand eet-voor-die-teevee materiaal. Saam met Bella en Anrich op die Bank.


Thursday, May 28, 2020

Belgravia, Minieeks - 6/10

Belgravia is nou wel nie Downton Abbey nie maar is tog 'n redelike periode drama vol intriges. Dit het wel 'n stouter lyn as Mnr Carson en sy spannetjie, met 'n sappige einde. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, May 24, 2020

Marie Curie: The Courage of Knowledge - 6/10

Marie Curie: The Courage of Knowledge is beter as die ander poging omdat dit meer getrou aan die verskeie tale is. Haar lewe bly merkwaardig - sy gee amper alles op vir haar wetenskap. Beslis die moeite werd, al is dit net vir die periode, Saam met Bella op die Bank.

Saturday, May 23, 2020

The Emperor of Paris - 7/10

The Emperor of Paris is 'n lekker sappige Franse kunsfilm gebaseer op ware karakters en gebeure. Dit bevat al die nodige elemente met beter as gemiddelde dosisse. Saam met Bella op die Bank.


The Islands - 4/10

The Islands lyk baie belowend met 'n interessante onderbou gebaseer op ware gebeure. Alhoewel die produksie propers lyk, is die vertolkings en dialoog oninteressant en amateuragtig. Dis jammer, hierdie het potensiaal. Sowat 15 minute lank probeer en die aftog geblaas. Saam met Bella op die Bank. 

A Boy Called Sailboat - 7/10

A Boy Called Sailboat is een van daardie onontdekte juweeltjies. Dit is prettig maar tog ook tragies, en met allerhande vreemde gewoontetjies. Dit is verfrissend anders met 'n karakter en milieu ekonomie wat jou sal bybly vir sy eenvoud maar onverdunde impak. Saam met Bella op Bank


3 Days with Dad - 4/10

3 Days with Dad probeer te veel intrige uitvind en bo-op vasplak dat mens nie vashou daarop kan kry nie. So 20 minute later moes ons tou ingooi. Saam met Bella op die Bank.


Friday, May 22, 2020

Bad Education - 6/10

Bad Education lyk na 'n ordentelike drama, maar net waarvoor ek nie nou lus is nie. Sterk rolverdeling en vertolkings, maar het dit nie klaar gekyk nie. Saam met Bella op die Bank.

Capone - 5/10

Ek was erg teleurgesteld toe ek besef Capone handel oor die einde van sy lewe eerder as al sy rampokkery. Niemand stel in die einde belang nie, eerder die luisteryke, opwindende deel. Het die aftog geblaas na sowat 20 minute. Dit is egter 'n kragspel vir die hoofrol, maar die kool is nie die sous werd nie. Saam met Bella op die Bank.



Torpedo - 5/10

Dit is te duidelik dat Torpedo 'n lae-koste  produksie is met net te amateuragtige dialoog en vertolkings. Het sowat 15 minute kon uithou. Saam met Bella op die Bank. 

Thursday, May 21, 2020

Devs, Minireeks - 7/10

Devs is hipnotiserend, veral die klankbaan. Dit is modern, ekonomies, visueel, en stadig. Moet nie vinnige aksie verwag nie, eerder stadige, swanger tonele. Mens wil sien wat gaan gebeur. Saam met Bella op die Bank.


Wednesday, May 20, 2020

Penny Dreadful: City of Angels - 5/10

Dis nie dat Penny Dreadful: City of Angels so sleg is nie, dit is 'n redelike gehalte produksie, met sterk vertolkings en interessante milieu. Dit is net dat mens nie vir die hoofkarakters omgee nie, en ook nie vir die raaiselagtige moorde nie. Sal eers verby hou met hierdie een. Saam met Bella op die Bank.   

Saturday, May 16, 2020

The King - 7/10

The King is 'n sterk drama met gebeure en karakters eerder volgens Henry V as geskiedenis. Dit is stylvol, sterk vertolkings met die nodige dramatiese effek soos bedoel deur Shakespeare. Beslis vir die connoisseur bedoel. Hier en daar Frans (sonder opskrifte). Saam met Bella op die Bank.