Sunday, August 29, 2021

Efterforskningen (The Investigation), Minireeks - 8/10

Soos te verwagte, absolute minimalisme, geen koeitjies en kalfies nie, maar met 'n opbouende afwagting, al ken mens die ware gebeure van Efterforskningen (The Investigation). Stylvolle minireeeks van 'n moord wat net na ons in Kopenhagen was plaas gevind het. Hiper-realistiese vertolkings, milieu, kostuumwerk, stelinkleding en vertolkings. Saam met Bella op die Bank.


Saturday, August 28, 2021

The Toll - 5/10

The Toll is ietwat sinloos en te geweldadig. Ek het by tye aan die slaap geraak en dalk die einde gemis. Saam met Bella op die Bank.
  

Sunday, August 22, 2021

Reminiscence - 6/10

Reminiscence is gangbaar maar vir een of ander rede werk die Noir stem van die manlike hoofrol nie lekker nie. Interessante konsep met so paar gate hier en daar. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, August 21, 2021

The White Lotus, Reeks - 7/10

Ek was so bietjie teleurgesteld by die verneme dat The White Lotus 'n opvolg seisoen het. Hierdie tipe reeks het die beste slaankrag as 'n kort, kragtige minireeks. Maar dit ten spyt, met die openingstoneel van die reeks primie^re is daar 'n afwagting na 'n verduideliking geskep wat met elke episode meer intens raak, veral omdat die saak glad nie aangeraak word nie. Daar is verborge wenke na moontlike oorsake, maar word verdoesel deur ander sensasie-skok elemente. Die reeks raak menslike natuur op so 'n manier aan dat dit nogals onrusbarend, onheilspellend, half ontstellend is. Nie een van die karakters, behalwe dalk een, is gure mense nie. Maar die oordonderende Hawaiise klankbaan versterk die broeinde sweer wat sekerlik moet oopbars. Beslis 'n vlak van kreatiwiteit versteek in blote sig. Saam met Bella op die Bank.



 

Annette - 3/10

Annette is 'n vertoonstuk vir veeldoelige en talentvolle akteurs. Dit is egter wel nie kykbaar en sinvol vir 'n gehoor nie. Meer as 'n aks esoteries. Dalk die perfekte finale jaar projek van 'n drama student. Sowat 15 minute is al wat ek kon maak. Saam met Bella op die Bank.

 

Friday, August 20, 2021

Snake Eyes - 5/10

Snake Eyes is maar gewone skop-skiet-en-donder met 'n tikkie Ninja fantasie by. Dit is gemiddelde, breinlose vermaak vir 'n Vrydag of Saterdagaand. Saam met Bella op die Bank.


 

Sunday, August 15, 2021

Toorbos - 9/10

Toorbos sou tien uit tien kry as dit nie vir die swakker manlike hoofrol rolverdeling was nie. Maar die milieu, periode, kostuumwerk en vertolkings is alles uit die boonste rakke, en dit vir 'n plaaslike produksie. 'n Mooi verhaal in 'n feetjiebos. Saam met Bella op die Bank (sy het dit wel reeds gesien).



Saturday, August 14, 2021

Land - 6/10

Land is 'n stadige maar kort kunsfliekie oor die onvermoe" om te herstel na 'n erge traumatiese ervaring. Dit is sielvol en besielend, en beslis nie lig nie. Saam met Bella op die Bank.


James May: Our Man in Japan, Dokumenter, Minireeks - 6/10

James May: Our Man in Japan bevestig wat ek lankal wil doen, Japan van Noord na Suid besigtig. 'n Kykie buite die gewone toeriste attraksies. Saam met Bella en Anrich op die Bank.




 


Friday, August 13, 2021

The Last Mercenary - 6/10

The Last Mercenary is onpretensieus en sommer net laf. Die tong-toneel is skreeusnaaks, en daar is heelwat aksie humor. Moet nie 'n JCVD film verwag nie, hier het hy al heelwat myle op, mens herken hom amper nie. Daar is wel 'n gespot met van die aksie-tonele uit sy vroee"re films. Mens moet nogals vinnig lees om 'n aksie-komedie met onderskrifte te kyk. Verfrissend non-Hollywoods. Saam met Bella op die Bank. 




  

Monday, August 9, 2021

Spoorloos, Reeks - 5/10

Spoorloos is net te drama-agtig. Sal nog besluit en nog so een episode kyk. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, August 8, 2021

Queen & Country - 7/10

Queen & Country is die opvolg van Hope and Glory. Dit is minder oorspeeld as sy voorganger en op die ou einde net 'n verdere verloop van gebeure. Dit het wel hart, en mens bly tog kyk. Lewensdrama op ware gebeure geskoei. Saam met Bella op die Bank.

Saturday, August 7, 2021

The Suicide Squad - 4/10

The Suicide Squad kan doen met skerper humor eerder as die afgestompte optrede. Die rolverdeling is raak, en die haai (King Shark) is waarskynlik die snaakste en beste deel van die fliek. Die antagonis is nie waarlik die antagonis nie, en eerder 'n tragiese verloop van gierigheid, gulsigheid en goedgelowigheid. Saam met Bella op die Bank.



Friday, August 6, 2021

Jungle Cruise - 4/10

Jungle Cruise is maar flou makou, en dalk te veel op die kortvolk mark gerig. Die dialoog is skoon, daar is nie seks en vloek nie, maar die antagonis is werklikwaar vreemd, veral die keuse van karakter en rolverdeling. Dit voel regtig onvanpas. Ek is seker 'n swetterjoel Standerd Eens sal hierdie baie waardeer. Saam met Bella op die Bank.




  

Sunday, August 1, 2021

F9: The Fast Saga - 4/10

Moet nie enigsins verwag F9: The Fast Saga vervolg mooi op die voorgangers nie. Hierdie is iets nuuts, maar eintlik maar onsinnige Hollywood pulp. Ten minste redelike eskapism met verregaande tonele. Saam met Bella op die Bank.



 

Saturday, July 31, 2021

Settlers - 7/10

Ek het nie geweet Mars is naby Vioolsdrif nie? Settlers is 'n depressiewe kykie na ware pioniers - hierdie is nie ligte wetenskapfiksie nie. Professioneel vertolk en vervaardig. Saam met Bella op die Bank.



Friday, July 30, 2021

French Exit - 5/10

French Exit gebruik nie Parys tot sy maksimum potensiaal nie. Die fliek slaag ook nie om my aandag deurentyd te behou nie.... sluimer, sluimer, slapies. Bella het dit wel geniet. 

A French Exit may be an alternative for a French Letter?



Wednesday, July 28, 2021

Dr. Death, Minireeks - 6/10

Dr. Death bevestig maar wat mens dink gebeur. Die stelsel laat mens net jou kop in ongeloof skud. Ek dink egter erger dinge gebeur as hierdie - dit word net nie so aan die lig gebring nie. Saam met Bella op die Bank.





Tuesday, July 27, 2021

Ted Lasso, Reeks - 10/10

Die loodsepisode van Ted Lasso lyk belowend in twee opsigte, eerstens die milieu en tweedens die dialoog en premis. Maar wat die koek steel is die hoof antagonis. Sal beslis nog 'n paar episodes kyk. Dit herinner ook sterk aan Emily in Paris. Anders as verwag het die hoofrol 'n seunsagitge onskuld in sy benadering, iets wat moeilik moes wees vir 'n Amerikaanse akteur. Hierdie reeksie raak al beter, met baie skerp en snaakse se^ goed, maar ook heelwat waarvan mens kan leers, soos bv, “Be curious, not judgmental” – Walt Whitman. Saam met Bella op die Bank.


 

Sunday, July 25, 2021

Finding You - 6/10

Finding You is 'n onskuldige tjiekfliekie, met 'n taamlik voorspelbare lyn. Dit is wel die milieu wat die hart steel. Saam met Bella op die Bank. 



  

Saturday, July 24, 2021

Les Herbes Folles (Wild Grass) - 3/10

Les Herbes Folles bewys dat nie alle Franse films die moeite werd of goed is nie. Die sin van die film, gegee dat dit wel 'n kunsfliek is, maak nie sin nie. Dit val rond. Die akteurs is ook nie noodwendig te waffers nie. Mens bly kyk in die hoop dat iets sinvol gaan gebeur. Teen die einde besef jy dit was erge tydmors. Die film se plakaat is waarskynlik die beste deel. Ai. 'n Minder suksesvolle flieknaweek. Saam met Bella op die Bank. 


 



The Tomorrow War - 3/10

The Tomorrow War is seker nie die slegste Hollywood film ooit nie. Dit is redelike eskapism, maar wat my kry van hierdie tipe films is dat fisika wette nie deur buitenruimtelike wesens gehoorsaam word nie. Breinloos en te naby aan cv19. Saam met Bella op die Bank.




Radio Free Albemuth - x/10

Radio Free Albemuth lyk taamlik esoteries, dus het ons die aftog redelik vinnig geblaas. Ek sal dit egter wel nog 'n probeerslag gun. 


The word "albemuth" was derived by Philip K. Dick from the Arabic word Al Behemoth, "the whale", itself an oblique reference to Fomalhaut, the star Dick at one time believed VALIS came from in real life. 

- Word Similarity


Jolt - 5/10

Jolt is die naweek se beste film gewees, maar steeds nie bogemiddeld nie. Dit is 'n skaamtelose nabootsing van John Wick, net met gatskop vroue. Ek is 'n groot Kate Beckinsale aanhanger, maar hier stem ek nie saam nie. Ten minste is die sterk visuele, ryk milieu vermaaklik en aanskoulik. Saam met Bella op die Bank.

Monday, July 19, 2021

Domina, Reeks - 6/10

Domina is visueel en stilisties sterk en ontwikkeld, en dalk te fyn afgewerk as wat mooontlik was tydens die werklike era. Ek is egter oortuig die dialoog was nie naastenby so modern en afgerond nie - hulle het beslis ook nie die f-bom so gebruik nie. Dalk so hierdie soveel beter in die oorspronklike taal met onderskifte gewees het. Sal dit wel klaar kyk, die geskiedenis bly interessant, al as dit so oorgedramatiseerd. Saam met Bella op die Bank.


Sunday, July 18, 2021

Hope and Glory - 6/10

Hope and Glory wys sy ouderdom (1987) met oorspeelde, oordawerende en oordrewe vertolkings, dialoog en fisiese manewales. Dit is wel nodig om hierdie te kyk as mens die opvolg beplan. Steeds interessant hoe kinders oorlog beleef en hoe vinnig dit hulle realiteit word in al hul optredes. Saam met Bella op die Bank.




   

Mike and Mavis - 6/10

Mike & Mavis is kort en soet met karakter, milieu en kostuum ekonomie. Romantiese tonele in alledaagse Gauteng. En nog meer alledaagse dialoog tussen die ma en dogter. Die hoofkarakter is wel betowerend in sy vasberadenheid. Saam met Bella op die Bank.

Die oorspronklike Mike & Mavis radio-paar.


 

Saturday, July 17, 2021

Vervroegde Aftrede, Kort Film - 5/10

Vervroegde Aftrede is heel vermaaklik. Dit is ietwat voorspelbaar, maar die vertolkings is net genoeg tong-in-die-kies om hierdie 'n prettige aard te gee. Saam met Bella op die Bank.



 

The Duke - 6/10

The Duke maak staat op sy sterk rolverdeling, kwaliteit vertolkings en era. Die lyn is redelik eenvoudig, maar wel gebaseer op ware gebeure. Mens voel vir die omie en al sy manewales, en verstaan se wederhelf se frustrasie. Hy skop ten minste teen die stelsel. Saam met Bella op die Bank. 




Friday, July 16, 2021

Gunpowder Milkshake - 5/10

Gunpowder Milkshake is redelike skop-skiet-en-donder aksies, darem met 'n oorheersende meisie-bende. Visueel ryk en stylvol, met 'n geloofwaardige lyn. Saam met Bella op die Bank.



Tuesday, July 13, 2021

Ragnarok, Reeks - 6/10

As enige iemand anders as die Noorwee"rs Ragnarok gemaak het, sou dit waarskynlik nie so onderspeeld en onderstromend voorgekom het nie. Gewone mense in 'n gewone, maar asemrowende natuur omgewing, kleindorpie. Sal beslis Seisoen Een klaar kyk. Wat hierdie van enige soortgelyke ekwivalent onderskei is die oorspronklike taal met onderskrifte. Saam met Bella op die Bank.



Saturday, July 10, 2021

The Scottish Play - 7/10

The Scottish Play maak ou Ingels in ongerymde iambiese pentameter heel toeganklik vir 'n meer algemene gehoor. Die skep van heelwat nuwe frases is interessant en val sag op die oor. Die fliek het 'n geduldige tempo, met 'n rustige Amerikaanse kleindorpie milieu en speelse vertolkings, alles in lyn met die gevoel van die bronteks wat voorgehou word. Die rolverdeling is sterk en ondersteunend. Saam met Bella op die Bank.




Qualcosa di Nuovo (Something New) - 4/10

Qualcosa di Nuovo is net te lig en laf vir my. Kon ten minste die eerste 30 minute deurmaak slegs omdat dit in Italie" afspeel... Die openings sekwens was ook net te oordoen, my kop het begin swaai. Saam met Bella op die Bank.


 



Friday, July 9, 2021

Black Widow - 6/10

Black Widow is, soos te verwagte, een lang sekwens van vegtoertjies maar darem met pittige se^goed tussendeur. Die onmoontlike word hier gemaklik moontlik. Nogsteeds 'n goeie dosis eskapism vir 'n lui Vrydagaand. Saam met Bella op die Bank.




  

Saturday, July 3, 2021

Korkoro - 8/10

Korkoro is gemik op geharde kunskring fliekgangers. Dit was wel bedoel as 'n dokumente^r, maar werk steeds as 'n film, alhoewel sonder 'n spesifieke storielyn. Dit is hartseer en laat mens koud en magteloos teen die mensdom en sy ondinge. Die fliek oorrompel met sy borrelende emosie en opregtheid. Saam met Bella op die Bank. 





Friday, July 2, 2021

Peter Rabbit 2: The Runaway - 5/10

Jip, Peter Rabbit 2: The Runaway is meer op die kortvolk gerig. Dit is wel grappig en vol oulikhede, en kan deur jonk en groot geniet word. Ek het wel 'n groot stuk weggedommel in die middel. Al kyk mens dit net vir die milieu. Saam met Bella op die bank.




Saturday, June 26, 2021

Kalashnikov - 7/10

Kalashnikov is 'n ander kykie op die simbool van vryheidsvegters, terroriste en Russiese produkte. Die oorsprong word met deernis vertel en uitgebeeld. Dit is moeilik om te sien hoe die ontwerper daaragter soveel doodslag tot gevolg kon he^ met hierdie robuuste produk. Beslis die kyk werd. Saam met Bella op die Bank.

 



Friday, June 25, 2021

Committed - 6/10

Committed het drie karakters, die 190 SL, die hubare jong man en die bruid. Die milieu is nie juis 'n karaketer op sy eie nie, maar dra wel by tot die gevoel van opperste karakter ekonomie, sielsverlatenheid as iemand jou voor die kansel laat wag (op niks) en sommer 'n emosionele onbevoegheid aan die jong man se kant. Die fliekie kry dit wel reg om met 'n baie eenvoudige lyn, nie te komplekse dialoog nie (van dit is in Grieks), en eintlik geen aksie nie om die aandag te behou tot op die einde. Saam met Bella op die Bank.




Saturday, June 19, 2021

The Misfits - 3/10

The Misfits is een van daardie flieks wat mens binne 10 minute moes ophou kyk het. Dit is power, pap en sonder fut. Een of ander vervaardiger wou hier 'n punt bewys, veral dat die gekose milieu dalk aantreklik sou wees. Die humor werk ook nie lekker nie. Saam met Bella op die Bank.


 

Friday, June 18, 2021

Les Beaux Jours - 6/10

Les Beaux Jours (Bright Days Ahead) handel nie teen 'n vinnige pas nie. Dit is ook dan net die Franse wat 'n tand-ondersoek sensueel kan laat lyk. 'n Film oor verhoudings, oudword en jonkbly. Steeds beter as wat Hollywood met hierdie tema sou doen. Meer vir die kunskring liefhebber bedoel. Saam met Bella op die Bank.



Saturday, June 12, 2021

Clarkson's Farm, Realiteit Televisie - 7/10

Vermy Clarkson's Farm beslis as jy nie van die man hou nie. Dit is wel vermaaklik op sy simpel manier. Maar mens leer eintlik saam met hom. Maar dit is die ander karakters wat beindruk met hulle eerlikheid en kennis. Saam met Bella en Anrich op die Bank.

 

Antoinette dans les Cévennes - 3/10

Antoinette dans les Cévennes begin redelik, en voel so ietwat oordrewe. Dit raak dan wel baie vervelig want mens voel nie juis wat met die dametjie (en donkie) gebeur nie. Aftog geblaas so derde in. Saam met Bella op die Bank.






Friday, June 11, 2021

Mademoiselle de Joncquières (Lady J) - 6/10

Mademoiselle de Joncquières laat mens se kop draai van al die praat al is dit alles in Frans. Selfs die titel het lang woorde. Die arme, sinnelose drommel, 'n slaaf van sy inherente natuur. En dan die berekende skurk, 'n welsprekende, laggende, pratende beeld van onskuld. Wat dan wel aan die pen ry, al is dit net die wrang smaak van vergelding en wraak. En nog erger, die gulsige, liggelowige slagoffers, Meer vir geharde kunskring fliekgangers bedoel en tog wel vermaaklik. Wens ek kon Frans verstaan. Saam met Bella op die Bank.


  

Loki, Reeks - 8/10

Loki is pure plesier, 'n ode aan superheld films en reekse. Sappige ontspanning met 'n visuele ryk milieu en allerhande sewentiger-styl toestelletjies. En heelwat skerp humor. Saam met Bella op die Bank. 



Sunday, June 6, 2021

Minamata - 9/10

Minamata kry dit reg om mens deel van die omstandighede te maak, mens stik sommer aan jou water. Sterk vertolkings deur onbekende karakters, maar ook Mnr Depp. Beslis nie vermaak nie, wel stof tot besef en nadenke. Dat 'n maatskappy sy eie so kan benadeel. Saam met Bella op die Bank.





Saturday, June 5, 2021

Max Bishop - 4/10

Max Bishop is net te amateuragtig. Dit het wel potensiaal en van die openingstonele was nogals snaaks. Ons het dit wel nie klaar gekyk nie, alles raak net te gewoon. Saam met Bella op die Bank.





À la vie (To Life) - 7/10

À la vie is 'n eenvoudige storietjie opgedra aan sterk vrouens. Ten spyte van grim omstandighede maar met 'n volhoudende sterk gees oorwin hulle, hulle omstandighede. Beslis die moeite werd. Humor, hartseer en eerlikheid. Saam met Bella op die Bank.


 


Friday, June 4, 2021

Edge of the World - 6/10

Edge of the World leer mens darem iets, ten spyte van die sterk metodiese teater gevoel. Die tonele kom realisties voor maar dan besef mens die barbare is eintlik die Engelse wat dink hulle is nie barbare nie. Nie ontspannings materiaal nie, maar tog heel kykbaar. Saam met Bella op die Bank.