Sunday, May 30, 2010

Whip It - 6/10

Whip It is 'n lekker ligte tienerfliek. Ellen Page is besig om 'n goeie aktrise in eie reg te word, en stel nie in hierdie rol teleur nie, alhoewel dit nou nie so 'n kragvertoning as in van haar ander films is nie. Die fliek beweeg lekker vinnig en is heel kykbaar, selfs vir grootmense. Saam met Bella op die bank.

Monday, May 24, 2010

Whatever Works - 6/10

Whatever Works is nie Woody se beste tot dusver nie, maar beslis 'n lekker ligte komedie, alhoewel donker, vir 'n DVD. Rachel Evan Woods speel 'n baie oortuigende rol. Wees egter gewaarsku, hierdie fliek het nie ou koeie oor geloof en die oorsprong daarvan nie. Die fliek mag dalk heel vervelig wees vir die non-Woody fliekganger. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, May 22, 2010

An Education - 7/10

An Education is nie 'n swaar of ligte fliek nie - mens kan dit seker as 'n ligte drama klassifiseer. Wat dit baie laat uitstaan is die puik vertolkings van al die karakters. Die rolle is geloofwaardig en ontwikkeling word goed gebruik. Dit is ou Alfred Molina wat besonders goed speel in sy rol as 'n baie beskermende vader. Alhoewel ek die fliek dalk nie vir 'n Vrydagaand sal aanbeveel nie, het ek en Bella dit steeds baie geniet op DVD, op 'n Vrydagaaand. Kyk gerus, maar moet nie baie aksie verwag nie. 

Robin Hood (2010) - 6/10

Ek het dalk te veel verwag van Ridley Scott se poging to Robin Hood. Alhoewel die storie redelik interessant is - dit vertel die verhaal tot net voor die begin van die bekende storie - is daar vir my te veel en te lang gevegstonele. Vir iemand wat daarvan hou, sal dit waarskynlik 'n baie goeie film dan wees. Mens kan egter net soveel keer kyk hoe 'n ou met 'n swaard iemand oorwin, en nie self omkom nie. Wat egter nogals goed was, ook in die gevegstonele, was die pyl-en-boog werk. Daar is klein bietjie humor in die fliek, wat oorwegend probeer om 'n drama te wees. Die visuele aspekte van die fliek staan baie uit - dit skep 'n baie geloofwaardige prentjie van die era en milieu. Die toneelspel is goed, en al is Cate nie die mooiste Marian nie, bly sy een van die beter aktrises. Saam met Francois in die teater.  

Sunday, May 16, 2010

Old Dogs - 7/10

Old Dogs is beslis een van die beter flieks in die genre. Alhoewel dit steeds die gewone resep volg, is die fisiese humor daarin skreeusnaaks. Veral die eerste toneel met die pille verwarring het my op die grond laat kruip van die lag. Ons hele familie het dit geniet, en selfs die volgende oggend nog gelag oor van die tonele. Robin en John pas baie goed in hierdie familie komedie. Saam met die hele familie op die bank. 

Where the Wild Things Are - 6/10

Where the Wild Things Are is beslis nie 'n familie of kinderfliek soos wat die DVD kassie voorgee nie. Dit is 'n ietwat ontstellende fliek, met baie ondertone. Die grootkop karakters dra 'n baie melankoliese toon tot die fliek by. Die stadige, rustige dialoog is in skerp teenstelling met die sterk emosies wat die jong seunskarakter beleef. Die film is baie goed gemaak, en weerspieel die fantasiewereld van die hoofkarakter. Saam met Franko en Anrich op die bank. Bella het eers die volgende oggend kon kyk. 

All About Steve - 5/10

All About Steve is nie die beste fliek wat Sandra Bullock al gemaak het nie, maar is darem heel kykbaar. Dit volg die gewone ou reseppie, maar het darem 'n snaakse toneel of wat. Saam met Bella op die bank.

Wednesday, May 12, 2010

Love Happens - 5/10

Love Happens is 'n redelike gemiddelde fliekie, wat so tussen tjiekfliek en ligte drama val. Dit is heel kykbaar, en Jen maak dit die moeite werd.... Saam met Francois in die teater.

Sunday, May 2, 2010

The Good Girl - 6/10

The Good Girl is 'n ietwat stadige, taamlik offbeat (aweregse?) komedie. Jennifer doen nogals goed in die hoofrol, en anders as Uma in Motherhood, het sy nie dieselfde probleem as 'n te seksie aktrise wat 'n afgesloofde rol speel nie. Die rolle in die film is ietwat ekstreem, veral die rol wat Reilly vertolk, en Jen toon darem vir jou staalsterk selfbeheersing. Bella het nogals van die fliek gehou. Ek sou reken dit is die denkende tjiek se fliek hierdie. Daar is heelwat tonele wat mens na die tyd weer byval, en ook 'n paar heel snaakses. Saam met Bella op die bank. Ons het hierdie, toe eerder as Zombieland gekyk. 

Saturday, May 1, 2010

Iron Man 2 - 6/10

Iron Man 2 is 'n gemiddelde opvolg fliek, maar wat tog in 'n sekere mate vir my dalk selfs beter as die eerste een is. Dit het korter skiet-slaan-en-d*nder tonele, en so bietjie meer dialoog. Ek het nogals gehou van Dr Fury, en die kick-ass rol wat Scarlett speel is darem net te lekker. Dit was baie jammer dat Hulk nie verskyn het, soos aan die einde van die eerste fliek gewus is nie... Saam met Franko en Anrich in die teater op 'n Vrydagaand! En, flip, toe is die dem airkon weer stukkend....ai. 

Tuesday, April 27, 2010

FlashForward - 6/10

Wel, ons het nog net twee episodes van FlashForward gekyk, en dit beloof om soos The 4400 of dalk selfs beter te wees.... Daar is net 22 episodes in die reeks - ons trek al baie 17... die storie is vrek interessant....

Aag vrek, daar is dit nou ook oor. Die reeks is die moeite werd, maar dit eindig soos al die ander met meer vrae as antwoorde....

Monday, April 26, 2010

Lie to Me (S1E1-E13 & S2:E1-E10 ) - 7/10

Ek en Bella het lanklaas 'n reeks so geniet as Lie to Me. Ons kan nie wag om die res van Seisoen 2 klaar te kyk nie. Die stories volg nie op mekaar nie, maar daar is tog 'n paar drade wat deurvleg. Ek geniet Foster se maniertjies baie, en Cal kan darem vir jou iemand se m*er pluk. Saam met Bella op die bank.

Ons kon darem nou die derde reeks begin kyk (Okt 2010). 

What Doesn't Kill You - 5/10

What Doesn't Kill You is 'n heel kykbare fliek, gebaseer op 'n ware verhaal. Dit begin ietwat stadig en deurmekaar, maar raak dan tog beter. Amanda Peet speel 'n onverwagse rol, en nogals heel goed. Die fliek handel oor 'n boef wat dan op die regte pad terug swaai maar met moeite. Saam met Bella op die bank.

Y.P.F. - 4/10

Wel, Y.P.F. is blykbaar die gewildste Kanadese film in 'n hele ruk, maar dit is steeds ietwat ondergemiddeld. Dit is is beslis vir bietjie meer avontuurlistige fliekgangers... Geniet dit op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Motherhood - 4/10

Motherhood is maar heel ondergemiddeld, maar tel na die einde se kant onverwags op. Wat die fliek nog erger maak, is die feit dat Uma dit nie kan regkry om soos 'n afgesloofde ma te lyk nie, sy is net te seksie daarvoor. Saam met Bella op die bank.

Monday, April 19, 2010

2012 - 3/10

Ek wou 2012 eintlik 'n een of twee gee want dit maak op die ou einde net op grafika staat om iets te beteken. Die spel is vrot, die storielyn is vrot, die spanningslyn is vrot, die eskapism tonele is vrot, maar die skaal van die ontberings en rampe is redelik groot. Die fliek werk eenvoudig net nie, want dit volg die Hollywood reseppie tot vervelens toe akkuraat. Kyk gerus op eie risiko. Saam met Bella op die bank.

Sunday, April 11, 2010

August - 2/10

August is 'n designer moewie oor die DotCom bubble wat gebars het. Dit werk eenvoudig net nie, alhoewel daar dalk hier en daar iets is wat die moeite werd is. Die lyn is nie spannend of interessant nie, en die hoofkarakter probeer net die hele tyd koel wees. Vermy maar eerder. Saam met Bella op die bank.

Alvin and the Chipmunks: The Squeakquel - 5/10

Alvin and the Chipmunks: The Squeakquel is goeie materiaal vir die jonger geslag. Hulle geniet al die grappies en kan die skril stemmetjies vir 'n volle fliek ongedeerd oorleef....Saam met die familie, ouma en oupa ingesluit, op die bank.

Monday, April 5, 2010

How to Train your Dragon 3D - 6/10

Sjoe, die grafika in hierdie 3D fliek is so voortreflik, dit laat mens op stadiums wonder of hulle regte mense gevat het, en met hulle animasie gepleeg het. Die storie is heel goed, maar het net te min dubbellaag humor om grootmense te vermaak. Dit het wel 'n lewenslessie oor kindersgrootmaak in. En dan natuurlik dat drake nie so sleg is as wat mens dink nie. Dit is dan die tweede lewenslessie... Die derde een is dat dit partymaal genoeg is om net met een verskil 'n hele verandering te bewerkstellig. Die 3D aspekte word goed gebruik, met omtrent al die skote. Saam met die familie in die teater, asook die Shroeders. 

Sunday, April 4, 2010

V (2009) (Episodes 1-4) - 5/10

V (2009) is basies 'n nuwe V (1983). Ek het die ou reeks geniet. Die nuwe reeks voel so bietjie flou. Ons kon net episodes 1 tot 4 sien. Sal dalk later die res kyk, as daar nie meer ander reekse oor is nie. Moet se die nuwe Vs is aansienlik mooier as die oues...

The 4400 (Reekse 1 tot 4) - 6/10

Moet se^ dat ek en Bella The 4400 baie geniet het. Dit is sekerlik nie die beste van reekse nie, maar dit bou lekker stadig op na 'n redelike finale. Ongelukkig kon ons nie die heel laaste episode sien nie, maar danksy WikiPedia, kon ons dit wel lees... Daar was interessante episodes, en die karakters het darem redelik ontwikkel. Die Isabelle karakter se akteur het nogals 'n teenwoordigheid. Saam met Bella op die bank oor 'n hele paar weke. Ek sou dit nogals aan beveel as jy van reekse hou.

Ek en Bella het eers in Junie 2010 die laaste episode kon kyk - soos op Wikipedia, gebeur dit alles, maar eindig tog vir my meer geslote as oop. 

The Invention of Lying - x/10

The Invention of Lying is nog 'n Ricky Gervais fliek. Ek het van sy vorige werk baie snaaks gevind, soos Ghost Town. Hy het goeie tydsberekening vir komedie. Hierdie een lewer meer sosiale kommentaar, asook baie oor geloof. Die fliek sal beslis deur heelwat as Godslasterlik beskou word. Ek het egter aan die slaap geraak (ai!), en wil dit dus weer 'n slag kyk voordat ek verdere kommentaar lewer.

Friday, April 2, 2010

Astro Boy - 4/10

Astro Boy is 'n kinnerfliekie en sal deur hulle geniet word ook. Dit is nie te sleg aan die begin nie, maar verval maar in die gewone na die einde toe...Moet se^ dat daar heelwat bekende akteurs is vir die stemwerk. Saam met die familie op die bank. 

Wednesday, March 31, 2010

The Rebound - 5/10

The Rebound was maar baie afgeskiet toe dit in die teaters gedraai het. Dit is glad nie so sleg nie, en werk lekker as 'n Vrydagaand tjiekfliek DVD. Dit is nou wel baie lig, maar het darem hier en daar 'n dieper oomblik. Saam met Bella op die bank.

Monday, March 29, 2010

Land of the Lost - 7/10

Land of the Lost sal beslis nie in almal se smaak val nie, maar is vrek snaaks. Mens kan selfs die irriterende Will Ferrell verdra... Dit val vir my baie in dieselfde kategorie as The Hitchhiker's Guide to the Galaxy of The Life Aquatic with Steve Zissou. Dit werk baie goed op DVD, en die spesiale effekte is nogals heel goed vir 'n fliek wat waarskynlik nie so duur was om te maak nie - net so koel $100m !!! Vrek, hierdie ouens het baie sleg gedoen met die fliek op mainstream, want sover ek weet was dit nie eers hier in die teaters nie...reguit DVD rak toe. Die idee van 'n kosmiese Verlore en Gevind is beslis goeie vermaak, en word uitsstekend uitgebeeld in die fliek. Die slim T-Rex vat die koek. Ek was dalk net lig histeries, maar hierdie fliek het my laat skater - regdeur - en ek sou beslis ook gebly het, soos wat Will Stanton gemaak het! Wow, die Pakuni women is die wag werd.... Die film maak heelwat kommentaar op die wetenskap, veral met steke na die ouens wat werk aan die teorie van alles (mikro/makro), evolusie, menslike gedrag, en nog heelwat. Dit is baie lig, maar ek het die baie geniet saam met Bella en Franko op die bank.


Saturday, March 27, 2010

Moon - 6/10

Moon bestaan uit 'n beknopte milieu met net twee werklike karakters. Dit het 'n kriewelrige storielyn, wat dalk nie so vergesog is as wat mens dink nie. Die fliek is nie ligte vermaak nie. Die drama element is ook egter nie te swaar om te verteer nie. Saam met Bella op die bank.

Couples Retreat - 3/10

Couples Retreat het belowende akteurs, 'n lieflike eiland (die regte een), en hope moontlikhede. Ek vermoed omdat Vince Vaughn een van die skrywers is, en baie lief is om baie te praat, is die fliek maar heelwat saai. Selfs nie eens Jean Reno red die humor in hierdie film nie. Daar is 'n paar snaakse tonele, maar nie genoeg om die fliek 'n properse komedie te maak nie. Dit is ook nie 'n romantiese fliek nie, dus is dit ook nie 'n romkom nie. Vermy dalk maar eerder, maar dit is darem nie te sleg op 'n Vrydagaand nie. Saam met Bella op die bank.

Sunday, March 21, 2010

Inglourious Basterds - 6/10

Inglourious Basterds is nog 'n Tarantino fliek wat skynbaar sy terugkoms inlei. Die fliek kom aanbeveel en het selfs 'n Oscar losgeslaan. Hoop dis so goed as wat ek hoop...

Ek moet se^ dat hierdie dalk nie Tarantino se beste is nie, maar ek weet dan ook nie wat sy beste is nie... Die fliek is goed gemaak - kostuumwerk, akteurs, en so aan, maar ek kry die gevoel van "goed uitgevoer, maar ietwat vervelig". Dit is ook glad nie so geweldadig nie, behalwe dalk vir die enkele skote van kopvelle wat verwyder word (a la Apache). Dalk was ek net nie in die regte bui vir die fliek nie. Dalk was dit omdat die fliek uitgerek is, en die einde wat nie heeltemal met geskiedenis strook nie. Saam met Bella op die bank. 

Saturday, March 20, 2010

(500) Days of Summer - 6/10

'n Taamlike off-beat romantiese komedie, met 'n tydlyn wat selfs die mees geharde tydtoeris sal ontsenu. Dis baie lig, maar tog baie kykbaar. Die akteurs speel almal heel goed, op gelyke vlak vir hierdie tipe genre. Dis 'n klein bietjie bo die gemiddeld. Saam met Bella op die bank. 

Julie & Julia - 7/10

Sjoe, hierdie fliek maak mens sommer honger. Ten minste gebruik hulle Julia se "kuns" om die fliek uit te beeld - Dis ook weereens 'n kragrol vir Streep - sy is maar net 'n goeie aktrise. Dit is 'n lekker ligte fliek met heelwat humor, selfs ou Stanley speel goed. Enigste nadeel van die fliek is dat mens wens jy kon soos Julie in Parys leer kook... Saam met Bella op die bank.

Planet 51 - 5/10

Planet 51 is lekker ligte familie vermaak met 'n paar stukkies wat darem ook die grootmense sal vermaak. Daar is veral twee stukke wat my laat skaterlag het. Kyk gerus saam met die hele familie. Saam met die hele familie op die bank. 

Alice in Wonderland 3D - 8/10

Dis nou maar een ding, Tim Burton maak miskien donkerder flieks, maar sy aandag aan visuele details en verdieping is ongelooflik. Eintlik vertel hy 'n ou storie weer maar net oor, en met soveel verfrissende interpretasies dat mens heeltemal ingesluk word in die skynwerklikheid van Onderland. Johnny Depp doen sy reputasie gestand en lewer weereens 'n puik vertolking van die mal hoedeman. Dis egter die Rooi Koningin wat mens beindruk, maar eintlik kan mens niemand uitsonder in hierdie absolute visuele nirvana nie. Hoogs aan te beveel, maar nie vir die kleinstes nie, dis dalk so bietjie donker en bo hulle vuurmaakplek. Dit is off-beat, maar tog ook toeganklik. Saam met die familie en die Krugers (sonder Mnr J) in die teater. Ek en Bella het op 'n loverseat gesit...

Sunday, March 7, 2010

The Soloist - 6/10

The Soloist is nog 'n ware verhaal, maar die slag is dit heel kykbaar. Dit handel ook oor pyn en leiding, maar word goed aangebied met 'n baie klein rolverdeling. Dit is dalk bietjie swaar vir 'n Saterdagaand. Op die ou einde is die vraag dan seker wie die solois in die film is - dis nou as mens verby die musiekman self kyk. Die akteurs is almal puik. Saam met Bella op die bank.  

Friday, March 5, 2010

Fireflies in the Garden - 5/10


Fireflies in the Garden het net so mooi visuele titel as Photographing Fairies. Laasgenoemde het ek baie geniet, dus hoop ek Fireflies in the Garden doen net so goed, en selfs beter...

Wel, nou ja, dis maar een stryd in hierdie film. Dit is redelik goed vervaardig, maar die menslike drama is maar gemiddeld - miskien was dit nie die regte keuse vir 'n Vrydagaand DVD op die bank nie... Beslis nie in dieselfde klas of kategorie as Photographing Fairies nie. Ek voel redelik neutraal, en sal dit nie juis aan of af beveel nie. Saam met Bella op die bank.

Monday, March 1, 2010

Garfield's Fun Fest - 5/10


Ek hou die meeste van hierdie reeks Garfield flieks, die ander een is Garfield gets Real. Dit is vir my beter as die een met regte mense, bloot omdat die gevoel van die rekenaar animasie die naaste is aan die van die strokies. Saam met die twee seuns op die bank. Lekker kindervermaak.

Coco avant Chanel - 6/10


Wel-wel, nog 'n ware verhaal, die slag oor die mode orakel, Coco Chanel. Die fliek handel oor Coco, voordat sy Chanel gevorm het tot 'n magtige mode ryk. Audrey Tautou, met haar beste ooit as Amelie, toon merkwaardige ooreenkoms met die regte Coco. Die fliek beweeg ietwat stadig, en gelukkig gebruik hulle darem tot 'n mate die mode on haar "kuns" te vertel. Werk lekker vir 'n Sondagaand, maar moet net nie moeg wees nie. Dit werk ook redelik op DVD, maar sal sekerlik die beste in 'n teater wees, omdat dit onderskrifte gebruik. Saam met Bella op die bank. 

The Informant! - 5/10

Party ware verhale werk net vrek goed, en ander eenvoudig nie. Dit het ook selde te make met die interessantheid van die werklike gebeure - selfs die saaiste lewe maak soms 'n goeie film. The Informant! val ongelukkig nie in die beste van groepe nie. Hierdie is egter 'n goeie poging vir ou Matt. Saam met Bella op die bank. 

Smart People - 7/10

Smart People is 'n "main stream" kunsfliek, as daar so iets is. Dit is egter ou Thomas Haden Church wat hierdie fliek met humor laat slaag. Mens is half jammer die fliek is klaar as die einde aanbreek. Op die ou einde speel al die akteurs goed, dit luk of hulle mekaar gevind het toe die moewie vervaardig was. Juno, oftewel Ellen Page, 'n groot gunsteling, doen net so goed met haar ongeergde benadering tot die lewe. Dit werk op enige aand van die week, en is 'n baie goeie DVD opsie. Ou Dennis het darem oud geword! Saam met Bella op die bank. 

Sunday, February 21, 2010

Bright Star - 6/10


Ons het Bright Star ook in die Menlyn Draaifin gesien - dit is ook Franko se eerste kunsprent wat hy deurgekyk het. Die fliek is dalk so bietjie stadig vir 'n draaifin, as mens agter in 'n Isuzu dabilkeb sit en kyk. Dit is stukke beter as Little Ashes, wat 'n soortgelyke fliek is. Die verskil is dat Bright Star dan die woordekuns van Keats gebruik, en Little Ashes nie die beeldende kuns van Dali nie. Kyk gerus as jy van lees hou, veral romantiese Engelse prosa.

The Princess and the Frog - 5/10

Heel gemaklike kinderfliekie. Dit is so bietjie donker hier en daar vir die kleinstes van die kleinspan, maar het tog op die ou einde 'n goeie lessie of drie - Lig sal oorwin, en dit help nie om met onheil te konkel nie. Saam met die gesin in die Menlyn Driaafin. 

Thursday, February 11, 2010

Little Ashes - 4/10

Nee wat, Little Ashes is heeltemal te pretensieus, waarskynlik in elk geval so baie as wat ou Salvador Dali self was... Die fliek verveel maar baie, en mens kry die gevoel hulle kon dit heelwat beter gedoen het. Miskien sou dit beter op die grootdoek doen. Moenie van sy kuns verwag nie, hulle wys wel so klein bietjie, maar nie so baie soos bv. met Girl with a Pearl Earring nie...Dit was heelwat beter. As jy dit wil kyk, dan verkieslik op 'n Sondagaand.

Imagine That - 5/10

Imagine That is seker nie 'n seuns kinderfliekie, maar tot 'n mate tog kykbaar. Jonger meisies sal baie daarvan hou. 

Saturday, January 30, 2010

Amelia - 4/10


Amelia handel oor die eerste vroulike vlieenier wat alleen oor die Atlantiese oseaan gevlieg het. Amelia was ook te sien in Night at the Museum: Battle of the Smithsonian. In hierdie rol was sy baie oulik deur Amy Adams vertolk as 'n regte sport. Ek en Bella het Amelia by Brooklyn Cinema Nouveau gaan kyk as deel van ons 13e huweliksherdenking vieringe...Ons het ook Sjinees gaan eet, sommer in Brooklyn se Hong Kong restaurant - dit was goed, maar nie so goed soos in die ou dae nie...dit is nou die kos, beslis nie die huwelik nie! Laasgenoemde raak net beter ;-)

Om terug te keer na Amelia, hoe kan mens nou se^, perfek uitgevoer, maar grensloos vervelend. Die akteurs vertolk hul rolle goed, die fotografie is volgens die boek, die kostuumwerk 100%, die vliegtuie sexy verby, maar die fliek het net nie vuur nie. Op Ingels: "Wonderfully, even superbly, executed, but absolutely boring". Ek sal dit glad nie aanbeveel nie, behalwe as jy 'n geskiedenislessie wil bywoon. 

The Ugly Truth - 5/10


Redelike tjiekfliek wat lekker ligte Vrydagaand vermaak bied. Dit is nie stroperig nie. Net jammer die girl is nie so mooi nie. O, en los maar liewers die kinders uit vir hierdie een, die fliek is baie eerlik oor die verskille mans en vroue... Saam met Bella op die bank.

Sunday, January 24, 2010

My Flixster Resensies

Ek het al my ou Flixster resensies na Blogger oorgedra - Ek hou lankal nie meer Flixster by nie, maar wil dit ook nie verloor nie. Al die flieks wat ek tussen 9 September 2007 en 28 April 2009 gesien het is daar gelys. Van die 412 punte wat ek toegeken het, het 229 resensies by.

Ek moes dit in 5 dele oordra:
  1. Deel I
  2. Deel II
  3. Deel III
  4. Deel IV
  5. Deel V
Nou kan ek ook makliker soek of ek al iets gesien het...

My gunsteling films op Flixster aangedui is:


1
As It Is in Heaven (Så som i himmelen)2003,  Unrated)
As It Is in Heaven (Så som i himmelen)
  
2
Blade Runner 1982,  R)
Blade Runner
3
The Life of David Gale 2003,  R)
The Life of David Gale
 
4
The English Patient 1996,  R)
The English Patient
5
La tigre e la neve (The Tiger and the Snow) 2006,  Unrated)
La tigre e la neve (The Tiger and the Snow)
  
6
Mozart and the Whale 2005,  PG-13)
Mozart and the Whale
  
7
Human Nature 2001,  R)
Human Nature
  
8
Eternal Sunshine Of The Spotless Mind2004,  R)
Eternal Sunshine Of The Spotless Mind
  
9
Lost In Translation 2003,  R)
Lost In Translation
  
10
The Incredibles 2004,  PG)
The Incredibles
 
11
Life Is Beautiful (La Vita è bella) 1998,  PG-13)
Life Is Beautiful (La Vita è bella)
  
12
Toy Story 1995,  G)
Toy Story
 
13
Femme Fatale 2002,  R)
Femme Fatale
  
14
Edward Scissorhands 1990,  PG-13)
Edward Scissorhands
  
15
Juno 2007,  PG-13)
Juno